STRUIKELBLOKKE IN DIE PAD VAN SAMEWERKING TUSSEN NG- EN VG-GEMEENTES – NADENKE OOR ‘N PAD VORENTOE

STRUIKELBLOKKE IN DIE PAD VAN SAMEWERKING TUSSEN NG- EN VG-GEMEENTES  –  NADENKE OOR ‘N PAD VORENTOE

In ons huidige situasie is dit nie ‘n maklike saak om gemeentes van die NG Kerk en die die VG Kerk te oortuig van die waarde en selfs die noodsaaklikeid van kerklike samewerking nie.  By die Sinodale Getuienisforum is dit ons missie om gemeentes hiervan te oortuig en hulle op hierdie pad te begelei.   Ek meen dat daar sekere faktore is wat die proses tans bemoeilik en wat selfs onoorbrugbare struikelblokke vorm.

Die struikelblokke wat hieronder genoem word en die oplossings wat aangebied word, word aangebied vanuit my persoonlike perspektief as funksionaris van die Sinodale Getuienisforum.  Hoewel daar gepoog word om ‘n gebalanseerde perspektief aan te bied, is dit ook waar dat dit meer ooreenstem met die gangbare NG-standpunt as met die gangbare VGK-standpunt.  Ek hoop egter dat ek in die proses ook nie blind is vir die NG Kerk se foute, blinde kolle en eensydighede nie.  Verder is my benadering pragmaties, ingestel op dit wat na my oordeel prakties haalbaar is, sonder om teologiese motiewe te verwaarloos.    Daar word ook aangeknoop by die debat tussen dr Nico Smith, emeritusleraar van die VGKSA  en dr Anton Pienaar, redakteur van Kerkbode, oor kerkhereniging in die onlangse uitgawe van Kerkbode.   Die uitgesproke wens van dr Pienaar dat die debat oor die wesenlike sake wat ‘n invloed daarop uitoefen meer in die oopte moet geskied is myns insiens geregverdig.  Hierdie bydrae is bedoel om deel van hierdie proses van openlike gesprek te wees en ook verdere reaksies uit te nooi.    

1.      Verband tussen Kerkhereniging en Samewerking

Die negatiewe houding van die meerderheid NG gemeentes oor Kerkhereniging, gepaardgaande met die  moratorium van die VGKSA Algemene Sinode tov verdere gesprekke oor kerkhereniging, is waarskynlik ’n belangrike faktor daarin dat NG ringe en gemeentes nie entoesiasties oor streekkonferensies of ontmoetings met  VGK–gemeentes en ringe is nie, selfs al sou die aankondiging daaroor oor ”samewerking” gaan.   Ons poging by die Sinodale Getuienisforum om strukture van samewerking tot stand te bring, word dus geassosieer met die negatiewe emosies en sentimente rondom die gestolde eenheidsproses, ten spyte daarvan dat die twee dinge in die besluit van die VGKSA se Alg Sinode oor die moratorium duidelik onderskei word, en dat samewerking tussen gemeentes en sinodes in die besluit steeds aangeprys en aanbeveel word.   Ander faktore, soos teleurgestelde verwagtinge oor samewerking in die verlede (van albei kante), asook verskeie samewelewingsfaktore, speel waarskynlik ook ’n rol. 

