Met Liefde My Broer 1: Persoonlike Getuienis: Pieter Prozesky

Met Liefde my Broer

 

1.

 

My God

 

Persoonlike Getuienis

 

Ek het in die tyd wat ek by Judea Getuienisforum en dan ook in my kontak met mense van die NG Kerk en VG Kerk baie geleer en tot oortuiging van verskeie waarhede gekom.

God is getrou en het elke mens lief. God het by vele geleenthede gehelp, gelei, voorsien, gered, getroos en beloon.  Ek kan getuig, daar is geen God soos Hy nie. Die Almagtige Koning van die hemel en die aarde. Sy genade is onbeskryflik en onverstaanbaar groot.

Jesus red. Ek kan getuig dat mense uit baie dieptes gered is. Baie mense kon van beperkings wegbreek. Baie mense se vooroordele teenoor ander mense word verander.

Jy moet die Heilige Gees vertrou. Die krag van die Heilige Gees moet gesoek en gevolg word.

Daar is liefde by soveel mense. Mense uit die wêreld sal hierdie liefde tussen mense uit verskillende kulture, agtergrond, tale en politiek nie verstaan nie. Ons kan met die liefde van Christus saam bou in ons kerke en land.

Respek is die sleutel tot die toekoms van ons mense. Respek vir ons verskille sluit die toekoms oop.

Bereidheid om vir God te werk, word ‘n seën. Geestelike groei is die resultaat van enige bediening, maak nie saak hoe nietig en onbelangrik jy dink dit is nie. Dis ‘n mite dat net mense wat tyd het, werk vir God se koninkryk kan doen. Almal kan ‘n bydrae maak en die gevolglike geestelike groei beleef.

Dit is ‘n voorreg om in God se diens te staan.

Onder die waarhede wat ek geleer het, is dat daar vir ons en ons kinders ‘n toekoms in die land is. By verskeie geleenthede het wat na onoorkomelike verskille gelyk het, verander in geleenthede waar mense met die liefde van Christus saamwerk en uitreik. Christus se liefde word groter as enige politieke oortuigings, persoonlike voorkeure of enige iets anders wat mense as belangrik beskou. Ek kan getuig dat Christus mense verander.

Die belangrikste waarheid wat ek beleef het, is die liefde en respek wat ek en my gesin deur die jare ontvang het. By nie een geleentheid, regtig nie een keer nie, het iemand van die VG Kerk of die ander mense met wie ek in kontak was, iets gesê of iets gedoen, wat nie van groot liefde en respek getuig nie. Selfs daar waar ek langs die pad mense rigting gevra het, het ek nooit enige negatiewe opmerkings of reaksie beleef nie.

Die rol van die kerk in Suid-Afrika moet nie onderskat word nie. Baie negatiwiteit teenoor die politiek bestaan by mense. Mense is ontnugter deurdat hulle verwagtings van politiek nie gerealiseer het nie. Dit skep ‘n ongelooflike geleentheid vir die kerk om betrokke by mense te raak wat soekend na sin in hulle lewens is.

Dit is ook so dat daar soms teleurstellings was, soos mense wat nie hulle verpligtinge gedoen het nie. Maar die teleurstellings is in mense. Die oorgrote meerderheid mense is getrou, het goeie bedoelings en deur die liefde van die Here in hulle harte, maak hulle groot verskille in verhoudings, hulle gemeentes en gemeenskappe.

Die ondersteuning van sekere mense het my altyd gemotiveer. My vrou Retha en seuns Wicus en Freddie het baie dae alleen gebly en moes baie Sondae sonder my kerk toe gaan. Met Retha se rug probleem het hulle ontsettend baie opgeoffer om dit moontlik te maak dat ek my werk kon doen. Hulle al drie het ook gehelp by konferensies en kampe. Ek is baie aan hulle verskuldig. Ek het ook groot ondersteuning van die eerste voorsitter van Judea Getuienisforum, dr Roelf Opperman gekry en sy ondersteuning, motivering en  vriendskap het ongelooflik baie vir my in my lewe beteken. Ds Peet Venter wat tans die voorsitter is, het uit sy pad gegaan om my en my gesin te ondersteun en altyd die werk so maklik moontlik gemaak.  Daar was so baie mense wat my ondersteun het, die bestuur van Judea Getuienisforum, mense wat altyd hulp gegee het, mense wat geskakel het om ons te verseker van hulle voorbidding en so baie wat opreg belang gestel het.

Aan God al die eer.

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!