Met Liefde My Broer 6: God Werk

 

6.

God werk

God werk aktief op aarde met mense. Ek het baie gesien hoe God veranderings gebring het vir baie mense. God se teenwoordigheid is werklik. God is orals, al dink sommige mense God het van hulle vergeet.

Venda Padwerkers

Baie dinge het vir my begin toe Venda werkers by die Boeresaal by Sterkrivier ingetrek het. Die Provinsiale departement van Werke het hulle van Venda gebring om langs die paaie in die omgewing te werk. Hier was baie sosiale probleme aangesien mans en vroue uit hulle omgewing geneem is en hulle eie families agter gebly het in Venda.

Aangesien ons gemeente ‘n kerk het by Sterkrivier is daar ‘n behoefte geïdentifiseer om die mense te bedien. Ek het ingestem om daar vir hulle te gaan help. Dit was die begin van ‘n bediening vir my wat later met die Judea Getuienisforum verder sou gaan. Hulle het later na die pad kamp by Potgietersrus getrek en weer later na die Polisiestasie in Mahwelereng.

Die grootste probleem was taal. Die plaaslike mense het nie Venda verstaan nie. Hulle het altyd gesorg vir hulle eie tolk. Dit het dan gebeur dat die tolk of Engels of Afrikaans kon verstaan. Hier het ek geleer om op enige iets voorbereid te wees.

Ek kon met die mense ‘n verhouding bou, al kon ons mekaar nie verstaan nie. Hulle was altyd so ontsettend dankbaar wanneer ek by hulle was. Hulle het een naweek ‘n maand huis toe gegaan en dan het ek avokado’s of veselperskes gekry.

Die Here het ook hierdie bediening geseën.  

Een van die geleenthede waar ek vir hulle gaan preek het sal my altyd bybly. Ons het altyd onder ‘n sinkdak agter die polisiestasie in Mahwelereng kerk gehou. Ek het die dag gepreek oor dat niks belangriker as God in jou lewe mag wees nie. Na die diens kom die persoon wat getolk het en vra dat ek saam met hom moet kom, hy wil my iets wys. Ek stap toe saam en hy wys my ‘n splinter nuwe Toyota bakkie. So ‘n bloedrooi een. Dit het nog papier registrasie nommerplate. Hy vertel toe dat toe hy die bakkie in die week gekoop het, dit die belangrikste ding nog vir hom was. Hy was oortuig dat die Here my gestuur het om hom te herinner dat die bakkie nie so belangrik in sy lewe mag wees nie.

Hierdie is ‘n belangrike les vir ons almal.

Later het die mense uit die dorp verskuif en het ek kontak met hulle verloor.   

Nuwe mense

 

Die NG Gemeente Naboomspruit bied elke jaar ‘n konferensie vir Plaaswerkers by Badseloop aan. Daar is baie bejaarde lidmate in die gemeente aangesien daar ‘n aftree oord en ouetehuis is. Hulle het egter ‘n sending of getuienis bediening wat ander gemeentes baie by kan leer. Die gesindheid van hierdie mense is nog elke keer vir my ‘n openbaring.

Ek was bevoorreg om by die eerste konferensie betrokke te wees, maar kon ongelukkig nie die hele kamp bywoon nie. Die kamp is gereël deur Oom Ben Lubbe, ‘n afgetrede onderwyser, en verskeie ander mense, meestal bejaardes het Oom Ben bygestaan. Die tannie wat die kos gemaak het was as ek reg onthou 84 jaar oud. Die paar dae sou nog heelwat wonderlike verassings oplewer.

Hierdie konferensie is in die week aangebied, dus moes boere hulle werkers verlof gee en ook die koste van die konferensie betaal

Oom Ben het voor die kamp vir my laat weet dat 50 mense die konferensie sou bywoon. Toe ek opdaag was daar 67. Die eerste verassing was die rede vir die groter getal mense wat opgedaag het. ‘n Boer in die omgewing het beswaar gemaak teen die aanbied van die konferensie vir swart mense by die kampterrein. Oom Ben het hom mooi diplomaties laat verstaan dat die konferensie sou voortgaan. Dit het die Vrydag voor die konferensie hard gereën en omdat die pad na die kampterrein oor ‘n laagwaterbrug loop, was Oom Ben bekommerd dat niemand die terrein sou kon bereik nie. Oom Ben het die beswaarde boer geskakel om uit te vind hoe vol die riviertjie is. Die water was laag genoeg om die kampterrein te bereik. Tydens die oproep het die boer vir Oom Ben gevra of hy 15 van sy eie werkers kon inskryf, wat hy toe gedoen het. Die Here verander gesindhede.