Die onlangse debat in Kerkbode tussen dr Nico Smith en dr Anton Pienaar, redakteur van Kerkbode, nav ’n artikel oor die saak van kerkhereniging deur dr Pienaar waarin hy gepleit het dat die gesprek oor kerkhereniging ”oopgemaak” moet word, is simptomaties van die konflikterende standpunte rondom die saak, asook van die emotiewe wyse waarop sommiges die saak beleef.  Die skerp en kwaai reaksie van dr Smith met die opskrif ”Dit is rassisme wat ons uitmekaar hou” en die pleidooi van dr Pienaar, getiteld ”Is dit onbillik om te vra vir vriendskap ?”, som die uiteenlopende benaderings mooi op.   In dr Pienaar se aanvanklike artikel vra hy dat die gesprek met mekaar met groter openhartigheid en verdraagsaamheid gevoer moet word en kla hy dat die VGKSA nie tegemoetkomend is mbt tot praktiese probleme wat die NG Kerk met kerkhereniging het nie.    Vanuit die perspektief van dr Smith is die onwilligeid van die NG Kerk om haar daadwerklik tot kerkhereniging met die VGKSA te verbind enkelvoudig: dit is rassisme en dit is sonde.  Hy vra hoe lank moet die VGKSA nog begrip hê en geduld openbaar met die NG Kerk se onwilligheid ?  Hy kasty dr Pienaar oor sy vermoede dat die VGK dalk so behep is met kerkherenging omdat hulle hoop om finansieel daaruit voordeel te trek.  Dr Pienaar protesteer en voer aan dat die saak nie so eenvoudig is nie.  Hy vra of die VGKSA nie maar sy onversetlikeheid ivm die belydenis van Belhar as voorwaarde vir kerkhereniging kan laat vaar nie.  Finansiële, kulturele en samelewingsfaktore speel ’n rol by die NG Kerk en by die VGKSA en dit is ook nie billik om die NG Kerk tot in ewigheid vir alles wat verkeerd is of was te blameer nie.  Ongelukkig was dit oor jare heen kenmerkend van dr Smith se benadering dat hy geneig is om uiters krities en veroordelend, selfs verdoemend, teenoor die NG kerk te reageer, al is dit ook so dat sy argumente nie almal sonder meriete nie.  Hy hou egter nie rekening met die kompleksiteite van menslike verhoudinge en prosesse nie, en dring daarop aan dat daar ’n enkelvoudige veklaring vir alle probleme is: wit rassisme.  

Dit is duidelik dat talle mense van kleur, ons broers en susters in die VGKSA ingesluit, nog ’n diep seerkry in hul binneste uit die verlede ronddra, agv die aantasting van hul menswaardigheid en vernedering wat met apartheid saamgegaan het, en dat dit dikwels nog hulle reaksies teenoor witmense kleur.  Dit kom soms na vore deur ’n sekere mate van hipersensitiwiteit tov rasseverhoudinge, bv dat pogings om advies te gee maklik as paternalisme of ”rassisitese” oorheersing of kritiek ervaar word, wat dan of enersyds met aggressie begroet word of andersyds dmv passiewe weerstand geïgnoreer word.  Soms kom dit ook na vore in oordrewe nederigheid en  minderwaardigheidsgevoel of ’n byna apatiese houding teenoor witmense en ook teenoor die NG Kerk.  Die sterk emosies rondom die eenheidsgsprek, veral by ons swart en bruin broers, moet ook verstaan word as ’n seergemaakte reaksie op dit wat hulle as verwerping van ons kant (as hoofsaaklik wit kerk) ervaar. Hulle beleef dit dat ons niks met hulle te doen wil hê nie, net omdat hulle swart of bruin is.  Vandaar ook die skerp reaksie en beskuldiging van rassisme vanaf diegene wat sterk met die VGKSA identifiseer, soos dr Nico Smith.    

Afgesien van die NG Kerk se vrese mbt oorheersing en die moontlike verlies of bedreiging van hul kulturele en taal-identiteit in geval van kerkhereniging, meen ek een van die grootste enkele faktore in die afwysing van kerhereniging, maar veral ook van die belydenis van Belhar, met ’n soortgelyke reaksie te doen het as die van die VGKSA.  Dit gaan ook oor ’n ervaring van verwerping, maar op ’n ander manier as die VGK.  In die NG Kerk gaan dit daaroor dat hulle as kerk en as indiwiduele gelowiges die belydenis van Belhar en die Status Confessionis ervaar as veroordelend en verwerpend, dat hulle (opregte) Christen-wees ontken en geminag word.  Belhar sê maw dat hulle nie ware Christene is nie.  Om dit te aanvaar, al sou daar ook mooi Bybelse waarhede in Belhar wees, is om saam te stem dat jy nie ’n ware Christen is nie.

Die NG Kerk word dus as die skuldenaar of as ketterse kerk uitgewys.  Hoewel dr Nico Smith lank nie meer as spreekbuis van die VGKSA (kan) optree nie, is daar tog ’n sekere resonansie tussen sy siening en die siening van die VGKSA algemene sinode en van die leierskap.  By albei word daar onversetlik daarop aangedring dat die VG Kerk  ”reg” is, en die NG kerk ”verkeerd”.  Die morele hoë grond behoort vir ewig aan die VGKSA.  Dit kom neer op ’n soort ”alles of niks”- benadering. Ek is van mening dat hierdie aspek die swaarste weeg in talle NG gemeentes se onwilligheid om in vennootskap met VGK-gemeentes te tree, en waarom sommiges eerder verkies om met onafhanklike evangeliese of charismatiese swart gemeentes en pastore saam te werk.  In laasgenoemde gevalle kan daar dalk finansies te sprake wees, maar ten minste is daar nie verwyte, beskuldigings of verwagtings om eenwording as agendapunt te aanvaar nie.  Daar is dikwels ook die gevoel dat sulke gemeentes ’n sterker missionere identiteit openbaar.  

