GEVANGENESBEARBEIDING – PREEK BY NG. GEMEENTE WITFIELD-WES
12 AUGUSTUS 2007.
1. STATISTIEK.
Gevangenisbevolking op 31 Maart 2007 : 162 300.
Vroue :2 410. Jeug: 606.
18 – 21 jaar: 12 213; 22 – 30 jaar: 49 112.
2. INLEIDING.
Ons is almal bewus van die vlaag van misdaad wat in ons land heers. Die meeste gesinne in ons land is al geraak deur een of ander vorm van misdaad. Dit geld ook vir gesinne in die Swart gemeenskap waar die epidemie waarskynlik groter afmetings aanneem as in die Blanke gemeenskap. Baie landsburgers het die land verlaat, omdat hulle bedreig voel en nie kans sien om hulle kinders aan al die gevare bloot te stel nie.
3. DIE ROL VAN DIE STAAT.
Bekamping van misdaad is primêr die Staat se verantwoordelikheid. Hulle doen dit basies op drie maniere:
1. Haal die misdadiger uit die gemeenskap uit.
2. Lê die misdadiger ‘n gepaste vonnis op.
3. Probeer om die misdadiger te rehabiliteer, om van hom/ haar ‘n nuttige landsburger te maak.
Opleiding in verskillende vaardighede word voorsien, asook skoling. op akademiese gebied.. Elke gevangenis beskik ook oor maatskaplike werkers en sielkundiges om om te sien na die maatskaplike en sielkundige behoeftes van die oortreders. Maar die Staat erken ook die rol wat godsdiens kan speel in die rehabilitasieproses van die misdadiger. Daarom staan die deure oop vir die Kerk om die Evangelie aan oortreders te bring. Die Staat het ook spesiale afdelings op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak om geestelike sorg in die gevangenisse te bestuur. Aan die hoof van geestelike sorg op nasionale vlak staan daar ‘n Direkteur. Die huidige Direkteur, ds. Hennie Human, is die vierde N.G. Kerkpredikant wat hierdie pos beklee in die afgelope ongeveer 40 jaar. Daar was slegs een direkteur van ‘n ander Kerkgenootskap vir ‘n kort periode in hierdie belangrike pos.
4. DIE KERK SE ROL.
Vir die Kerk gaan dit in die eerste plek om die KONINKRYK VAN GOD. Die Kerk loop in die voetspore van die Here Jesus ” om te soek en te red wat verlore is” ( Luk. 19 :10 ) Om die opdrag van die Meester uit te voer: ” Verkondig die Evangelie aan alle nasies, ook aan die stoutes onder die nasies. ( Mat. 28 :19 ). In Mat. 25 : 34 – 36 sê Jesus op die laaste dag by sy wederkoms sal Hy aan die geseëndes van die Vader sê : ” Ek was in die gevangenis en julle het na My toe gekom.”
Die groot vraag op almal se lippe is : Is daar vrug / resultate op al hierdie pogings van die Kerk en die Staat? Ek kan ongelukkig nie namens die Staat praat nie. As ek namens die Kerk moet antwoord, doen ek dit in die lig van Jesus se uitspraak in Mat. 7 :14 : “Die poort wat na die lewe lei, is nou, en die pad is smal, en die wat dit kry, is min.” Jesus het dit natuurlik gesê ten opsigte van die ganse mensdom, en nie net van die wetsoortreders nie. Maar dit is baie waar ten opsigte van die misdadigers. Die oorgrote meerderheid van mense in gevangenisse het hulle rug op God gedraai, en is ook deur die samelewing verwerp. En wanneer hy die dag die gevangenis verlaat, is dit uiters moeilik om weer in die samelewing aan te pas, want hy dra die stigma van ” ‘n tronkvoël ” Die tragiese is dat ‘n aansienlike persentasie van hulle in Christelike huise groot geword het, en met een of ander kerk ‘n konneksie het. Ek wil dit selfs waag om te sê dat feitlik almal in Suid-Afrikaanse gevangenisse al die Evangelie gehoor het. Maar hulle het self gekies om die breë weg te bewandel; in baie gevalle omdat hulle die verkeerde vriende gekies het.
