Met Liefde My Broer 5: God se Mense
5.
God se Mense
God gebruik mense vir Sy werk op aarde. Die wonder van God is dat Hy altyd daardie mense voorsien. Mense met ‘n passie vir God se kinders, mense wat ‘n verskil maak waar hulle kom.
Mense met harte van goud
Ek het heelwat mense met harte van goud ontmoet terwyl ek by die kerk betrokke was. Een so mens is Tannie Corrie Labuschagne. Ek moet haar passie met ander deel.
Tannie Corrie is lankal afgetree en het by baie kampe in die NG sowel as VG Kerke kos gemaak. Sy het die kos gemaak tydens die jeugkamp waar ons vir 120 mense gereed gemaak het en waar meer as 200 mense opgedaag het. Die kamp is by Appingendam gehou, 50 km buite Potgietersrus.
Ek en Tannie Corrie het die Vrydag van die kamp soos altyd by die Fruit & Veg City op Potgietersrus gaan groente haal. Ons het altyd by die eienaars Kobus en Ilse Bekker die groente wat van die rakke afgehaal is, geskenk gekry. Dit het niks makeer nie. Hulle het net gevoel dit is nie meer vars genoeg om te verkoop nie. Op die spesifieke dag het ons ontsettend baie groente gekry. Ons het alles gevat al was dit meer as wat ons gedink het nodig sal wees.
Gideon en Gertruida van den Berg het saam gegaan om Tannie Corrie met die kosmaak te help. Ons moes alles na die kamp saam neem. Van die gasstoof en potte en alles om die kos te maak. Alles was beplan vir 120 mense.
Die Vrydag nag het Tannie Corrie teen 2.00 Saterdag oggend almal klaar kos gegee. Sy het toe begin om die volgende dag se kos voor te berei. Sy het ‘n lys gemaak van wat nodig sou wees om almal die naweek lank kos te gee. Dit was baie. Leon Vermaak, ‘n vriend wat baie sterk Judea se werk ondersteun het, sou die Saterdag vir die dag ons kom besoek het. Ek stuur toe ‘n SMS dat hy nie moet ry voordat hy my gebel het nie. Ek SMS hom later die lys van kos wat ons nog nodig het. Ek sal hom ‘n tjek gee vir die kostes. Later die oggend sleep Leon se Camry met al die kos by die kampterrein in.
Tot na middagete het Tannie Corrie nog niks geslaap nie. Die stoof het te min plate en daar is in elk geval te min potte. So moet daar in 3 potte op ‘n slag pap gekook word, uitgegooi en dan word weer 3 potte pap gemaak. Dan word daar 3 potte vleis gemaak, uitgegooi en weer 3 potte met vleis gemaak. Dan word die ander kos soos groente gemaak. ‘n Nagmerrie. Die eerste kans wat Tannie Corrie kry om te slaap is Saterdag middag. Net vir ‘n kort tydjie.
Die Saterdag aand sê Tannie Corrie dat ek haar nie weer moet vra om kos te maak vir ‘n kamp nie. Na ete Saterdagaand word daar weer onmiddellik begin om vir die Sondag oggend kos te maak. Weer is daar bitter min slaap vir tannie Corrie
Met al die gesukkel met die kos was die kos nog baie lekker en was daar heelwat komplimente van die groot groep.
Die Sondag oggend na die erediens oorhandig die groep ‘n geskenk aan die mense wat gehelp het. Tannie Corrie kry sjokolade. Toe sing die groep vir haar in Afrikaans die liedjie ‘Ons sê baie baie dankie’ Tannie Corrie kry trane in haar oë.
Nie lank na die kamp kry ek Tannie Corrie by die kerk. Ek moet net sê wanneer sy weer kan help met kos maak vir ‘n kamp.
Tannie Corrie het later Louis Trichardt toe verhuis om naby haar kinders te woon. Toe ek haar groet sê sy dat ek haar enige tyd kan kontak as ek iemand nodig het om kos te maak by ‘n kamp.