Dit is ook so dat die VGKSA se amptelike standpunt oor samewerking die duidelike verwagting veronderstel en dit ook uitspel dat samewerking nie ’n saak is wat op sy eie kan bestaan nie, maar dat dit noodwendig tot eenwording moet lei.  Indien samewerking dus net ter wille van samewerking in stand gehou word, is dit volgens hulle nie opreg of aanvaarbaar nie, want dit is dan juis bedoel om as alternatief vir kerkhereniging daargestel te word.  

Ek moet my egter haas om by te voeg dat dit nie noodwendig die houding van talle gewone VGK-leraars is met wie ons op plaaslike vlak goed saamwerk nie.  Trouens, ek wil beweer dat dit meestal die geval is dat VGKSA-dominees in persoonlike verhoudinge met witmense en NG gemeentes min, indien enige, van die houdings wat in amptelike besluite veronderstel word, laat blyk.  

1.1  Praktiese Raad Oor Samewerking en Eenwording 

1.1.1        VGKSA: Dit sou die saak van hartlike samewerking en vennootskap tussen NG en VG-gemeentes oneindig baie help indien VGKSA-lede, leraars en kerkrade in tentatiewe gesprekke met NG gemeentes hul gesindhede duidelik kan openbaar deur daarop te wys dat hulle geen behoefte daaraan het om die NG Kerk te blameer oor dinge wat in die verlede gebeur het nie, en dat dit regtig vir hulle daarom gaan om saam met die NG Kerk ’n manier te vind om ’n goeie toekomspad tov plaaslike samewerking te ontdek en om die praktiese uitlewing van die eenheid wat ons in Christus het, sonder om aan te dring op kerkhereniging of dit in gesprekke op plaaslike vlak op die voorgrond te stel nie.

1.1.2        NG Kerk:  Dit sou die proses van verhoudingsbou ontsettend baie kan help indien NG verteenwoordigers en kerkrade die bona fides van VGKSA-leraars en kerkrade sal aanvaar en hulle nie by voorbaat daarvan verdink of beskuldig dat hulle met onsuiwer en bedekte motiewe by samewerking betrokke raak nie.  Dit sou ook help indien die versekering gegee word dat daar nie weer soos in die verlede, op ’n paternalistiewe wyse aan die VGK voorgeskryf sal word oor hoe hulle hulle sake moet bedryf nie, maar dat daar gestreef sal word na ’n samewerking waarin die individualiteit en eie bevoegdeid van elke gemeente en kerkraad gerespekteer en erken word. 

2.       Wedersydse Negatiewe Ervarings in die Verlede rondom Subsidies en Vrese rondom Finansies

Ek meen dat die huiwering of selfs die negatiewe houding tov samewerking by NG gemeentes enersyds saamhang met die vrees dat daar weer druk toegepas sal word vir die herinstelling van ’n omvattende subsidiestelsel waardeur NG gemeentes verplig sal word om vir salarisse van swart leraars in te staan of by te dra.   Teleurgestelde verwagtinge aan die kant van VGKSA-gemeentes en leraars waar subsidies nie gerealiseer het nie of gedurende die tagtiger- en negetigerjare uitgefaseer is, het in die verlede daartoe gelei dat NG Gemeentes soms geblameer is, direk of indirek. Gepaardgaande hiermee is daar waarskynlik ook by die betrokke NG gemeentes ’n gevoel van ongemak om weer met dieselfde VGK-gemeentes kontak te maak en weer  verhoudinge te probeer aanknoop.   Daar is na my mening sterk  weerstand by NG gemeentes in die algemeen teen die ”afhanklikheidssindroom” van baie gementes in die VGKSA en gevolglik ’n byna instinkmatige vermyding van kontaksituasies waar ou verwyte teenoor NG gemeentes dalk uitgespreek kan word of nuwe eise tov ondersteuning gestel sou kon word.