Nou is die vraag : is dit die moeite en koste werd om soveel aandag aan sulke mense te gee.? Moet hulle nie maar aan hulle lot oorgelaat word om in hulle eie sous te braai nie? Moet die tronk se sleutel nie maar weggegooi word nie? Behalwe die uitsprake van Jesus, is daar ‘n teks in die Bybel wat my tussen die oë tref. Die apostel Paulus plaas vir Titus op die eiland Kreta om die Evangelie te verkondig, en dan sê hy ¨” Een van hulle eie profete het gesê : “Die Kretense is altyd leuenaars, ongediertes en lui vrate.” En dan voeg Paulus by : ” En hierdie getuienis is waar.” Die profeet wat dit gesê het, se naam was Epimenedes wat aan die noordelike oewer van Kreta gelewe het tussen die jare 630 en 500 VC. Epimenedes het ‘n bewonderaar gehad in die persoon van die Griekse filosoof Diogenes.(412 – 323 VC.) Volgens Diogenes was dit Epimenedes wat tydens ‘n besoek aan Athene, die Grieke aangeraai het om die toepaslike ( appropriate )God te aanbid. Toe het hulle die altaar gebou waarop offers gebring is aan die “onbekende God .” Tydens sy besoek aan Athene gebruik Paulus hierdie altaar as ‘n aanknopingspunt om die Evangelie aan die Grieke te verkondig.( Hand.17 :25 )
(Terloops : Diogenes was bekend as ‘n uiters pessimistiese, siniese mens. Eendag het hy, helder oordag, deur die strate van Athene geloop met ‘n skynende lamp. Toe aan hom gevra is wat hy doen, was sy antwoord: ” Ek soek na ‘n eerlike mens “. Alexander die Grote vra eendag vir hom wat hy vir hom kan doen. Sy antwoord was: ” Moet net nie tussen my en die son staan nie “) Epimenedes word ook deur die Griekse filosoof, Plato (427-327 VC.) beskrywe as ‘n ” divinely inspired man ”
Sy uitsprake oor sy eie mense kan dus ernstig opgeneem word.
Paulus dra kennis van hierdie verdoemende getuigskrif van Epimenedes oor die Kretense, en tog gaan hy en Titus na hierdie leuenaars, ongediertes en lui vrate, om aan hulle te gaan sê: ” God het ook vir julle so lief dat sy Seun, Jesus Christus, ook vir julle sondes aan die kruis gesterwe het.” En sowaar die wonderwerk vind plaas en sommige van hierdie afskuwelike Kretense kom tot bekering, en hulle leefwyse verander radikaal. ‘n Kerk word op Kreta geplant, en Paulus stel vir Titus aan as “leraar” van die gemeente.
Die Kerk stuur geestelike werkers in die gevangenisse in omdat ons glo dat Christus vir alle sondaars aan die kruis gesterwe het, en omdat ons glo in die almag van die Heilige Gees om die vuilste sondaar te wederbaar. Vir die Kerk in sy breë verband is gevangenesbearbeiding ‘n geloofsdaad, want die vrug is nie aldag sigbaar nie. Maar die geestelike werker in die gevangenis het die onbeskryflike voorreg om ‘n aanskouer te wees van God se reddende genade en krag in die lewens van sondaars.( Rom. 1 :16 )
Midde in hierdie massa van 162 300 is daar ‘n Kerk, ‘n gemeenskap van gelowiges wat soos brandhout uit die vuur geruk is. Hulle vorm weliswaar ‘n baie klein persentasie van die gevangenisbevolking, maar Goddank hulle is daar. En elkeen van hulle is ‘n wonderwerk van die Heilige Gees, net soos elkeen van ons wat ‘n wedergebore Christen is. Hulle lewens het handomkeer verander, jy kan sê, oornag. Hulle is innig lief vir God die Vader, en vir Jesus Christus hulle Verlosser, en die Heilige Gees wat vir hulle daagliks die krag gee om aan die geloof vas te hou, en om getuies te wees onder ‘n krom en verdraaide geslag, en om vervolging te verduur, want dit is ook daar. Hulle is baie lief vir die Bybel en gretig om meer te leer en te weet. Hulle is lief vir die gemeenskap van gelowiges en hulle is lief vir hulle medemens. Daar word gereeld ‘n spesiale byeenkoms gehou. Dan kom van die vrygelate Christene terug na die gevangenis om te kom getuig van hulle ervaring buite die gevangenis.
Statistiek wil dit hê dat ongeveer 70% misdadigers vir ‘n tweede en ‘n derde keer en selfs meer keer weer ‘n misdaad pleeg en in die gevangenis beland. Dan vra ek : ” Hoeveel wedergebore bekeerlinge beland vir ‘n tweede keer in die gevangenis? Daar bestaan uiteraard nie statistiek daaroor nie. Ek kan sonder vrees vir teëspraak sê : nie ‘n enkele een nie. ELKE MISDADIGER WAT IN DIE GEVANGENIS TOT BEKERING KOM, IS EEN MISDADIGER MINDER IN DIE SAMELEWING.