Die wêreld, die kerk en my lewe sou baie leër gewees het sonder mense soos Tannie Corrie
Joseph van Rebone
Joseph was die evangelis op Rebone van die Limpopo gemeente van die VG Kerk. Rebone is ook bekend as Steilloop.
Joseph was ‘n baie toegewyde evangelis met die sprankelendste persoonlikheid. Hy kon ook baie lekker lag. Hy is oorlede terwyl hy besig was met sy gunsteling werk, die bearbeiding van sy mense waar hulle gewag het op hulle pensioen uitbetalings.
Joseph was kruppel. Hy het sy storie geskryf wat in ‘n getuienis bundel van ons gemeente opgeneem is. Maar ek wil graag sy storie vertel soos hy dit vir my vertel het.
Ek het Joseph ontmoet tydens die eerste kamp wat ek vir ouderlinge aangebied het by Appingandam, die polisie se opleidings terrein. Daar het ek gesien dat hy kruppel loop en toe vertel hy my sy storie. Hy het as kind polio gehad. Sy ouers het hom as vervloek beskou en uit die huis gejaag en so het hy by sy ouma groot geword. Hy kon nie skool toe gaan nie, want die kinders het hom gespot. Hy verduidelik dat die polio hom so kruppel gelaat het dat sy regter been opgetrek het sodat dit teen sy kop verby oor sy regter skouer gelê het. Hy kon ook nie loop nie en het soos hy dit vertel het: “Op my boude en hande geloop”. Hy het sy dae by die asgate deurgebring waar hy saam met die mense wat tussen die vullis gekrap het, gesit het. Hy het sy eie plekkie gehad waar hy gesit het. Hulle het hom ten minste nie gespot nie. Hy het vir meer as 13 jaar elke dag daar gesit en kon nie lees of skryf nie.
Joseph se ouma was lidmaat van die Lutherse Kerk en volgens hom ‘n baie toegewyde Christen. Eendag onthou hy dat sy ‘n biduur gaan bywoon het. Hy sien haar toe aangehardloop kom na hom toe terwyl hy op sy plekkie by die asgate sit. Sy skree van vêr af vir hom dat hy moet opstaan want die Here het vir haar gesê dat hy kan loop. Joseph het eers sy ouma geïgnoreer. Terwyl sy nader hardloop skree sy ‘n tweede keer dat hy moet opstaan want hy kan loop. Hy vertel dat dit deur sy gedagtes gaan dat die ou vrou nou sekerlik mal geword het. Sy weet tog hy kan nie loop nie.
Toe sy die derde keer vir hom sê dat hy moet opstaan want die Here het gesê hy kan loop, dink Joseph dat hy maar dalk moet probeer, omdat sy ouma so aanhou. Hy probeer toe opstaan. Sy regter been val weg van sy skouer af en hy kon skielik regop staan. Hy vertel dat hy onmiddellik genoeg krag in sy kruppel been gehad het dat hy regop kon staan.
Joseph het daar ‘n belofte teenoor God gemaak dat hy altyd vir God sou werk. Joseph het leer lees en skryf en hom as evangelis bekwaam en is toe beroep na die gemeente in Rebone. Joseph het later met sy gesonde linker been probleme gekry. Joseph het sy belofte aan die Here nagekom. Hy het gesterf terwyl hy nog besig was om sy belofte na te kom.
Die Here werk nog altyd, wonderwerke en geloofsgenesing gebeur nog steeds tussen ons, ook in die VG Kerk.
7 km stap vir erediens
Vir sommige mense is geen opoffering te groot om na die huis van die Here te kom nie.
Ek het op ‘n Sondag ‘n erediens gaan hou by Sandsloot. Sandsloot is deel van die VGK Gemeente Mokopane. Die kerk was op daardie stadium net ‘n afdak. Niks kon daar gebêre word nie en alles moet elke Sondag aangery word. Die beeste moes ook eers weggejaag word voordat die mense opdaag vir die kerk. Die kerk is ook langs die plaaslike moskee.