Indien ’n mens sou aanvaar dat die afwysing van kerkherening van die NG Kerk se kant af onder andere te doen het met die vrees van gemeentes (en predikante) vir moontlike druk van sinodes of die algemene sinode van ’n nuwe kerkverband om (meer) by te dra vir die ondersteuning van VGK-gemeentes of selfs vir ’n eenvorminge salarisskaal vir predikante in ’n gemeenskaplike poelstelsel, kan ’n mens waarskynlik verstaan dat dieselfde vrees, miskien wel in ’n mindere mate, tog ook ’n rol kan speel in gemeentes se besluite of hulle wel kans sien om betrokke te raak by samewerking.  Alhoewel daar nie noodwendig dwang sal wees tov gemeenskaplike finansies nie, sou daar wel druk kon wees vir nuwe subsidies.  

Die feit dat subsidies in die verlede op talle plekke uitgefaseer of beëindig is, soms met redelike kort kennisgewing, en soms sonder vooraf konsultasie met die betrokke VGKSA-gemeentes en sonder die nodige simpatieke begeleiding van die oorgang na volledige selfonderhouding, het weer bygedra tot ’n gevoel van verontregting en benadeling by sommige VGK-leraars en kerkrade. Dit het in sommmige gevalle tot verwydering en vyandigheid aanleiding gegee.  Dit het weer daartoe gelei dat sommige VGK-leraars en kerkrade heeltemal skepties is oor nuwe pogings tot samewerking.  ’n Mens stamp tog nie jou kop tweekeer nie.  Dit geld veral VGK-leraars wat tentmakers is en dus nie (meer) van die NG Kerk afhanklik is nie.

Van die VGK se kant af is daar egter oor die algemeen, in elk geval op plaaslike vlak, ’n groot bereidwilligeid om saam te werk.  Die verwagting dat daar tog ’n sekere mate van finansiële ondersteuning van die kant van die NG Kerk sal kom is tog maar teenwoordig by die meeste VGK-dominees en kerkrade.  Soms is daar wel ‘n mate van huiwering of selfs afwysing, wanneer daar vermoed word dat die NG Kerk (weer) soos in die ou dae, voorskriftelik of paternalisties teenoor hulle sal optree. My ervaring is egter dat die meerderheid VGK-gemeentes eerder dankbaar en waarderend teenoor NG gemeentes is wat bereid is met hulle saam te werk en saam met hulle by die nood van die plaaslike gemeenskappe betrokke te raak.  

My ervaring is ook dat ‘n nuwe geslag NG leraars en kerkrade sensitief is vir die gevaar van paternalisme en oorheersing.

 

2.1 Praktiese Raad oor die Hantering van Finansies

 

2.1.1        VGKSA: Dit sal help indien die verteenwoordigers van die VGKSA–gemeente duidelik kommunikeer dat hulle die beginsel aanvaar dat hulle kerkregtelik en arbeidsregtelik self vir hul leraars e vergoeding verantwoordelik is en dat die NG Kerk in hierdie verband slegs ‘n ondersteunende rol kan speel, indien hulle daartoe in staat is en daartoe bereid is.  Indien die VGK-gemeente hul huiswerk goed gedoen het en hulle het duidelikheid oor wat hul eie bydrae en hul behoeftes is, kan dit help indien hulle hul behoeftes ivm subsidies duidelik kan uitspel, bv. hulpverlening met reiskoste vir die leraar of met die verkryging van ‘n voertuig, of selfs met studiehulp vir die leraar se kinders ens. Hulle moet egter eerlik aandui watter bydrae die VGK-gemeente self tot hule leraar se vergoeding maak en watter maatreëls hulle tref om hul gemeente tot groter selfstandigheid te begelei.

2.1.2        NG Kerk:  Dit sal help indien die NG Kerk duidelik oor sy uitgangspunte ivm sy  bereidheid en vermoë tov finansiële betrokkenheid en ondersteuning kan kommunikeer.  Dit sou kon insluit dat die bereidheid bestaan om op ‘n beperkte skaal hulp te verleen, indien die inkomste van die hulpverlenende gemeente sou stand hou en solank dit nie ‘n kontraktuele verpligting op hulle plaas nie.  Dit is belangrik dat wedersyds oor finansies gekommunikeer word, en verwagtinge enersyds en vermoëns andersyds tydens gesprekke met mekaar in verband gebring word en deeglik deurgepraat word.   Dit kan ook help indien ‘n NG gemeente ernstig daarna kyk om aan die VGK-gemeente hulp te verleen met metodes en strategieë om hul gemeente se potensiaal in terme van offervaardigheid en rentmeesterskap asook die insameling en administrasie van fondse maksimaal te ontwikkel en uit te bou.