Die aand is die Jesus film vertoon. Daar het wonderlike dinge gebeur, maar dis ‘n ander storie.

Die Woensdag het ek met die mense gepraat oor die Groot Opdrag van Hand 1:8. Voor ek begin verduidelik ek dat indien hulle nie seker is dat hulle gered is nie, die nie sal help om oor die Groot opdrag te praat nie. Ek het die mense 3 keer maal gevra. Elke keer is ek verseker dat almal daar gered is, dat hulle nou ‘n lewende verhouding met Jesus het. Ek het hulle vertel dat om te getuig nie ‘n keuse is nie, maar ‘n opdrag. Aan die einde het ek gevra dat almal wat wil getuig moet opstaan. Al 67 mense het opgestaan.

Die evangelis Joseph Chauke wat getolk het, het toe sommer gevra dat almal wat wil getuig, dit sommer nou kan begin doen. Die mense het almal in ‘n ry gestaan en elkeen het sy of haar getuienis gebring. Dit was vir my en die ander mense ‘n intense belewenis van die werk van die Heilige Gees. Elkeen het sy eie getuienis gegee. Hulle het nie agter ander aan gepraat nie. Die vrymoedigheid van die mense het my verstom.

Sommige van die getuienisse sal ek altyd onthou. Die man wat vertel dat hy Jesus op die kamp gesien het en weet Hy leef. Jesus is nie net meer ‘n naam vir hom nie, Hy leef en is ‘n werklikheid. Die ander man het vertel dat hy die kamp kom bywoon het sodat hy nie hoef te gaan werk het nie, het vertel dat hy nou seker is dat hy gered is. “n Man en vrou het vertel die feit dat blankes vir hulle wat plaaswerkers is, kos gemaak en opgeskep het, net die liefde van Jesus is wat blankes kon oortuig om dit te doen.

Daar het twee mans na die kamp na my gekom voordat hulle vertrek het. Die een man het vir my vertel dat hy nou weet dat indien hy die Sondag sou sterf, hy verlore sou wees, maar dat hy met vrymoedigheid vir almal kan vertel dat hy nou verseker weet dat hy gered is. Hierdie man was seker.

Die tweede man het my hand met sy regterhand gevat en sy linkerhand op my skouer gesit, my in die oë gekyk en die presiese woorde gesê: “Ek het julle witmense gehaat, my hart was hard, maar  nou het Jesus my hart sag gemaak. Ek het nou vir jou en al die witmense lief.

Die Here is getrou. Hy verander mense.  

Die Jesus film

 

Ek dink ons onderskat die waarde van die Jesus film in evangelisasie. Ek het die waarde by meer as een geleentheid gesien, maar moet vertel van een spesifieke geleentheid. Dit was tydens die eerste plaaswerkers konferensie wat die NG Gemeente Naboomspruit aangebied was.

Gideon en Gertruida van den Berg is die mense wat al jare getrou die film vertoon by elke geleentheid wat hulle kry. So het hulle ook by hierdie geleentheid die film vertoon. Koos de Wet het hulle die aand kom help.

