Jy kyk na » Tuisblad » Artikels » Oom Eddie Bruwer : Lewenskets

Oom Eddie Bruwer : Lewenskets

Ds Eduard Christian Daniël (Eddie) Bruwer

3 Februarie 1931 – 27 Desember 2008

 

Eddie Bruwer is op 3 Februarie 1931 te Wolmaransstad gebore waar sy pa die skoolhoof van ‘n plaasskooltjie was. Hy het dikwels vertel watter blywende indruk dit op hom gemaak het om te kon sien hoe die opvoedkundige werk van sy pa bygedra het daartoe dat eenvoudige, brandarm mense met harde werk uit die armoede kon ontsnap. Miskien het hierdie ervaring daartoe bygedra dat hy sy hele latere lewe ‘n groot deernis vir armes gehad het, en die geloof dat hulle nie so hoef te bly nie.

            Hy het die roeping gevoel om hom vir predikant te bekwaam. As onsekere plaasjapie het hy na Pretoria gekom om sy sewe jaar van teologiese studies (BA en Dipl in Teologie) te voltooi. Einde 1954 is hy gelegitimeer… nog voor hy 24 jaar oud was, en is spoedig in die gemeente Wonderboom-Suid in Pretoria bevestig. As ‘n oorspronklike denker was dit duidelik dat hy diepgaande teologies gevorm is. Hy het veral waardering gehad vir wyle prof GM Pellissier, wat ‘n stempel op talle predikante afgedruk het.

            Hy was gewillig om 4 jaar later (1959) deur die gemeente afgesonder te word om saam met sy vrou Marie (Maree) (met wie hy in 1957 getroud is) diep in die noordelike laeveld – by Bendstore aan die Klein Letaba (deesdae Giyani) – met ‘n sendingaksie te begin. Hier het Eddie hom op allerlei wyses onderskei. Deur ‘n rustige en respekvolle saamleef met die tradisionele Sjangaans het hy ‘n fyn aanvoeling en kennis van hulle taal en kultuur opgebou. Uit hulle lewenswysheid, gereflekteer in hulle spreekwoorde- en storieskat kon hy baie put. Hier het Eddie se insigte oor gemeenskapsontwikkeling verder gegroei, insigte wat later in sy invloedryke boek Beggars can be Choosers neerslag gevind het. Uit hierdie basiese sendingwerk van hom en sy medewerkers het ‘n model sendingstasie Nkhensani (genade) en ‘n inheemse gemeente gegroei. In 1964 kon hy as leraar van hierdie nuwe gemeente bevestig word. Sy 15 jare lange dienswerk in die laeveld het baie vrug gedra in die lewe van talle mense… mense wat tot aan die einde hom as hulle vader in die geloof beskou het.

            In 1974 word hy deur die NG Kerk in Noord-Transvaal beroep as Organiserende Sendingsekretaris. Benewens die baie komiteewerk het ds Eddie veral uitgereik na die (destyds) talle sendingwerkers in die veld en ook hier die mentor en rolmodel geword van ‘n geslag sendelinge (waaronder skrywer hiervan). Hiertoe het veral die personeel­konferensies op die gerestoureerde Emmarentia Geldenhuys Sendingsentrum bygedra. In hierdie tyd het hy baie te doen gehad met die totstandkoming van ISWEN (die Instituut vir Sendingwetenskaplike Navorsing) aan die Universiteit van Pretoria se Teologiese Fakulteit. Een van sy groot prestasies as sendingsekretaris was ook die stigting van KAN (Kerklike Aksie Noodhulp) tydens die ernstige droogtetyd van die 1980s. KAN was en is ‘n gesamentlike aksie van die NG Kerk en die NG Kerk in Afrika.