3.      Samelewingstendense

 

Die heersende sosio-maatskaplike en politieke tendense in ons land speel tans ‘n belangrike rol in die bepaling van wit Afrikaanse Christene en kerklikdmate se gemoedstoestand en hul benadering van die lewe in die algemeen.  Die intense diskoers in die gedrukte media oor die rol en plek van Afrikaners in die samelewing, gegewe die nuwe situasie van die ANC-oorheersing van bykans elke aspek van die samelewing en die gevolglike gevoel van marginalisering van Afrikaans en van blankes en Afrikaners in die algemeen, weerspieël iets van Afrikaners se worsteling om vrede te maak met ‘n totaal nuwe situasie wat algaande sedert 1994 ontwikkel het.  Terwyl dit op sigself waarskynlik ‘n goeie ding is dat hierdie nadenke en openbare gesprek aan die gang is, is daar aspekte daarvan wat waarskynlik negatief op die saak van samewerking inwerk.

In ‘n voordrag wat ek by ‘n konferensie oor interkulturele werk in Aug 2009 gelewer het, het ek meer uitvoerig ingegaan op die invloed wat regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, misdaad (korrupsie, geweldsmidaad, huisbraak, motorkapings, plaasmoorde ens.) en die verval van openbare dienste, asook die funksieverlies wat Afrikaans as amptelike taal ondergaan het, na my mening op die psige en algemene benadering van NG Kerk lidmate van wie die meeste wit Afrikaanse mense is, uitoefen.

3.1  Praktiese Raad oor Samelewingstendense

3.1.1        VGKSA: Indien die VGKSA-leierskap werklik daarin belangstel om in die toekoms met groter begrip met die NG Kerk om te gaan sal hy ook in gedagte moet hou dat die NG Kerk as deel van die Afrikaner-kultuurgroep tans ‘n minderheidsgroep in ons land vorm en as sodanig erg onder druk verkeer. In ‘n sekere sin is die bordjies verhang. Teoreties in elk geval, staan die VGKSA nou nader aan die huidige ANC-regering, soos die NG Kerk in die verlede naby die destydse Nasionale Party-regering gestaan het.  Die VGK sou wel goed doen om te vertel dat hulle ook onder misdaad lei, dat hulle ook ontsteld is oor korrupsie en selfverryking van die nuwe swart elite, en dat verrreweg die meeste van hulle lidmate steeds arm en dikwels gefrustreerd is. Hulle moet ook erkenning daaraan gee, dat hulle nie altyd bewus is van die nuwe, omgekeerde rassisme teenoor blankes nie, net soos wat die blankes in die verlede nie altyd bewus was van die growwe rassisme, vernedering en onreg wat swart mense in die verlede onder sommige blankes moes deurmaak nie.   Hulle moet ook verstaan en aanvaar dat kritiek teen die ANC nie noodwendig uit rassisme of onpatriotiese gevoelens voortstpruit nie, maar dat die groot meerderheid blankes regtig wil hê dat ons land suksesvol moet wees.  

3.1.2        NG Kerk: NG Kerk-leiers moet erken dat talle van die samelewingstendense, polities sowel as sosiaal, wat hulle as negatief ervaar, nie noodwendig die goedkeuring of ondersteuning van swart VGKSA-lede geniet nie, en dat hulle dikwels net so magteloos daaroor voel as hul blanke NG kerk-eweknieë.  Hulle moet ook besef dat min, indien enige van die VGKSA-lede deel uitmaak van die nuwe swart elite wat die dik beursies dra en die toutjies trek.  Andersyds moet blankes ook erken dat die apartheidsbeleid in die verlede groot onreg teenoor swartmense gepleeg het en dat ons as blankes in die verlede bevoorreg was en dat ons oor die algemeen steeds nie sleg vaar nie, veral agv van ons opgeboude vaardighede en opleiding. Dit is juis hierdie laasgenoemde besef en erkenning, wat ons ootmoedig en bereid maak om steeds by te dra tot die opbou van ons land en tot ondersteuning van die plaaslike VGK-gemeente waar moontlik.      