Ons het toe nog video gebruik en nie DVD’s soos later nie. Daar is gereeld met die toerusting gesukkel omdat stof die toerusting en bande baie beskadig het. Ons het die aand vreeslik gesukkel om die toerusting aan die werk te kry. Ons het redelik vinnig die klank aan die gang gekry. Maar die beeld was weg. Dit was soos ‘n televisie wat sneeu het. Selfs Gideon met al sy ondervinding het later nie meer geweet wat om te maak nie. Later het ons begin twyfel of ons die film sou kon wys. Ons het die band baie keer laat terug loop en probeer ,net om te sien dat die beeld nie verander nie. Gertruida het eenkant gestaan en bid terwyl ons mans gesukkel het. Moedeloos het Gideon eenkant gaan staan en ook gebid dat die toerusting moet werk. Koos het weer die band laat terug loop. Sonder om enige verstellings te maak, het hy dit weer begin speel. Die beeld aanvanklik nog vol sneeu, maar toe begin die sneeu stadig van bo af weg sak tot daar ‘n perfekte beeld was. Die res van die vertoning het sonder enige probleme verloop. Ons het toe weer geweet dat God gebede verhoor.

Ek geniet dit om altyd agter te sit wanneer die film vertoon word, want dit gee my altyd die gevoel van wat gebeur. Somtyds voel jy baie onrustigheid onder die mense aan en soms beleef jy die werking van die Heilige Gees terwyl die film wys. Hier is die Heilige Gees aan die werk. Die mense het omtrent nie beweeg nie

Na die vertoning het Gideon met die mense gepraat en hulle toe genooi om na voor te kom indien hulle ‘n behoefte het dat vir hulle gebid moet word.  Al 67 mense wat die konferensie bygewoon het, het opgestaan en gevra dat Gideon vir hulle bid.

Ons het die aand nog lank gepraat en ons verwonder oor wat daardie aand gebeur het. Die Jesus film het beslis bygedra tot die seën van die konferensie. 

Sjebien tot kerk

Gideon van dan Berg het een Saterdag aand die film ‘Passion of the Christ’ by kerk by Thsamahanzi in die VG Gemeente Potgietersrus gaan vertoon. Ek probeer altyd saam gaan wanneer dit vir my moontlik is.  

Ons het die vertoning van die film heeltemal anders as die Jesus film hanteer. Volgens tradisie laat ‘n man hom nie so slaan nie, hy slaan terug. Baie tyd is voor die vertoning gewy aan die verduideliking van wat die film beteken vir ons as Christene.

By die spesifieke geleentheid het ons ekstra luidsprekers saam geneem. Die toerusting was goed met ‘n baie goeie projektor en groot luidspreker stelsel. Ons het nog 4 ekstra luidsprekers gebruik. Reg oorkant die pad was ‘n sjebien. Die musiek was oorverdowend hard en die manne het goed gekuier en geraas.

Die film vertoning was ‘n kompetisie oor wie die klank die hardste kon speel. Ek dink ons het gewen.

Tydens die vertoning het nog mense gedurig in die kerk ingekom om na die film te kyk. Ek en Gideon is op ‘n stadium van die vertoning na buite. Daar wys ek vir Gideon die ry bier bottels wat buite die kerk staan.

Na die vertoning het Gideon weer met die mense gepraat en die mense wat ‘n behoefte gehad het aan gebed genooi om na vore te kom. Baie mense het gekom. Na die gebede is die mense weg en ons het die toerusting begin oppak. Terwyl ons die toerusting na buite dra, sien ons jongmanne, dieselfde mense vir wie Gideon nou net gebid het, met hulle biere wegloop terwyl hulle dit op die grond uitgooi.

Die Here werk so baie op maniere wat ons glad nie kan dink of verstaan nie. Ons moet die Here net vertrou.

Sandsloot se kerk gebou

Die kerk by Sandsloot was net ‘n afdak. Niemand het geweet wie dit daar gebou het nie. Dit was maar daar solank as wat almal daar kon onthou.

Sandsloot is ‘n baie arm gemeenskap. Omdat hulle naby die platina myn is, het die myn baie mense wat vir hulle gewerk het verskuif. Die meeste mense wat daar woon is werkloos en pensioenarisse. Daar is sover ek weet net 1 persoon wat ‘n salaris verdien wat lidmaat by Sandsloot is.

Die mense van Sandsloot het my gekontak en aangedui dat hulle die kerkie wil klaar bou. Ek het toe verduidelik dat ons nie dinge vir die VG Kerk doen nie, ons sal help sodat hulle kan doen soos hulle goeddunk. Daar moet ook ‘n bydrae deur die gemeente gemaak word. Ons kom toe ooreen dat hulle die stene vir die bou van die kerk moet voorsien. Na ongeveer ses maande het hulle my gekontak. Hulle het nou genoeg stene. Hulle het op Saterdae stene gemaak totdat hulle genoeg bymekaar gekry het. Ek is nog nie seker waar die sement en sand vandaan gekom het nie.