Ek sal graag van ‘n paar uitstaande gevalle vertel.
1. Die jong blanke man in Cala se gevangenis. ( 1955 ) Toe ek die oggend die gevangenis besoek, vind ek twee jong Blanke mans daar. Ek het vir hulle uit die Bybel gelees, en vir hulle verduidelik dat God vir hulle lief is. Maar daar was geen reaksie nie. Dit was so goed ek praat met ‘n muur. Die volgende Sondag het dit weer gebeur. Maandagoggend bel die sipier my en vra ek moet na die gevangenis kom. Toe vind ek die een jongman daar met ‘n Bybel in sy hand wat die sipier aan hom geleen het, en met trane in sy oë. Gedurende die nag het hy ‘n ontmoeting met die Here gehad, en hy was ‘n nuwe mens.
2. Die ontembare Xhosa gevangene in Grahamstad se gevangenis. ( 1976 ) Die sipier, majoor Kriek, bel my eendag en vra ek moet na die gevangenis toe kom. Daar is ‘n gevangene wat hulp nodig het.
Toe ek daar kom, vind ek ‘n Xhosaman in sy sel waar hy in eensame opsluiting is. Hy was van Port-Elizabeth se gevangenis na Grahamstad oorgeplaas omdat hulle in P.E. nie meer met hom kon huishou nie. Die opdrag was eensame opsluiting in ‘n enkelsel. Maar maj. Kriek het ‘n Xhosabybel in die sel geplaas. Die oortreder het geen ander leesstof of geselskap gehad nie. Hy het maar begin om uit te vind wat in hierdie Boek geskrywe staan. Die Heilige Gees het in sy hart gewerk, en hy het kragdadig tot bekering gekom.
3. Martin Mokudu en Johannes Nchabeleng in Zonderwater se gevangenis ( 1981 )
Martin Mokudu van Pietersburg het in hierdie gevangenis beland. Hier het hy die Evangelie gehoor en tot bekering gekom. Daarna was hy vol ywer om mede-gevangenes aan Christus voor te stel en vir hulle te vertel hoe Christus sy lewe verander het. Een van sy bekeerlinge was Johannes Nchabeleng. Hy was ongeletterd. Martin het hom geleer lees, met die Bybel as die enigste handboek. Toe Johannes kon lees en skrywe het hy ingeskrywe vir Bybelkorrespondensie- kursusse van Mema. Toe Johannes na ‘n paar jaar die gevangenis verlaat, was hy in besit van 6 sertifikate van kursusse wat hy geslaag het.
Die volgende aanhalings kom uit die Nuusbrief van die Forum vir Gevanenesbearbeiding ( Desember 2006):
4. Jabulani Tshoba in Zonderwater se gevangenis (2006 ) skryf : I write to thank God and express my gratitude to our beloved pastors, men who availed themselves when God said :” Whom shall I send,and who shall go for us?( Is. 6 : 8 ) Thank you pastors for going, especially to a place where most would not have gone- the prison. Thank you for sitting where we sat, getting involved with us and for listening to us. Some day Jesus will say to you : ” I was in prison and you came to visit Me ” Mat. 25 : 36 )
5. Mandlenkosi Tshabalala, Zonderwater 2006.
When I was outside I was not having a mind to go to church. But now Sunday is a very special day for me. I gain a plan of life. To me, I can even say that I thank God because of putting me in prison.
6. Jabulani Ngobeni, Zonderwater 2006 ( na sy ontslag).
I have joined the ‘Open Bible Ministry” I attend prayer meetings on Mondays and Bible Studies on Wednesdays, and Saturdays Singing Worshipping Team. By the help of God I will be ministering to the following schools on Mondays, Wednesdays and Fridays : Bronkhorstspruit Packland Private School,Chokoe Primary School and Chipa-Thabane High School.
HEBR. 13 : 3. DINK AAN DIE GEVANGENES ASOF JULLE SELF IN DIE GEVANGENIS IS.
DINK EN BID…….DINK EN GEE…….DINK EN GAAN.
Ds Hannes Venter (74)
BYDRAES: Betaal in by Dibukeng, ABSA tjekrek. nr. 030 280 180, en merk “gevangenes”. Stuur asb. e-pos aan dibukeng@absamail.co.za om bydrae te bevestig.


15 Januarie 2008 







No comments yet... Be the first to leave a reply!