Met Liefde My Broer 4: Verhoudings

4.

Verhoudings

Goeie verhoudings is gelyk aan respek. Daar is geen twyfel daaroor nie. Terwyl ek altyd probeer het om met die grootste respek teenoor die mense met wie ek in aanraking gekom het, op te tree, het ek nooit by enige geleentheid nie die grootste respek van die mense in die VG Kerk gekry nie. Ek het nooit gewonder oor die mense se bedoelings nie. Ek kan net getuig van die liefde en respek wat ek en my gesin van al die mense, sonder uitsondering. ontvang het

Verhoudings en respek

By verskeie geleenthede is die gesindheid van mense bewys. Ons het al baie saam geëet. Daar was altyd vir my ‘n mes en vurk voorsien om te eet. Al die ander mense eet met hulle hande. Ek het dit altyd as ‘n teken van groot respek beleef dat daar nie van my verwag is om met my hande te eet nie. Dit was ook ‘n teken van respek teenoor my kultuur. Daar word ook glad nie geëet voordat ek my kos het en gereed is om te eet nie.

Sulke respek kan nie anders as met respek beantwoord word nie.

Ek het tot die slotsom gekom dat ons een kan wees in ons geloof, een kan wees in ons aanbidding, een kan wees in ons land. Ek dink die probleem is dat as iemand anders is as ek, word dit moeilik om daardie persoon te aanvaar.

As ek respek het vir die ander persoon se kultuur, gewoontes, taal en mens wees, sal baie persepsies wat in ons land bestaan, verdwyn.

Gebede vir Retha

My vrou Retha moes vir ‘n groot rugoperasie hospitaal toe gaan. Sy het geweldig pyn verduur en die spesialis het vasgestel dat daar nie ‘n keuse is nie. Sy kon verlam raak as sy nie die operasie ondergaan nie.

Soos dit altyd gaan wanneer ek by mense kom, word na die welstand van my en my gesin gevra. Meestal moet ek een vir een van my gesin vertel hoe dit gaan. Eerste hoe dit met my gaan, dan met Retha, dan hoe dit met Wicus en dan hoe dit met Freddie gaan. Almal word by die naam gevra. Ek het vertel van die operasie wat Retha moet ondergaan.

Ek kan nie onthou hoeveel oproepe ek en Retha ontvang het nie. Daar het onder andere mense gebel wat ek verseker geweet het ek nie van die operasie vertel het nie. Ek vra toe waar het hulle gehoor van Retha se operasie. Toe hoor ons dat ds Jopi Makgae gery het met sy kar na verskeie erediens punte en gevra dat daar spesifiek vir Retha voorbidding gedoen word vir die operasie. Dit het ons baie diep geraak dat Jopi soveel moeite vir ons gedoen het.

Terwyl Retha by die huis aangesterk het na die operasie, het verskeie mense kom kyk hoe dit gaan. Ander het gebel en was so bly as ek hulle kon sê dat dit beter gaan.

Hierdie is net nog ‘n bewys van die liefde wat ek en my gesin van die mense in die VG Kerk ontvang. Dit laat ons baie keer sonder woorde. Ek glo baie mense dink ons oordryf as ons hierdie dinge vertel, want daar is nog baie persepsies wat oorkom moet word.

My kinders?

Terwyl die bou van die kerk by Sandsloot aan die gang was, het ek verskeie besoekers saam geneem. Die ouderling Jacob se vrou het altyd my met dieselfde vraag gegroet. “Hoe gaan dit met my kinders?” My antwoord was dan gewoonlik: “Hulle is baie stout, jy moet hulle kom haal”

Vir van die besoekers was dit nie altyd duidelik wat aan die gang was nie. Die mense van die VG Kerk het altyd my kinders aanvaar en hulle met dieselfde respek behandel as wat hulle my en Retha behandel het. Wicus en Freddie het hulle ook met respek behandel en waar nodig hulle as Oom en Tannie aangespreek.

Jacob en sy vrou het geweet dat my kinders, veral Freddie gek is oor koejawels. Elke keer wat ek ‘n bottel ingemaakte koejawels gekry het, is dit duidelik gemaak dat dit vir “my kinders” is.

Dit is moontlik om goeie verhoudings met alle ander mense te handhaaf.

‘n Nuwe dominee vir Potgietersrus Gemeente

Goeie verhoudings is ook meer as persoonlik. Dit kan ook meer formeel wees wanneer daar met groepe soos gemeentes gewerk word. Goeie verhoudings met gemeentes is ook vir my belangrik en bestaan.

Die VGK Gemeente Potgietersrus wou ‘n predikant beroep. Hulle het my gevra om hulle te help. Ons gemeente was net deur die proses om ‘n predikant te beroep en hulle het gevra dat ek moet hand bysit. Ek het ‘n vraelys saam gestel wat hulle vertaal het en aan die 3 aansoekers wat op hulle kortlys was gegee het. Hulle het die vorms vir my gegee en ek moes op die inligting daarin ‘n aanbeveling maak. Hulle het intussen die 3 kandidate laat preek en met hulle onderhoude gevoer, ek was nie daar nie want ek sou nie verstaan nie. Ons het ‘n vergadering gehou waar ek my aanbeveling gemaak het. Dit was dieselfde persoon wat hulle na aanleiding van die preke en onderhoude ook aanbeveel het.

