Met Liefde My Broer 3: Voorberei vir My Roeping
3. Voorberei
Baie dinge wat in ons lewe gebeur, verstaan ons nie wanneer dit gebeur nie. Verseker sal ons dit nooit alles verstaan nie, maar later in ons lewe word baie dinge duidelik en verstaan ons beter. As ek nou terug dink aan my lewe, is daar baie duidelik dinge wat gebeur het waar ek glo God my voorberei het om saam met Judea Getuienisforum in sy koninkryk te werk. Ek is nou ook meer as ooit verseker dat God nie iemand roep as God hom nie voor berei het op die werk nie.
Van Swartmense geleer van my pa
Goeie en gesonde verhoudings is baie belangrik wanneer mense betrokke is. In my werk by Judea Getuienisforum is die verhouding met ander mense en spesifiek swart mense baie belangrik. Van kleins af is ek voorberei op hierdie verhoudings.
My pa Victor het my baie geleer van swartmense. Hy het groot geword in Zoeloeland waar hy Zoeloe kon praat voor hy Afrikaans kon praat. Hy het op ‘n plaas groot geword met Duitse ouers wat hulle streng groot gemaak het en ook baie streng met hulle werkers was.
My pa het later op die goudmyne gewerk waar hy in die hostelle werksaam was. Daar het al die mans wat op die myn gewerk het gewoon. In daardie dae het die myne mans van Malawi, Zimbabwe, Mosambiek, Botswana, Zoeloeland, Transkei en ander plekke binne Suid-Afrika na die myne gebring om te werk. In die hostelle het letterlik duisende mans volgens hulle stamme gewoon. Dit was om sover moontlik die vrede te bewaar aangesien daar min verdraagsaamheid tussen die stamme was.
Met my pa se groot word jare asook sy jare se werk op die myne, het hy swartmense geken soos niemand anders wat ek ken nie. Hy het altyd vir ons die volgende gesê oor verhoudings met swartmense: “Moet nooit vir hom wys jy is bang vir hom nie, behandel hom altyd met respek, wees altyd eerlik en regverdig met hulle, maak nie saak in watter omstandighede nie, dan sal hulle jou respekteer”. Ons praat hier van die sestiger en sewentiger toe apartheid omtrent alles was.
Prakties
‘n Bewys van die respek wat swartmense teenoor my pa gehad het was tydens een van die opstande by een van die hostelle waar hy gewerk het. Die probleme was hoofsaaklik tussen die Zoeloes en Xhosas. Daar was 14000 mans in die hostel wat slaags was. My pa het tussen die groepe gaan staan en hulle uitmekaar gehou. Hulle het te veel respek gehad om hom te beseer of om iets te doen terwyl hy daar was. Hy het met ongeveer 7000 mans aan elke kant tussen hulle bly staan tot die myn se sekuriteit opgedaag het. Die swartmense het mekaar met steenkool wat van die stoomketels gekom het, bo-oor my pa se kop gegooi. Nie een keer is hy getref nie. Die respek wat die mense vir my pa gehad het was groter as hulle aggressie en woede vir mekaar.
Ek het hierdie verhoudings wat hy met swartmense gehad het, prakties aan my eie lyf gevoel. Ek was Hoofbestuurder van ‘n maatskappy Lebnor Foods in Potgietersrus (nou Mokopane). Dit was in die tyd toe Chris Hani vermoor is en die werkers gestaak het. Drie swart mans het kom werk. ‘n Ander werker, die vakbond verteenwoordiger het gedreig om hulle dood te maak omdat hulle kom werk het. Die persoon is aangekla en dissiplinêr verhoor en is ontslaan.
Die volgende oggend word ek na die fabriek geroep omdat die werkers weier om te werk en eis dat die afgedankte persoon weer aangestel moet word. Daar was meer as 300 mense in die fabriek. Ek het tussen hulle in gestap. Hulle het op my geskree en was nogal aggressief. Ek kom toe agter dat ek alleen tussen hulle is, daar was geen ander blanke in sig nie. Toe weet ek, hanteer hierdie mense met respek, maar moenie dat hulle agterkom hoe bang jy is nie. Ek het besef dat in hierdie gemaal en lawaai iemand my maklik met ‘n mes of iets kan steek en dit het my bekommerd gemaak. Ek erken toe die werkers se reg om nie te wil werk nie, maar versoek hulle om uit die fabriek te gaan, dan sal ek buite met hulle praat. Ek was bang hulle beskadig die toerusting in die fabriek, wat miljoene rand werd was. Hulle het geweier en die heraanstelling van die man geëis. Ek vra toe dat hulle vier mense kies met wie ek kon praat aangesien dit onmoontlik is om met 300 mense gelyk te praat. Ook hierdie voorstel was nie aanvaarbaar nie.