Ek het ‘n plaaslike bouer, Johan Benadie na die kerk gevat en hy dui toe aan dat dit ongeveer R10000 sal kos vir die arbeid om die kerk klaar te bou. Dit sou beteken dat daar nog vensterrame, ruite en deure bymekaar gemaak moes word. Na ‘n paar oproepe het ek twee R5000 skenkings van besigheidsmanne gekry vir die bouwerk. Johan kon onmiddellik begin en het binne ‘n paar dae sy mense op die perseel gehad.

Intussen het Johan ‘n paar vensterrame en ‘n deur wat hy by huise waar hy aanbouing gedoen het vir die kerk gegee. Intussen het Jacob Chele, die ouderling self ‘n paar vensterrame en ‘n mooi glasdeur gekry. Presies hoe en waar weet ek nie.

Die bouwerk het goed gevorder maar die verskillende grootte vensterrame het probleme gegee. Die mure van die kerk kon toe tot teen die dak gebou word.

Daar kom toe ongelukkigheid by kerkraadslede van ander wyke en beskuldig Jacob en ds Makgae dat hulle nie eerlik was met die kerkraad toe die kerk se bouwerk bespreek is nie. Daar word toe die Saterdag ‘n spesiale kerkraadsvergadering belê. Die vergadering begin 2.00 die middag (die springbokke het dieselfde middag teen die All Blacks rugby gespeel). Dit word toe duidelik dat kommunikasie die probleem was. Almal is tevrede daar weg.

Ek het al die ruite gemeet. Daar was baie verskillende groottes omdat daar soveel verskillende rame was. Ek nader ‘n plaaslik besigheid, Northern Glass vir die ruite. Hulle skenk al die glas, maar die verskillende groottes was ‘n probleem. Hulle stuur toe werkers na die kerk en sny die glas en sit al die ruite in. Teen geen koste nie.   

Die kerkraad van die NG Gemeente Potgietersrus-Oos het besluit om die preekstoel wat in die kerk op Zebediela was, aan Sandsloot te skenk. Dit is ‘n baie mooi hout preekstoel.

Ek kom eendag by die kerk om te kyk na die laaste afwerking van die gebou. Jacob wil my iets gaan wys. Aan die voorkant langs die deur het hy ‘n hoeksteen van swart graniet gehad. Hy het toe verduidelik dat hy by een van die plaaslike granietmyne ‘n stuk gekry het en ‘n vriend van hom het die graveer werk gedoen.

Die ingebruikneming het nader gekom en die gemeente het aangedui dat hulle nie meer fondse beskikbaar het vir die ete na die erediens nie. ‘n Kleingroep van die NG Gemeente Potgietersrus-Suid onder leiding van Tannie Lenie Fourie het toe ingespring en geld bymekaar gemaak en die probleem was opgelos.

Ons kon in Augustus 2005 die kerk gebou inwy. Die bou van die kerk het vir die mense so baie beteken dat hulle vir my gesê het dat hulle maar kan doodgaan, hulle het nou gedoen wat hulle moes doen.

Die Here het hierdie klein arm gemeenskap geseën met ‘n kerk gebou van hulle eie. Die gesindheid van die gemeenskap is altyd iets wat vir my veelseggend is in die tyd en omgewing waar ons leef.

Kos vir almal

Jacob Chele en sy vrou daag een middag by ons huis op. Hy is die ouderling van Sandsloot, ‘n deel van die Mokopane gemeente van die VG Kerk.

Hulle verduidelik dat hulle ‘n Vrouediens Konferensie moet aanbied en hulle het net R 300. Sandsloot is ‘n baie arm gemeenskap en hulle kon niks meer bekostig nie. Die probleem was dat hulle 400 vroue verwag het by die byeenkoms. Ons het probeer uitwerk hoe ons hierdie geld kan gebruik om vir al die vroue kos te gee. Ons somme het nie uitgewerk nie.