Hulle het toe vir Stoffel Makulubele beroep. Hy was van die Noord-Kaap en het ‘n beroep dieselfde tyd na ‘n ander gemeente daar ontvang. Hy het gelukkig die beroep na Potgietersrus Gemeente aanvaar.

Dit wat toe gevolg het was vir my ‘n bewys dat die verhoudings waaraan ek gewerk het, veranderings begin bring het. Die gemeente het gevra dat een van die blanke NG predikante die nuwe dominee kom bevestig. Ds Peet Venter was beskikbaar.

Die oggend van die bevestiging was daar meer as 30 predikante van die VG Kerk teenwoordig. Die prediking is deur Prof Thias Kgatla, wat later die VG Kerk se Algemene Sinode se Moderator geword het, gedoen. Die feit dat hulle in hierdie omstandighede gevra het dat een van die NG Kerk se predikante die bevestiging doen was vir my baie betekenisvol.

Die bevestiging was ‘n baie mooi seremonie. Dit was baie mooi deur Peet gedoen. Ek onthou dat dit nogal ‘n snaakse gesig was. Peet Venter is ‘n man van by die 2 meter, en Stoffel is baie klein en lig gebou. Hier staan die groot man en sê aan die kleiner man: “Stoffel Makulubele, belowe jy….” Ek dink onmiddellik: Jy het nie ‘n keuse as so groot man dit vir jou sê nie.

Ek en Stoffel het goeie vriende geword. Hy is ‘n baie goeie predikant wat later in Nederland met ‘n beurs gaan verder studeer het.

Restaurant in Bakenberg

Eet is ‘n baie belangrike deel van enige byeenkoms saam met die lidmate van die VG Kerk. Ek het baie werkswinkels op Saterdae aangebied en middagete was altyd die verantwoordelikheid van die gemeente waar die werkswinkel gehou is. Alhoewel ek ‘n baie sensitiewe maag het, het ek altyd saam geëet, en nog nooit enige gevolge van die kos gehad nie. Inteendeel, die kos is altyd smaaklik voorberei en ek het die etes altyd baie geniet.

Een Saterdag het ek ‘n werkswinkel by George Masebe hospitaal in Bakenberg gehou. Die hospitaal en kerk is ‘n ou sending hospitaal wat deur NG Kerk sendelinge gebou is.

Gewoonlik ruik ‘n mens die kos wat buite op vure gemaak word baie vinnig en dan vra ek altyd dat hulle moet sê wanneer die kos reg sal wees, sodat ons kan breek vir middagete. Die spesifieke dag ruik ek niks en vra ook eerder niks. Op ‘n stadium vra iemand wanneer ons dan gaan eet. Ek sê dat as die kos reg is kan ons gaan eet. Hulle antwoord dat ons die dag in ‘n restaurant kan gaan eet en of ek saam kom. Natuurlik gaan ek saam. Ons stap by die hospitaal terrein uit en in die grondpad af.

Na ongeveer 15 minute se stap kom ons voor wat ek ken as ‘n sjebien, met ander woorde ‘n kroeg met al die Castle en ander advertensies. Die musiek speel baie hard binne en ek hoor die mense binne lag en praat.

Ek word vriendelik gevra om buite te wag. Saam met my wag 2 ouderlinge buite terwyl die ander almal die restaurant in is. Skielik word die musiek stil, die mense is stil en toe begin die mense, meestal jongmense uit die restaurant kom. Na ‘n paar minute word ek ingenooi. Binne is dit seker soos ‘n tipiese kroeg lyk. Yskaste met drank en koeldrank, die dak is swart van rook en ons gaan sit by die staaltafels en stoele. Ek merk toe op dat daar buiten die drank in die yskaste, geen drank of glase gesien kan word nie. Daar is ook geen musiek meer nie. Die ‘pool’ tafels staan nog soos die spelers dit gelos het.

Op die spyskaart, “Beef or Chicken”. Ek bestel die beesvleis. By elke tafel sit 6 persone. Op elke tafel word ‘n 2 liter Coke met 6 glase neergesit. Nie lank nie of die kos word ingebring. Nadat almal kos gekry het word die seën gevra. Net toe almal wil begin eet, kom hulle agter dat ek nie ‘n mes en vurk het nie. Daar word vinnig gereël en ‘n mes en vurk van die eienaar van die restaurant se huis gehaal. Almal sit nou en wag. Niemand eet voordat ek ‘n mes en vurk het om te eet nie. Terwyl almal sit en wag hoor ek die ander mense wat eers binne was buite praat en lag. Hulle klink nie kwaad omdat die kerk hulle ‘uitgegooi’ het nie. Met die mes en vurk terug kon ons eet aan die pap en vleis.

Toe die ete verby is, bedank ek die mense en stap saam met die ander na buite. Onmiddellik begin die musiek weer en stroom almal weer na binne.

Die hele ete en die manier het weer herinner dat hierdie mense my altyd met groot respek hanteer het. Hulle wou nie dat ek met my hande eet nie, en self het hulle nie geëet voordat ek kon eet nie.

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!