Voor die erediens staan ek en die plaaslike ouderling Jacob Chele en gesels. Daar kom toe ‘n vrou met drie seuns flink aangestap. Die seuns se ouderdomme was van so 9 tot 13 jaar oud. Toe hulle by die afdak kom, daar waar daar seker ‘n deur sou wees, gaan staan hulle, elkeen haal ‘n lappie uit die sak en vee hulle skoene daarmee skoon. Met skoon skoene stap hulle oor die stof na hulle sitplek in die kerk.
Jacob vra of ek die vrou ken. Ek het haar nie geken nie en hy verduidelik dat sy en haar seuns elke Sondag kerk toe stap. Ek vra toe hoe vêr stap sy en die seuns dan so op ‘n Sondag. “Hulle bly by daardie berg”, verduidelik Jacob terwyl hy na ‘n koppie in die verte wys.
Na die erediens besluit ek om na die koppie te ry. Die vrou en kinders kon nie saam ry nie, want dit was Sondagskool. Dis 7 km van die huise teen die koppie tot by die kerk. Ek kom gereeld by Sandsloot en kan nie een keer onthou dat die vrou en haar seuns nie in die kerk was nie.
Die toewyding van Christene in die tradisionele gebiede is soms verstommend. Die omstandighede waarin hierdie mense woon, maak kerk toe gaan in die VG Kerk nie maklik nie. Die simboliek van die toewyding van hierdie vrou en seuns is vir my baie kosbaar. Sy stap al die pad, verby die Moslem moskee, na die kerk. Elke Sondag
God verander mense
God draai mense se lewens en prioriteite soms drasties om. Mense verander as God se doel met hulle lewens vir hulle duidelik word.
Hier is ‘n man wat ‘n bediening begin het waar hy die Jesusfilm by mense se huise gaan vertoon. Hierdie verhaal het ‘n jaar of wat vroeër reeds begin.
Judea het ‘n leierskamp aangebied by ‘n ou plaasskool by Spekulatie, naby die Botswana grens tussen Stockpoort en Swartwater. Die Vrydag aand kom die bus wat die mense van Potgietersrus vervoer het, daar aan. Een van die mans strompel by die bus uit, duidelik onder die invloed van drank. Ek noem hom ter wille van die storie sommer Piet. Nic Oosthuizen wat die bus bestuur het vertel dat Piet baie luidrugtig in die bus was. Piet is ‘n polisieman. Die hele naweek is Piet aan die stil kant.
Die volgende Woensdag kry ek ‘n foon oproep terwyl ek in Pretoria was vir besigheid. Dit was Piet. Hy is in die hospitaal. Hy verduidelik dat hy die Sondag aand na die kamp moes gaan werk en toe val sy diens pistool en hy skiet homself in die voet, letterlik, maar hy is al baie beter. Piet verduidelik die doel van die oproep. Hy het daar gelê en toe dink hy aan die preek wat ek met die Nagmaal gepreek het aan die einde van die kamp. Hy wil graag die skrif gedeeltes by my kry, sodat hy weer kan dink oor die preek.
Ons het die Gawes van die Gees op die kamp bespreek. Die tema van die erediens was: ‘So wat nou’. In die preek het ek gevra: Wat gaan jy doen met die Gawes wat God aan jou gegee het?
Die volgende jaar se Leierskamp is Piet weer by die kamp. Dit was ‘n ander mens. Hy het as leier ontpop en leiding in baie van die groep besprekings geneem.
Net na die kamp skakel Piet my weer. Hy weet nou wat hy wil doen. Ek ontmoet hom en hy verduidelik dat hy die Jesusfilm aan mense wil vertoon. Maar hy wil dit in mense se huise doen. Ek het vir hom ‘n DVD van die Jesusfilm en “Passion of the Christ”gekry.
Piet gebruik nou sy gawes in diens van die Here.
Oom Fred Ledwaba
Sommige mense is net besonders. Dit is mense wat wondere doen net omdat hulle daar is. Hulle teenwoordigheid maak hulle al indrukwekkend. Ek het verskeie sulke mense ontmoet terwyl ek by die VG Kerk betrokke geraak het.