Die ander probleem was dat die kerk op daardie stadium net ‘n afdak was en die weer dalk dinge kon omkrap. Die probleem kon ons vinnig oplos deur seile te leen om die gebou toe te maak.

Ek vra dat hulle vir my die geld gee sodat ek kan kyk wat ek daarmee kan reg kry. Ek het rond gesoek totdat ek ‘n slaghuis in Pietersburg gekry het wat ons tegemoet gekom het en genoeg vleis vir 400 mense gegee het vir die R 300. Daar was nou geen geld oor vir enige iets anders nie.

Ek het mense wat ons altyd goedgesind was begin skakel en kry toe ‘n 80kg sak mieliemeel van Chris Dique. Ons kry ook ‘n skenking van 20 hoenders van Hendry-John Blignault. Hulle het ons gereeld gehelp wanneer ons kos nodig gehad het.

Ek het ook met Kobus en Ilse Bekker van die plaaslike Fruit & Veg City gepraat. Ons het by hulle altyd die produkte wat van die rakke verwyder word, gekry. Ek het soos gereël die Vrydag gegaan om groente te kry. Daar was daardie oggend niks beskikbaar nie. Ek reël om Saterdag weer te kom kyk, wel wetend dat daar ‘n probleem gaan wees indien ons niks kry nie.  Die Saterdagoggend het ek weer gaan kyk. Daar was soveel groente wat ek kon kry dat ek my bakkie vol gelaai het. Dit was so baie dat ek die vleis en mieliemeel op die sitplek moes pak. Jacob en sy mense kon nie glo hoeveel ons gekry het nie.

Sondagmiddag het Jacob en sy vrou die seil teruggebring. Hulle vertel toe wat die dag gebeur het. Hulle kon vir almal wat opgedaag het, meer as genoeg kos gee. Daarna het hulle al hulle lidmate genooi om te kom eet. Daar het nog soveel oorgebly dat hulle die kinders in die woongebied ingestuur het sodat almal wat honger is, by die kerk kan kom eet.   

God is getrou. Geen probleem is vir God te groot nie. Geen mense is vir God te onbelangrik nie. God sorg vir almal.

Konferensies met ‘n verskil

Dit was altyd vir my ‘n hoogtepunt om die erediens by die Ring se Vrouediens konferensies te hou. Daar is dan sowat 400 vroue bymekaar. Retha geniet dit ook baie om saam te gaan. Hulle het haar al gevra om vir hulle Bybelstudie te hou.

Dit is ‘n konferensie met ‘n verskil. Die vroue kom Saterdag oggend bymekaar wanneer die konferensie begin. Die program loop dwarsdeur die nag, want daar is nie geld vir akkommodasie nie. Daar word net verdaag vir eet en drink. Verder word die hele nag gewerk.

Die erediens is altyd die afsluiting. Die eerste keer het ek besluit dat die preek maar kort moet wees, want niemand kan na 24 uur se aanmekaar konferensie nog enigsins na ‘n preek luister nie. Ek was verbaas hoe die vroue nog gesing en dans het. Hulle het ook almal baie aandagtig na die preek geluister. Die vroue was ongelooflik gemotiveer om alles tot die einde voluit te doen.

Ek het reeds by heelwat van die konferensies gepreek. Nog nooit het een van die vroue aan die slaap geraak nie.

Die toewyding van hierdie vroue is iets om te beleef. Hoeveel ander groepe sal bereid wees om so konferensies te hou?

Jeugkamp

Ek het in 2004 ‘n jeugkamp gereël. Die kamp was by Appingendam, die polisie se opleidingsterrein tussen Potgietersrus en Marken. In die beplanning het die gemeente-leiers aangedui dat daar nie meer as 120 mense die kamp sal bywoon nie. Ons het vir die kamp gelukkig heelwat borge gehad.

By die terrein het die mense begin opdaag. Teen 5.00 was daar al heelwat mense. Teen 8.00 was daar reeds meer as ‘n honderd mense. Toe kry ons ‘n boodskap dat ‘n bus met mense is op pad, hulle het probleme en ons moet asseblief vir hulle kos hou vir wanneer hulle kom. Toe kom ons agter daar is nog 80 mense op die bus. Daar gaan meer as 200 mense die kamp bywoon.