Toe besef ek dat iets meer drasties nodig is. Ek sal die polisie bel om hulle met traangas uit die fabriek te jaag. Die werkers het gesê dat ek nie sal waag om dit te doen nie. Die produksiebestuurder se kantoor het ‘n groot venster gehad wat oor die fabriek uitgekyk het en ek het daar gaan sit Die werkers kon my dus sien. Ek tel die telefoon op en begin skakel, maar weet nie wat die nommer is nie. Terwyl die geskree nog voortgaan, kom vra een van die ander vakbond verteenwoordigers dat ek nie die polisie moet bel nie, hy sal met die mense praat. Ek sê toe dat hy ‘n minuut het. Die werkers skree op hom sodat hy nie met hulle kan praat nie. Ek tel weer die telefoon op en weer kom vra die man vir nog ‘n kans. Hierdie keer luister hulle na hom en begin stadig weg beweeg na hulle werkplekke toe. Ek reël toe die vergadering met hulle vier afgevaardigdes vir die middag 3 uur. Toe was die gemoedere rustiger en kon ons die saak bespreek en afhandel. Daar was nooit weer probleme met die werkers terwyl ek vir Lebnor gewerk het nie.
My ouers het ook baie van die respek geleef. Ek het ‘n drywer wat vir my gewerk het, Thomas Kekana na my ouers gestuur om iets te gaan oplaai. Thomas het altyd baie vroeg gery en was reeds baie vroeg die oggend by my ouers. Hulle het hom ingenooi om saam met hulle by die tafel te sit en die ontbyt wat my ma gemaak het te eet. Die uitdrukking op Thomas se gesig toe hy my vertel het van die ontbyt sal ek nooit vergeet nie. Sy eerste woorde was:” Here, hulle het my saam met hulle aan die tafel laat sit en ek het dieselfde kos as hulle geëet”. Dit was tipies van hoe ons geleer was.
Ek het in my omgang met swart mense oortuig geraak dat hulle ‘n sesde sintuig ontwikkel het as gevolg van apartheid. Swart mense weet wanneer ‘n blanke na hulle kom met ‘n verskuilde agenda en nie eerlik is nie.
Die eerlikheid en respek vir alle ander mense is vir my nog steeds ononderhandelbaar.
Voorberei
Dit was ‘n gewone Sondagoggend. Ek was ‘n jong ouderling, so 30 jaar oud. Alhoewel ek in die Suid gemeente was, het ons kerk gehou in die moedergemeente, want ons het nog nie ‘n eie kerk gebou gehad nie. Terwyl ek in die konsistorie sit, kom Roelf Opperman en vertel dat die Pieterse gesin wat in my wyk woon, Koos en Nellie, se jongste dogter die vorige dag in ‘n skiet ongeluk dood is. Ek moet asseblief na hulle toe gaan. Die bloed het uit my kop verdwyn en ek was verboureerd. Wat sê ek vir die mense?
Van die erediens kon ek nie veel onthou nie, behalwe die benoudheid wat ek gevoel het oor die mense. Na die erediens ry ek huis toe en vertel vir Retha dat ek nie na die mense sal kan gaan nie. Ek is nie voorbereid op iets soos hierdie nie. Wat sê mens vir hulle. Vir Retha was die saak eenvoudig. “Jy het nie ‘n keuse nie, jy het belowe om dit te doen toe jy ouderling geword het”. Sy was reg.
Die paar honderd meter na hulle huis was een groot gebed, meer soos ‘n smeek, God moet my help. Ek weet nie wat ek gaan doen nie.
Ek het die dogter nie self geken nie, maar geweet sy was 20 of 21, en ongeveer 6 maande getroud.
By die Pieterse se huis was daar baie mense. Hulle ander dogter, familie, vriende en bure. Die emosie en hartseer was baie erg. Baie vrae het in die lug bly hang omdat niemand eintlik nog geweet het wat gebeur het nie.
Ek het verwonderd oor die Heilige Gees uit daardie huis gestap. Die familie het my tyd saam met Koos en Nellie gegee en ons kon praat oor alles. Ek het die invloed van die Heilige Gees so werklik beleef dat dit eintlik vir my ongelooflik was. Dit was amper of dit nie ek was wat daar gepraat het nie. Die werklikheid van wat daardie dag met my gebeur het, sou eers later by my registreer. Dit was ‘n geestelike belewenis sonder vergelyke tot op daardie stadium van my lewe.
Ek het in die tyd na hulle dogter se dood ‘n lang pad saam met Koos en Nellie geloop. Ek het gereeld na hulle toe gegaan in die weke na die begrafnis en dit was weereens vir my ‘n belewenis om saam met hulle hulle genesing te beleef. Ek onthou hoe hulle gebid het vir hulle skoonseun, want hy het baie swaar gekry. Ek onthou hou hulle lewens oor ‘n lang tyd na normaal terug gekeer het. Een van die groot oomblikke wat my altyd by my sal bly, is die dag toe hulle so opgewonde was oor hulle skoonseun wat sy nuwe vriendin aan hulle kom voorstel het.
