GETUIENISFORUM NUUSBRIEF APRIL 2010

Opskrif 1
Die sosiaal-politieke omstandighede wat ons tans in ons land beleef, is nie juis bevorderlik vir die saak van samewerking tussen NG en VG-gemeentes nie, wat nog te sê vir versoening, eenheidsgesprekke en nasiebou. Baie witmense is diep onsteld en besorgd oor die verval van openbare dienste, korrupsie, verklarings oor die staat se planne ivm die “benutting” van plaasgrond, die gesprekke oor moontlike nasionalisering van myne, en growwe haatspraak. Dit het alles onheilspellende ondertone wat niks goeds vir ons jong demokrasie, vir ons ekonomiese welsyn en vir nasiebou inhou nie. Dit dui onder andere ook op toenemende rassepolarisasie asook groter druk op blankes as minderheidsgroep.
Die standpunte binne die Sinodale Getuienisforum oor die toekoms van ons Kerke in hierdie konteks stem ook nie noodwendig ooreen nie. Daar is steeds ‘n verwagting by die VGK-lede dat daar een of ander tyd gevorder kan word tot kerkeenheid. NG-lede is oor die algmeeen nie oortuig dat dit heilsaam en/of prakties haalbaar sal wees nie. Dit is nie moontlik om die bestaan van diep verskille en selfs onderlinge wantroue tussen ons kerke in hierdie verband te ontken nie.
Opskrif 2
Die wonder is egter dat ons ten spyte van hierdie verskille oor die afgelope paar jaar daarin geslaag het om binne die SGF tot ‘n verstandhouding te kom wat dit vir ons moontlik maak om met onderlinge respek en liefde saam te werk, en die toekoms rustig in God se hande te laat. Dit is telkens bemoedigend om ook ons swart en bruin kollegas se openlike negatiewe en afkeurende reaksies op die uitsprake van mnr Julius Malema te verneem. Dit is asof hulle uit hulle pad wil gaan om hulle so ver as moontlik van hom te distansieer. (Soos ons ons in die verlede van die optredes en gesindhede van mense soos mnr Eugene Terreblanche gedistansieer het.) Hulle erken ruiterlik dat hulle ook bekommerd en onsteld is ook baie dinge wat tans in die land aan die gang is. Die onlangse verklaring van die VGKSA se ASK het albei hierdie waarnemings bevestig. Lees die verklaring hier. Lees egter ook ‘n kritiese reaksie op die verklaring hier.
Verlede jaar het twee NG Ringe naamlik die Ring van Northam en die Ring van Pietpotgietersrus, geleentede geskep om saam met hul VGK-kollegas te vergader, saam te bid en saam te kuier. Sommige mag dit as onbeduidend of niksseggend afmaak, maar dit is ‘n praktiese manier om te werk aan die bou van medemenslike en kerklike verhoudinge. By die plaaslike getuienisforums van Kwena, Judea en Limpopo-Wes, asook op talle ander plekke waar formele samewerkingstrukture (nog) nie bestaan nie, word daar hartlik saamgewerk aan evangelisasie, uitreiking na skole, opleiding en toerusting van geestelike leiers en armoedeverligting. Talle VGK-gemeentes gaan gebuk onder die las van groot armoede en werkloosheid onder lidmate, veelvuldige wyke en dienspunte, langdurige leraarsvakatures, gebrekkige gemeente-administrasie, geboue wat instand gehou moet word, ens. Dit bied talle geleenthede vir NG Gemeentes om met ondersteunende dienswerk betrokke te raak.
Opskrif 3
Twee algemene waarnemings is toepaslik:
1. Dit bly steeds die mees praktiese, vrugbare en effektiewe manier om in ‘n swart gemeenskap betrokke te raak, nl om dit in vennootskap met ‘n VGK-gemeente te doen waarin goeie verhoudinge, wedersydse respek en gesamentlike eienaarskap die basis van samewerking en uitreiking na die gemeenskap vorm; en
2. Die Bybelse opdrag tot getuienis deur evangelieverkondiging en evangelisasie, asook Christelike liefdesdiens, in gemeenskap met ander gelowiges, het nie verander nie, ongeag ons omstandighede. Dit bly steeds ons roeping en ons voorreg om as medewerkers van God met diens en getuienis buite ons eie gemeentegrense besig te wees. Die veelvuldige en veelkantige nood van die samelewing roep om die goeie nuus van Jesus Christus wat deur sy volgelinge in die krag van die Gees en met praktiese liefde uitgedra word.

In Augustus verlede jaar is ‘n uiters geslaagde gesamentlike konferensie by die Emmerentia Geldenhuys kampterrein gehou oor die uitdagings en geleenthede wat interkulturele bedieninge aan ons stel. Dr Ryk van Velden van die Toerustingsburo vir Interkulturele Werk te Wellington het oa as spreker by die geleentheid opgetree. Lees die volledige lesings hier in Engels, en opsommings daarvan in Afrikaans hier.

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!