Dit was in baie opsigte ‘n kamp wat enig in sy soort was. Mense lag as ek hulle vertel dat ek ‘n jeugkamp aangebied het waar van die jeug sommer hulle kinders saambring. Daar was 3 vroue met hulle kinders. Van die jeug het sommer hulle ouers ook saamgebring, seker om te kyk wat die witmense met hulle kinders gaan maak.

Daar was nie genoeg fasiliteite nie. Gelukkig het baie van die mense nie omgegee om in die busse of sommer onder die busse te slaap nie. Die storte en toilette was te min. As jy verby ‘n toilet geloop en hy was oop, het jy hom gebruik al was daar nie ‘n nood nie, want hy sal dalk nie beskikbaar wees wanneer jy hom regtig nodig het nie.

Die kosmaak was ‘n groot nagmerrie.

Die enigste plek waar ons al die mense kon akkommodeer om die besprekings aan te bied, was in die veld op ‘n plek waar almal op rotse reg in die rondte kon sit. Die probleem was dat ek in die son gestaan het.

Hier het ek baie van die swart jongmense geleer en ek dink ook hulle het baie by my geleer. Ons moes as gevolg van die getalle die program ‘n paar keer aanpas. Wanneer ek dit met hulle leiers bespreek het, wou hulle dit eers met die groep bespreek. Dit het so lank gevat dat teen die tyd hulle gepraat het, die program weer verander moes word.

In teenstelling met die Leierskampe was die mense heeltyd laat, het nie veel belangstelling getoon nie en het soms vir die besprekings nie opgedaag nie.

Ek voel dat ons op ‘n manier tog sukses met die kamp gehad het. Uit die reaksie op die besprekings het ek gevoel dat die Here ook hier besig was binne die soort van chaos.

Die bestuur van die Jeug het tog in hulle verslag aan hulle Ring afgesluit met “We enjoyed the Camp” 

Leierskampe

Ek het nog elke jaar ‘n leierskamp aangebied. Dit was aanvanklik ouderlingskampe maar aangesien die Vroue- en Jeugleiers uitgesluit was, is dit verander na Leierskampe.

Daar is besluit om die kostes van al die kampe wat ons aanbied, deur skenkings en borge te verhaal en nie van Judea se geld te gebruik nie. Nog geen kamp wat ons aangebied het, het teen ‘n verlies gewerk nie. Dit Here het nog elke keer mense gestuur wat voorsien het. Ons het byvoorbeeld die mense wat ‘n kamp bygewoon het, R 20 per persoon gevra. Die akkommodasie alleen was R 60 per persoon vir die naweek. Tel daarby die kos en vervoer kostes dan word dit ‘n redelike bedrag. Maar op ‘n manier het die Here nog altyd voorsien, al het ek die Vrydag waarop die kamp begin nog nie geweet waar die geld vandaan sal kom nie.

Die kampe was nog elke jaar ‘n hoogtepunt vir my. Volgens die terugvoer beleef baie van die leiers dit ook as hoogtepunte. ‘n Mens staan verstom oor die meelewing, samewerking en toewyding van die mense. Nog nooit het ‘n sessie by so kamp laat begin nie, nog nooit het mense nie entoesiasties die besprekings bygewoon en deelgeneem nie. Die leergierigheid van die mense kan vir baie mense ‘n voorbeeld wees.

Ek het tydens die kampe baie besondere oomblikke beleef. Iets wat ek altyd sal onthou was een Saterdag aand na die vertoning van ‘Passion of the Christ’. Tydens die vertoning was die atmosfeer gelaai en het ek die werking van die Heilige Gees beleef. Die reëling was dat na die vertoning die ligte aangeskakel sal word en dat tyd vir stil gebed  gegee word. Daar was ‘n paar minute van stil gebed terwyl sommige, mans en vroue, trane afgevee het. Sonder dat iemand iets sê, begin die mense spontaan sing. Dit was van die mooiste sang wat ek nog gehoor het. Die helder suiwer klanke het die saal vol gemaak. Tussen die liedere het mense gebid. Alles spontaan. Net om deel hiervan te wees, het my bewoë gemaak. Ek het nie die woorde verstaan nie, maar ek het verstaan.