4.      Teologiese en Kerklik-Strukturele Faktore

’n Kerklik-teologiese motief  in verband met die weerstand teen gesamentlike strukture soos gesamentlike getuienisforums kan van waarde wees.  Gedeeltelik agv die effek van die postmoderne denkklimaat,  het daar in die NG Kerk die afgelope dekade of twee ’n ernstige funksieverlies tov die kerkverband en die rol van meerdere kerkvergaderinge, veral ringe, plaasgevind.  Gelyklopend hiermee is daar ’n toenemende klem geplaas op die outonomiteit van plaaslike gemeentes, soms selfs ten koste van die aanvaarde en tradisionele NG identiteit.  Dit het toenemend daartoe bygedra dat verhoudinge met ’n plaaslike VGK-gemeente vir talle NG gemeentes hoegenaamd nie ’n hoë prioriteit is nie, ongeag wat die beleid of voorkeur van die NG Kerkverband hieroor mag wees. 

’n Verdere, veel ernstiger teologiese faktor is die die toenemende groei van die radikale postmodernisme en teologiese liberalisme wat die grondwaarhede van die evangelie en van die Chrsitelike lewens- en wêreldbeskouing afwater en/of relativeer.  Die modernistiese en postmodernistiese benadering van die totale Skrifboodskap vanuit die hermeneutiek van twyfel, van dubbelsinnigheid en van dissonansie, en die uitwerking daarvan in die prediking, werk verlammend in op die sendingywer in ’n gemeente.   Indien die evangelie van Jesus se kruis en opstanding, van sy hemelvaart en van Pinkster en die uitstorting van die Heilige Gees nie meer as  betroubaar en onbetwisbaar as evangeliese waarheid aanvaar word nie, is daar natuurlik geen sin in om die ongemak en inspanning wat met interkulturele kontak en -samewerking gepaard gaan te  trotseer nie.  Dit is veral in sekere kringe van die sogenaamde ”emerging church”-beweging wat die klem op die praktiese Christelike lewe ten koste van leerstellige suiwerheid plaas, waar hierdie soort ambivalensie oor die kernwaarhede van die Christelike geloof al meer voorkom.  Die openheid van die emerging church na die sogenaamde kontemplatiewe spiritualiteit en selfs die erkenning dat hierdie soeke na die ”godservaring” ook in ander godsdienste voorkom, sodat ons selfs van hulle kan leer, maak van die evangelieverkondiging ’n irrelevante oefening.  

Indien alle waarheidsaansprake verder relatief sou wees en alle godsdienste ewe veel aanspraak op waarheid of op relevansie het, is dit nog meer absurd om by enige interkulturele getuienis- of evangeliserings-aktiwiteit betrokke te raak. 

Dan sou dit selfs ’n verleentheid wees dat daar hoegenaamd iets soos ’n VG Kerk of enige ander van die NG Familiekerke bestaan.  Dit sou ’n herinnering daaraan wees dat ons, toe ons nog ”dom fundamentaliste” was, so ”arrogant” was om ”ons geloof op andere af te dwing”, en in die proses mee te doen aan die argelose vernietiging van hulle kosbare godsdiens- en kultuurerfenis.  So ’n dikwels onuitgesproke vertrekpunt sou natuurlike ’n ekstreme teologiese posisie verteenwoordig.  Dit hou egter verband met ’n wydverspreide siening ivm interkulturaliteit in ’n demokrasie, wat algemeen  bekend staan as kuturele relatiwisme.  Hiervolgens is alle kulture gelykwaardig en mag daar op geen manier kritiek op aspekte van ’n bepaalde kultuur uitgespreek word nie, veral nie deur iemand van ’n ander kultuur nie.   Iets hiervan het in ’n onlangse toespraak van die president, mnr Zuma, na vore gekom toe hy daarvoor gepleit het dat daar groter begrip en verdraagsaamheid in ons samelewing behoort te wees vir tradisionele praktyke soos veelwywery en offers aan die voorvaders.    Dit was nog meer skokkend toe dit in die pers gerapporteer is (beeld 24 Mei 2010) dat hy by ‘n ANC-saamtrek by die Kwamhlushwa-stadion in Tonga, naby Komatipoort in Mpumalanga voor ongeveer 30 000 mense die bewering gemaak het dat de voorvaders dat mense wat die ANC verlaat of skaad, sal ontbloot en dat hulle sal siek word.