Dinge gebeur in enige mens se lewe met ‘n doel. Ek het hier een groot waarheid geleer. Vertrou die Heilige Gees. Ek het by vele geleenthede waar ek iemand moes gaan sien, gevra dat die Heilige Gees my sal lei soos in daardie tyd.
Ek glo dat hierdie gebeure en ondervinding deel was van God se plan met wat Hy vir my lewe bedoel het.
Die Here is getrou
‘n Groep lidmate het die Getroue Getuie kursus by ons gemeente gedoen. Die laaste aand van die kursus moes ons uitgaan en dit wat ons geleer het gaan toepas. Terwyl ander pare mense wat kerklos was of soortgelyke situasies, het ek ‘n ander opdrag gekry. Ek en Jakob Stroebel, ‘n veearts, was saam in ‘n groep.
Die mense wat ons moes besoek het vroeër daardie week hulle seun van 11 begrawe. Hulle was mense wat aan geen kerk behoort het nie en het een van ons predikante gevra om die seuntjie te begrawe.
Op pad na die mense het ek en Jakob gepraat oor wat ons vir die mense gaan sê. Ons het ooreengekom om die leiding van die Heilige Gees te vra en ons daaraan te onderwerp.
Die mense het in ‘n klein huis gewoon en was duidelik arm. Die vrou het ons ingenooi nadat ons onsself voorgestel het. Die man wat heelwat ouer was as sy vrou, het voor die televisie bly sit, so met sy hemp opgeknoop. Op ons vraag of ons met hulle kan praat het die man geantwoord, “Julle kan maar met my vrou praat. Ek het al ‘n kind uit ‘n vorige huwelik verloor, so ek weet presies hoe dit voel”. Hy het nooit gedurende ons besoek sy oë van die televisie afgehaal nie. Hy het net somtyds tussenin aanmerkings gemaak.
Die vrou het ons vertel wat gebeur het, dat die seun met longontsteking in die hospitaal was maar dat hy gesond was. Die oggend waarop hy weer sou skool toe gaan, toe sy hom wou wakker maak, het sy hom dood op sy kamer vloer gekry.
Sy ma het vir ons foto’s gewys. Al foto’s wat sy van haar kind gehad het, was een skoolfoto en verder was dit van die begrafnis. Foto’s van die oop kis saam met sy sussies en die begrafnis self.
Net voor ons loop wys sy ma vir ons ‘n papier wat sy in sy kamer gekry het na sy dood. Die foliobladsy is in die lengte in die helfte gevou. Orals op die buitekant was hartjies geteken. Binne-in elke hartjie was ‘n kruis. Aan die binnekant was die woorde “Ek gaan blomme pluk in die veld, die blomme is wit” geskryf.
Ek was hierna oortuig dat hierdie kind, wat nooit aan enige kerk of godsdiens blootgestel was nie, nie alleen was toe hy gesterf het nie.
Ons was na die besoek baie bewus van die leiding van die Heilige Gees wat ons beleef het binne-in die huis. Na ons besoek en met die ondersteuning van ander lidmate, het die vrou en kinders gereeld kerk toe gekom en was die kinders ook in die Sondagskool.
Die Here het weereens sy beloftes nagekom om ons nie alleen te laat wanneer ons vra vir sy hulp nie.
God is altyd orals
Baie keer voel mens alleen. Sommer verlate. Soms moet God ons ‘n ondervinding laat beleef om te weet dat ons nooit alleen is nie. Terwyl ek baie duisende kilometers alleen gery het terwyl ek met Judea se werk besig was, het ek baie gedink aan een spesifieke gebeurtenis wat my verseker het dat ons nooit alleen is nie.
Ek het Rusland op verskeie geleenthede besoek op sake reise. Op een so reis het ek die ongelooflikste geestelike belewenis gehad.
Ek het die oggend in Moskou aangekom vir ‘n besoek aan ‘n voedsel skou. Die skou is in die binnenshuise stadion wat vir die Olimpiese spele (wat deur die Amerikaners geboikot is) gebou is, gehou. Ek kan onthou dat dit 70000 mense kon huisves en enige sport van sokker tot yshokkie tot tennis is daar gespeel.