Ons kan baie leer by die mense oor entoesiasme en hoe hierdie mense voor God kan jubel.

Christen en Sport

Op Jeugdag in 2004 het die Jeug van die VG Kerk ‘n sport dag gereël. Hulle vra toe dat ek met hulle kom praat oor Christen en sport. Dit was ‘n lekker uitdaging.

Ons het lekker saam gepraat oor hoe Christene sport moet beoefen.

Daarna kon ek die lewe van ‘n Christen ook met sport verduidelik. Aangesien ek sokker geleer speel het op die myne waar my pa gewerk het, kon ek dit as ‘n voorbeeld gebruik. Ek het die lewe met ‘n wedstryd vergelyk. Daar is verskeie spanne in die lewe. Die verskil is dat jy hier kies in wie se span jy wil speel. Kies jy om in God se span te speel, dan is daar ‘n sekere struktuur. God is die eienaar en bestuurder van die span. God is ook die skeidsregter in hierdie wedstryd. Jesus is die afrigter wat vir ons die voorbeeld gestel het van hoe om te speel, die Heilige Gees is die kaptein wat saam op die veld is en die rigting en taktiek van die wedstryd bepaal. Die Bybel is die reëlboek. Soms is dit nodig dat God ‘n geel kaart moet wys om ons te waarsku oor hoe ons speel, soms wys God ‘n rooi kaart om ons eers uit die spel te vat sodat ons weer ‘n nuwe insig in die wedstryd kan kry.

Hierdie was een van die heel vrugbaarste gesprekke wat ek nog gehad het. Omdat almal sokker ken was almal baie entoesiasties om deel te neem aan die gesprek. Dit het so lekker gegaan dat die sport meer as 2 ure laat begin het. Almal was entoesiasties oor hulle lewe as Christene en ek dink dat baie vrae daardie dag opgelos is. Baie van die jongmense het met hulle eie beelde gekom wat ons bespreek het. 

Jesus het in die gelykenisse wat hy vertel het altyd van beelde gebruik gemaak, beelde wat die mense kon verstaan. Dit maak christenskap ‘n werklikheid en nie net ‘n teologie nie.

‘n Byeenkoms soos hierdie het my weer verseker van die werking van die Heilige Gees in Sy kerk.

Christelike Leierskap

In 2004 het ons die hele jaar aan die jeug van die VG Kerk gewy. Ons het verskeie werkswinkels aangebied oor dwelms, drank misbruik, ‘n Christelike lewenstyl, die Bybel ens.

Die jaar het begin toe ek gevra is om hulle jaarlikse konferensie in die VG Gemeente Seleka toe te spreek. Die tema was ‘Christelike Leierskap’. Die rede vir die versoek was dat dit vir hulle onaanvaarbaar was dat mense wat tradisionele leiers is asook mense met politieke mag, ook die leiers in die kerk is.

Ek het met voorbeelde uit die Bybel kenmerke van goeie geestelike leiers verduidelik. In die verkiesing van die bestuur het hulle vir die eerste keer iemand gekies wat hulle gevoel het hulle geestelik kan lei, en nie mense wat in die gemeenskap sterk gestaan het nie.

Hierdie was vir my ‘n teken dat die mense anders begin dink het oor die kerk. Ek dink baie keer het kultuur en politiek die mense in die steek gelaat. Hulle kyk nou na die kerk en Christendom vir sin in hulle lewe.    

Dit maak ons sterk

Die waardering vir moeite wat ‘n mens doen, word baie keer nie gesien word nie. Mense en ek dink veral swart mense, waardeer wat ‘n mens vir hulle doen, meer as wat ons besef.

Ek het die erediens gehou by ‘n Vrouediens konferensie van die Ring van die VG Kerk. Die konferensie is in die Boeresaal op Vaalwater gehou.