            In 1985 het KAN sy voltydse verantwoordelikheid geword. As Sekretaris van Toerusting en Diens van Barmhartigheid in die NGKA Noord-Transvaal het hy oor ‘n periode van 10 jaar verskeie KAN projekte van stapel gestuur, en sterk beginsels vir gemeentelike gemeenskapswerk gevestig. Nasionaal en internasionaal was sy insigte rigtinggewend. In ‘n verskeidenheid studiestukke, artikels en die bg. boek het hy op feitlik spreuke-agtige wyse die kerk en ontwikkelingspraktisyns uitgedaag om die armes ernstig te neem, en saam met hulle dinge te doen eerder as vir hulle.

            Ná sy aftrede in 1995 het die egpaar hulle op Dullstroom gaan vestig. Instede van hulle te onttrek en te rus, het ‘n nuwe era en diensterrein vir Eddie Bruwer aangebreek. Hy het spoedig betrokke geraak by die klein en verwaarloosde swart gemeente van die VGK. Dit was geen wonder dat Oom Eddie – soos almal hom geken het – op die plaaslike wykskomitee verkies is nie. Op hierdie manier het hy – nie sonder teenstand nie – heelwat vir die plaaslike gemeenskap kon vermag.

            Toe hulle later na Kestell in die Oos-Vrystaat verhuis het, was hy reeds daarvan oortuig dat betrokkenheid by die plaaslike regering baie belangrik was. Ook hier is hy spoedig op die wykskomitee verkies en kon hy help om hier ‘n model van ‘n funksio­ne­rende wykskomitee te ontwikkel wat baie ander dorpe hulle beny het.

            Dit was hier waar ‘n verdere gedagte in Eddie Bruwer se kop ryp geword het. Waarom net altyd werk om verligting van armoede te bring? Waarom net altyd hulpver­le­ning, diens van barmhartigheid? Moet armoede nie uitgewis word nie? Moet mense nie in staat gestel word om te ontkom aan die kultuur van armoede nie? Die middel – so het nou gemeen – was om die armes se rykdom te ontgin. Die gedagte is eers neergeskryf in ‘n standpuntstelling: The Poor Man’s Capital. Hierdie het uitgegroei tot ‘n organisasie wat genoem is Pela Nambo (“steek die rivier oor” in Tsonga). Die kloof tussen ryk en arm moes oorbrug word, die rivier tussen die formele (kapitalistiese) ekonomie en die informele (oorlewings-) ekonomie moes oorgesteek word. Eddie kon nog beleef hoedat ‘n sterk gemotiveerde groep mense (waaronder heelwat van sy “geestelike kinders”) hieraan gestalte begin gee het toe hy onverwags siek geword en op 27 Desember 2008 gesterf het, enkele weke nadat hy en Marie na Pretoria verhuis het.

            Eddie Bruwer was sterk geanker in sy geloof in die Almagtige God. Hy het self teen sy einde die Heidelbergse Kategismus gekwoteer: “My enigste troos in lewe en sterwe is dat ek met liggaam en siel, in lewe en dood nie aan myself nie, maar aan my getroue Saligmaker Jesus Christus behoort”. Maar hy het ook geweet: ” Niemand leef vir homself nie…” (Rm 14:7). Hy het ‘n lewe van diens geleef… aan sy God en sy naaste. Dit was gepas dat die leidende gedagte van sy laaste projek dié van die brug was, want hy was steeds ‘n brugfiguur. En kenmerkend van ‘n brug is dat daarop getrap word. Hy kon egter nooit die armes en verdruktes vergeet nie, maar het alles in werking gestel dat hulle ook ‘n volwaardige plek in die samelewing kan beklee. Dat hulle sy bemoeienis ook só verstaan het, was duidelik die dag van sy begrafnis toe mense van heinde en verre hulle laaste eer kom bewys het.

            Hy word oorleef deur sy vrou Marie, twee kinders, Etienne en Deleen, en ses kleinkinders.

 

Dons Kritzinger

Soortgelyke artikels:


Designed by HostingInSA.co.za | Sitemap