Die aand nadat die skou klaar was het ek saam met my gashere Don en Vasily, na hulle motor gestap. Dit het gesneeu en was bitter koud. Naby die motor het Don en Vasily iets onthou wat hulle moes saamneem. Hulle vra toe dat ek sommer daar in die parkeer terrein vir hulle wag. Terwyl ek wag kom ek agter dat ek die enigste mens daar is. Niemand anders is in sig nie. Terwyl ek so moeg en koud alleen tussen die letterlik duisende motors staan, hoor ek skielik die harde gebede van die Moslems. Ek word toe bewus van die moskee wat reg langs die stadion se parkeer terrein staan. Hier het ek intens bewus geword van die grootsheid van die God wat ek aanbid. Ek het bewus geword dat al is ek daar alleen in ‘n vreemde land, God altyd by ons is, ons kan dieselfde God as by die huis aanbid, dat ek in Afrikaans kan bid en dat ek enige tyd kan bid. Ek hoef nie vir sekere tye te wag nie.
Ek kon hierdie insident al baie as voorbeeld gebruik. Dit motiveer my nog steeds elke dag in alles wat ek doen.
God se koninkryk is orals waar ek en ander Christene is.
My ‘African Brother’
Klein dingetjies gebeur soms in ons lewens wat nie veel beteken op daardie oomblik nie. Eers later het die volgende gebeure by my ingesink en ek die werklike waarde daarvan verstaan het.
Gedurende ‘n besoek aan Kenia het my vriend, Cornelius Muthuri my na verskeie besienswaardighede geneem. Een van die plekke was die ‘Great Rift Valley’. Dit is ‘n antieke rivier wat ‘n vallei van ongeveer 100 km breed gevorm het, wat in Libanon ontspring het en uitgemond het in Mosambiek.
By ‘n stalletjie waar aandenkings verkoop word het Cornelius gestop sodat ek kon kyk na die aandenkings. Die man het my gegroet met die hand en onmiddellik gevra waar ek vandaan kom. Nadat ek aan hom gesê het dat ek uit Suid-Afrika kom het hy weer my hand gevat en gesê: “So we are African Brothers”. Ek het dit bevestig en rond gekyk terwyl die man my vertel dat hy ‘n webblad en e-pos het (die eerste ou wat ‘n stalletjie langs die pad het met ‘n web adres). Ek kon hom per e-pos laat weet wat ek soek of op sy webblad kyk indien ek later van sy produkte wou koop. Ek het ‘n paar items uitgesoek en hy het my pryse gekwoteer. Dit was vir my nogal duur. Dis toe dat Cornelius, wat nog niks gesê het nie, met die man in hulle taal begin praat het. Na ‘n kort gesprek vertel die man my dat ek spesiale pryse op sy produkte kan kry. Die pryse val toe sommer met meer as die helfte.
Nadat ek ‘n paar produkte gekoop het, klim ek en Cornelius in die motor en terwyl ons weg ry vra ek Cornelius wat hy vir die man gesê het dat die pryse so drasties gedaal het. Sy antwoord was: “I told him, you say that he is your African brother, you don’t treat your Afican brother like this. You don’t cheat him like that”.
Ek het baie aan hierdie woorde gedink, aan hoe behandel ons ‘African Brothers’ mekaar.
Cornelius Muthuri
God stuur baie keer mense op ons pad om ons iets te leer, of om soms net weer herinner te word aan wat ons lankal geweet het.
Gedurende 1999 het ek ‘n kursus in Amerika gedoen waar mense van 16 lande deur die VSA regering genooi is om die soja voedsel industrie te bestudeer.
Saam op die kursus was ‘n Keniaan met die naam Cornelius Muthuri. Ons het in die paar weke goeie vriende geword. Daar is twee dinge van Cornelius wat ek altyd sal onthou, sy vriendelike geaardheid en die spontane manier waarop hy getuig het van sy christenskap. Cornelius het nooit teruggedeins om almal te laat verstaan dat sy christenskap vir hom baie belangrik was. Hy het selfs sonder om te skroom met die mense van Indië en Bangladesh oor sy geloof gepraat.
Hy was sedert die ontmoeting verskeie keer in Suid-Afrika waar ek hom na al sy afsprake geneem het. Ons het ook besigheid gedoen en die eerlikheid waarmee Cornelius die transaksies gedoen het getuig van sy lewe.
Ek was later deur die Amerikaners genooi om by ‘n internasionale konferensie in Nairobi te praat. Tydens my verblyf daar het ek een aand by Corneluis en sy gesin gaan eet. Dit was ‘n baie aangename geleentheid en ek gesien dat Cornelius se gesin sy waardes en lewe deel. Al woon hulle in ‘n baie mooi huis, het hulle die mooiste gesindheid teenoor my openbaar, al was ek ‘n ‘Mashungu’ (wit man). Tydens Retha se rugoperasies het Cornelius my altyd verseker dat hulle vir haar bid.
My verhouding met Cornelius en sy gesindheid teenoor my het my weer duidelik laat verstaan dat christenskap en vriendskap tussen mense van verskillende rasse en lande, geen grense ken nie.


15 Mei 2008 







No comments yet... Be the first to leave a reply!