Dit sal enige storie wat ek kan vertel oneer aandoen as ek nie van Oom Fred vertel nie. Oom Fred was die Minister van Onderwys in die Lebowa regering tot die verkiesing in 1994. Oom Fred kan al elf landstale praat en het reeds ‘n paar jaar gelede 80 geword.
My eerste ontmoeting was met die verwelkoming waar ek en my familie deur die VG Kerk verwelkom is. Oom Fred was die tolk. Soos dit by so baie van hierdie geleenthede gaan het mense van die gemeentes, van die Ringe van die NG Kerk en die VG Kerk gepraat. Oom Fred was die laaste aan die beurt en moes die verwelkoming doen namens die Ring van Potgietersrus van die VG Kerk. Hy het opgestaan en net gesê: “Ek sê ook so” en gaan sit.
Oom Fred het die persoonlikheid wat mense na hom aantrek. ‘n ‘Presence’ maar een van die nederigste mense wat ek ooit ontmoet het.
Oom Fred het baie saam met my gery en as tolk opgetree by baie eredienste en konferensies. Ek het hom graag gevra omdat ek geweet het dat Oom Fred die Bybel, sy God en sy mense so goed geken het. Daar was nooit twyfel dat Oom Fred die boodskap duidelik kon oordra aan sy mense nie.
Omdat die gebied so groot is het ek en Oom Fred baie ure saam in die motor deurgebring. Sy stories oor sy kinderdae en as onderwyser en Inspekteur van Onderwys het die ure baie korter gemaak. Staaltjies was daar baie en ek het uitgevind dat Oom Fred ‘n ongelooflike bron van geskiedenis, mense kennis en wysheid is.
Oom Fred was in baie gevalle my mentor oor die gebruike en tradisies. Ek het hom altyd gaan vra indien ek nie verstaan het of nie geweet het wat om te doen nie.
Oom Fred is ‘n besondere mens. Die volgende storie sal dit verduidelik. Oom Fred was hulle gemeente se kassier. Omdat fondse maar ‘n probleem was, kon oudits nie altyd met die gemeentes se fondse gedoen word nie. Die kerkrade het my soms gevra om die boeke na te gaan. Oom Fred het ‘n baie eenvoudige maar effektiewe handstelsel gehad. Oom Fred is ook baie betrokke by die kore in sy gemeente en sing self saam met die jongmense. Oom Fred kom eendag saam met die vrou wat hulle kore afrig by my huis aan. Retha is ‘n musiek onderwyser en die kore het gereeld by haar kom hulp soek.
Na die musiek dinge uitgesorteer is, stap ek saam met Oom Fred en die vrou na sy motor. Hy draai skielik na my kant toe en sê: “Volgende jaar doen ons die kerk se finansies op rekenaar”. Ek reageer onmiddellik deur te vra:” Het Oom dan iemand gekry wat dit sal doen”. Die kyk wat ek gekry het was een wat duidelik vir my gesê, foutjie. Oom Fred het hom ingeskryf vir rekenaar klasse by die plaaslike Kollege. Ek was verbaas en vra hoekom hy dit doen. Die antwoord was een belangrike les vir almal, “Hoe kan ek die toekoms tegemoet gaan as ek nie weet hoe rekenaars werk nie”. Dit is Oom Fred. Hy het sy kursus gedoen en eendag saam met my Pretoria toe gery waar ek hom gehelp het om ‘n rekenaar te koop. Oom Fred “leen” nou nog vir Freddie as hy ‘n probleem met die rekenaar het wat hy nie kan oplos nie. Die gemeente se briewe en finansies word nou op Oom Fred se rekenaar gedoen.
Oom Fred het in my lewe baie beteken as my vriend. Ook as ‘n geestelike vriend, iemand wat altyd bereid was om te help, bereid om op te offer.
Dit is ‘n voorreg om Oom Fred te ontmoet. Dit is ‘n ongelooflike seën om hom te ken.


15 Mei 2008 







No comments yet... Be the first to leave a reply!