Betrokkenheid van Kerk by Bestryding van Misdaad

 

DIE BETROKKNHEID VAN DIE KERK IN DIE STRYD TEEN MISDAAD  -  STRATEGIE VIR GESAMENTLIKE AKSIE

1. TEOLOGIESE MOTIEWE

 

Vanuit ‘n gereformeerde Skrifbeskouing en ‘n koninkryksperspektief kan die volgende teologiese motiewe vir die kerk se betrokkenheid by die stryd teen misdaad onderskei word:

Die koninkryk van God en ‘n goeie samelewing

  • Geregtigheid as die leidende beginsel in die ordening van die samelewing
  • Die dekaloog, die liefdesgebod en die goue reël as norm vir medemenslike verhoudinge
  • Geloof en hoop – die reeds en die nog nie van die koninkryk van God
  • Liefde en ontferming -  vir swakkes en vir slagoffers
  • Deugde en morele waardes  -  eerlikheid, integriteit, respek – morele vorming en karakter
  • Genade en herstel  -  vir gevangenes

 

2. PRAKTIESE STAPPE VIR ‘N GESAMENTLIKE STRATEGIE

 

In die lig van ons apartheidsverlede met sy onreg,  die miskenning van menseregte en die geweld waarmee dit in stand gehou is en wat dit ontlok het, en die nuwe begin wat in 1994 (eintlik sedert 1990) met die aanbreek van ‘n demokratiese bestel gemaak is,  is dit ironies en hartseer dat die Menseregtekommissie ‘n tyd gelede ‘n studie oor die voortstuwende misdaadgolf in Suid-Afrika gedoen het en die stellige bewering gemaak het dat dieselfde menseregte en vryheid waarvoor so hard geveg is, nou deur misdaad bedreig word.

Korrupsie en bedrog, diefstal en huisbraak, dwelmsmokkelary, gewapende roof en voertuigkapings, aanrandings, geweld teen vroue en kinders, verkragtings, en in die afgelope tyd ook die ontvoering van kinders as seksslawe ruk gesinne en gemeenskappe uitmekaar.  Wanneer vryheid bandeloosheid word, is daar geen ware vryheid meer nie.

Wat kan die kerk doen om hierdie vlaag misdaad te help bekamp ?  Die volgende punte kan geïdentifiseer word:

 

Geestelik:

  • Gesamentlike gebedsaksies en verootmoediging voor God
  • Aktiewe evangelieverkondiging in elke gemeenskap, sodat gemeenskappe deur die krag van die evangelie getransformeer kan word
  • Christelike gemeenskapsontwikkeling en liefdesdiens om armoede te bestry en gemeenskappe op te hef
  • Die onderrig in en die bevordering van morele waardes wat met geloof in God gepaard gaan, veral gerig op die bou en beskerming van gesonde huwelike en gesinne

Teenoor owerhede:

  • Aktivisme, vreedsame protesaksies, petisies, profetiese openbare getuienis
  • Gesprekke tussen kerke (ekumenies) en regeringsinstansies

In plaaslike gemeenskappe:

  • Organiseer, fasiliteer en ondersteun buurtwag in samewerking met SAPD en Polisieforums
  • Pastorale sorg en traumaberading aan slagoffers – vestiging van traumasentrums

Teenoor gevangenes:

  • Gevangenesbediening, rehabilitasie en restoratiewe geregtigheid

3. GESAMENTLIKE BYEENKOMSTE

 

Bespreek onder leiding van bekwame fasiliteerders die volgende drie vrae:

 

  • Waar kom ons vandaan ? Narratief oor persoonlike ervarings van ou bedeling, oorgang na demokrasie, nuwe situasie, ens
  • Wat gaan nou aan ? Elkeen kyk na wat in sy/haar gemeenskap aan die gebeur is
  • Wat is die taak van die kerk ? Hoe kan ons dit gesamentlik en eendragtig doen ?

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!