Met Liefde My Broer 7: Kultuur
7. Kultuur – Kultuur druk
Met die jeugkamp het ek sterk onder die indruk gekom van die druk wat die swart jongmense beleef as gevolg van hulle kultuur.
Na ‘n bespreking oor verhoudings kom ‘n jongman na my toe met die vraag: “Is dit goed om met ‘n meisie uit te gaan?”. Verras oor die vraag is my eerste reaksie om te vra of hy eendag wil trou. Hy antwoord bevestigend en ek verduidelik dat dit mos die enigste manier is om uit te vind of dit die meisie is met wie hy wil trou. “Jy verstaan nie. My pa gaan besluit met wie ek trou. Wat as ek lief raak vir ‘n meisie maar my pa besluit ek moet met iemand anders trou? Is dit dan nie beter om nie met meisies uit te gaan nie”.
Terwyl ons gepraat het ‘n groep jongmense rondom ons gestaan en luister na ons gesprek. ‘n Meisie vertel toe dat sy weier om met die man te trou wat haar pa vir haar gekies het. Sy weet wie die man is. Sy weet ook dat wanneer haar pa haar wil laat trou en sy weier, sy uit die huis weggejaag gaan word.
By ‘n geleentheid praat ek met een van die Leraars van die VG Kerk. Hy het ‘n probleem waarmee ek moet help. Die tradisionele leier van die gebied waar hy sy huis het, se seun wil met sy dogter trou en hy weet nie wat om te doen nie. Ek vra of hy met sy dogter gepraat het daaroor. Hy sê toe “sy sê sy is nog te jonk vir trou”. “Dis mos jou antwoord”, sê ek toe. Hy draai om na sy motor en sê: “Ek kon darem baie geld gekry het, daardie man is baie ryk”.
Die jongmense in die tradisionele gebiede moet baie druk beleef en verward wees. Die mense is saam met ons kinders in die skole waar daar grootliks volgens ons kultuur en tradisies gewerk word. Mense wat in die dorpe werk waar blankes bestuurders is, beleef die blanke kultuur en waardes. Vanaand wanneer hy huis toe gaan, is hy weer onderworpe aan die tradisies van sy mense. Wat is reg en wat is verkeerd?
Afkop hoenders
By die kerkgebou van Sekgagapeng in die VG Gemeente Mokopane het ons ‘n werkswinkel op ‘n Saterdagoggend. Mense van Petra Kollege het die werkswinkel kom aanbied.
Die middagete was gereël. Pap en slaai en hoender. Aangesien die mense nie yskaste het nie, word die hoenders lewendig by die winkel gekoop en wanneer die mense gekom het, word die nodige hoenders geslag en die wat oorbly, word so lewendig aan die winkel terug gegee.
Ds Jopi Makgae van die gemeente het buite by die kos potte gestaan en ek stap na hom toe om met hom te praat terwyl die besoekers binne die kerk gebou besig is.
Terwyl ek nog met Jopi praat, druk die vrou wat die kos maak ‘n hoender se kop in my hand: “Maruti, hou vas asseblief”. Ek hou die kop vas en vinnig is die hoender se kop af. Die tweede en derde en vierde hoenders volg dieselfde pad. Dit is orals net bloed.
Ek vertel die besoekers van wat gebeur het. Net daar besluit die vrou dat sy nie meer honger is nie. Hoe meer ek en haar man haar vertel dat al die hoender wat sy eet, se koppe ook afgesny is, hoe minder wil sy weet van hoender eet. Selfs die argument dat sy nooit weer sulke vars hoender sou eet nie, kon haar oortuig nie.


15 Mei 2008 







No comments yet... Be the first to leave a reply!