Soos altyd is die konferensie met ‘n ete afgesluit. Terwyl ek gestaan en eet het, het een van die vroue na my gekom en my hand geskud, my in die oë gekyk en gesê: “Baie dankie. As julle wit mense saam met ons is voel ons baie sterk”, en sy steek albei vuiste in die lug op asof om haar krag te verduidelik.

Dit maak mense sterk as iemand hulle belangrik genoeg ag deur moeite te doen om na hulle te gaan. Ons vergeet dit so maklik.

oopgemaak

Gedurende 2006 het ek ‘n werkwinkel in Seleka Gemeente van die VG Kerk aangebied. Dit was op ‘n Saterdag. Die tema was “God se gemeente”

Na die werkswinkel is ek soos gewoonlik baie bedank vir die werkswinkel wat ek aangebied het. Ek het dit altyd beleef dat dit belangrik is dat jy moet weet hoe dankbaar die mense regtig is, daarom is daar altyd baie tyd en aandag aan bedankings gegee.

Na die bedankings en afsluiting, terwyl ek besig was om my toerusting op te pak, kom ds Harold Weepener na my toe. Hy het die laaste gedeelte van die werkswinkel bygewoon. Oom Harold was die Sendeling wat in verskeie gemeentes rondom Ellisras gewerk het en kan die plaaslike  taal vlot praat.

Oom Harold verduidelik toe meer van die bedankings. Hy verduidelik dat die tolk gesê het dat ek hulle geleer het, die persoon se woorde was dat ek “hulle oë kom oopmaak het”.

Dit maak die voorreg om in God se diens te staan soveel meer werd.

Woorde in hart bêre

Ek het by ‘n geleentheid ‘n erediens in die kerkie by Vaaltyn in die VG Gemeente Mokopane gehou. Ek kan goed onthou die teks was Mat 16:15 “Wie sê julle is ek”.

Na die diens en die afsluiting in die konsistories kom roep ‘n jongman my. Ek stap toe saam met hom na ‘n tannie, maklik 80 jaar oud. Sy vat my hand en sê: “Baie baie dankie. Ek verstaan nou. Ek sal jou woorde vir altyd diep in my hart bêre”.

Hierdie woorde het my weer herinner aan die verantwoordelikheid wat ek het wanneer ek die Woord van die Here verkondig.

Blydskap en trane

In die groot gemeentes waar daar min leraars is word by geleenthede deur verskeie erediens punte saam gekom, veral indien Nagmaal en doop bedien moet word.

Ek het gepreek by een so geleentheid in Pafula in die VG Gemeente Bakenberg. Tydens die geleentheid is mense gedoop, daar is belydenis afgelê en Nagmaal bedien.

Een van die persone wat gedoop is en belydenis afgelê het was ‘n vrou. Ek het gedink sy was ten minste 80 jaar oud. Sy is saam met die kinders gedoop en het saam met die jongmense op die vrae by die belydenisaflegging geantwoord. Dit is die gebruik dat die gelukwensing deur die hele kerkraad gedoen word. Hier het een van die ouderlinge, ‘n vrou, die ou tannie omhels en hulle twee het saam gehuil van blydskap.  Ek kon die vreugde van hierdie tannie sien, dat sy die voorreg gehad het om belydenis af te lê.

Daar is so baie mense wat hierdie geleentheid vergeet en nie waarde daaraan heg nie.

God is getrou

Teen Augustus 2006 was die bestuur van Judea baie bekommerd oor die finansies van Judea Getuienisforum. Volgens alle aanduidings sou ons nie die finansiële jaar kon deurkom met die beskikbare fondse nie. Volgens die berekenings sou daar ongeveer R 16 000 vir die jaar tekort gewees het.

Die bestuur onder leiding van ds Peet Venter het saam met verskeie  belangstellendes vergader oor die probleem. Verskeie voorstelle is gedoen en daar is baie oor die saak gebid.

Aan die einde van die finansiële jaar het Judea R 40000 in die bank gehad. Dit was net ongelooflik hoe mense geld in die rekening inbetaal het. Sommige van die deposito’s was anoniem.

Die Here het baie duidelik vir my gewys dat die werk moet voortgaan. God is waarlik getrou.

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!