Jy kyk na » Tuisblad » Admin » Alles Omtrent Ons

Alles Omtrent Ons

ALLES OOR ONS:

Die Sinodale Getuienisforum is ‘n vennootskapstruktuur tussen die NG Kerk Noordelike Sinode met 141 gemeentes, die NG Kerk Oostelike Sinode met 88 gemeentes en die VGKSA Noordelike Sinode met 134 gemeentes, met die doel om samewerking tussen gemeentes van die twee kerkverbande in ons streek van Noord en Oos te bevorder en te fasiliteer.   Hierdie samewerking word gesien as ‘n manier om iets van die eenheid te beleef en te versterk wat ons as Christelike kerke met ‘n gemeenskaplike gereformeerde belydenis en geskiedenis aan mekaar verbind.   In die proses van samewerking word daarna gestreef  om groter begrip en respek vir mekaar te kweek, die bediening van die jong kerk te ondersteun en te versterk, en ‘n platvorm  te skep waarin daar gesamentlik na die gemeenskap in nood uitgereik kan word. In hierdie proses leer ons by mekaar en groei ons geloof en verbintenis tot ons gemeenskaplike roeping.   ’n Kantoor word by die VGKSA Noord se kantore by die  Dienssentrum in Stormvoëlstraat, Waltloo, Pretoria, benut.

Die Sinodale Getuienisforum is ook daarop ingestel om deur middel van navorsing en studiestukke, inligting te versamel en te versprei oor die temas van armoedeverligting, die versterking van huwelike en gesinne, die bekamping en voorkoming van MIV en Vigs, en Christelike gemeenskapsontwikkeling.  Dit raak ook die sake van die vestiging en versterking van morele waardes en die bekamping van misdaad.

Met ons webwerf GetuienisForum.org.za poog ons daadwerklik om ‘n bydrae te lewer tot die verspreiding van inligting oor dit wat in gemeentes in ons streek gedoen word.  Deur ons webwerf versoek ons ook aktiewe bydraes en kommentaar van ons gemeentes.

No Comments »

Designed by HostingInSA.co.za | Sitemap