Dit is egter betekenisvol dat hierdie benadering van die president in sy gemoed geen verskil maak aan sy Christelike belydenis nie, en dat die sinkretistiese verskynsels van voorvaderverering, die gebruik van amulette en die raadpleging van tradisionele dokters (”toordokters”) by Afrika-Christene oor die algemeen steeds wydverspreid is.  Dit word bevestig in die onlangse verskene wetenskaplike boek van Klaus Nurnberger met die titel ”The living dead and the living God”, asook in die ondersoek deur die ”Pew Forum” van die VSA ivm die stand van die Christendom en die Islam in Afrika  (verwys na die artikel hieroor in Beeld van 6 Mei 2010).

Terwyl die tema van die geesteswêreld aan die orde is, is dit egter volkome gepas om te verwys na die teologiese stroom binne die NG Kerk soos in talle hoofstroomkerke wêreldwyd, waarin die bestaan van enige bonatuurlike magte of geestelike wesens soos engele of bose geeste, Satan ingesluit, ontken word.  Vanuit ’n gereformeerde verstaansraamwerk is dit waarskynlik net so skadelik vir ’n kerk om die bestaan van sulke magte te ontken as wat dit is om die voorvadergeeste te erken, te konsulteer en te vereer.   In hierdie opsig was die voorlegging van die studieverslag van die ATLAS by die vorige Algemene Sinode n 2007 ’n ongelukkige bevestiging dat hierdie stroom nie net in die NG kerk teenwoordig is nie, maar by ’n belangrike en leidinggewende kommissie van die Algemene Sinode die botoon voer. Gelukkig is die verslag terugverwys en is dit moontlik dat ’n meer Skrifgetroue benadering met die volgende verslag gevolg kan word.

Om terug te keer na die tema van afwykende teologiese sienings wat ’n struikelblok in die uitreiking met die evangelie na ander kultuurgroepe kan vorm, is dit nodig om daarop te wys dat die aanvaarding deur sommige toeloë van die sg panenteïsme ’n radikale breuk met die evangelie van Jesus Christus inhou, asook met die teïstiese godsbeeld wat eie aan die Bybelse openbaring en aan die Christelike geloof is.  As God ”nie (meer) ’n afsonderlike persoon is nie” (aldus prof Julian Müller), kan Hy ons ook nie van sonde verlos, ons deur sy Gees heilig en toerus en ons roep om die werk van verkondiging, kerkplanting, Christelike dienswerk en versoening te verrig nie.

Gegewe die feit dat daar in swart kerke oor die algemeen klaarblyklik ’n worsteling is om van sommige tradisionele gebruike wat nie met die evangelie versoenbaar is nie, afstand te doen, is dit ’n vraag of enige NG betrokkenheid by die VGKSA waar die teologie van die deelnemers gekenmerk word deur teologiese liberalisme en relatiwisme, of ’n oorleun na die ”new age” spiritualiteit van die Ooste, enige waarde tot sodanige vennootskap kan toevoeg, en of dit nie juis die Christene van die jong kerk verder sal verwar of selfs van die evangeliese koers laat afsien nie.

4.1  Praktiese Raad oor Teologiese en Kerklik-Strukturele Verskille

 

4.1.1        VGKSA:  Die VGKSA sal moet verstaan dat die saak van die kerkverband en die rol van sinodes en sinodebesluite die afgelope dekade of twee ingrypend verander het in die NG Kerk, en dat die saak van kerkhereniging daarom vir die meeste NG nie meer so belangrik is nie.  Die saak van voorvaderverering sal in toekomstige gesprekke noodwendig op die tafel moet kom.  Die VGKSA-leiers sal moet besef dat die probleem van voorvaderverering en ander tradisionele gebruike ’n groot probleem vir behoudende en evangeliese Christene in die NG Kerk skep en dat hulle veral duidelikheid sal wil verkry van VGKSA-leiers wat hulle amptelike standpunt hieroor is, maar ook wat die praktyk in die VGK-gemeente is.

 

4.1.2        NG Kerk:   Al sou die VGK-gemeente miskien nie bewus wees van die woelinge in die NG kerk rondom teologiese kwessies nie, is dit tog belangrik dat nie net die VGK nie maar ook die NG Kerk sy verbintenis tot die gereformeerde leer moet verklaar.  Die modernistiese of postmodernistiese ontkennig van enige bonatuurlike wesens is ongelukkig (onbedoeld) nog ’n voorbeeld van die arrogansie van westerse Christene teenoor Afrika-Christene, asof ons oor enige gesag beskik om te beweer ”dit is alles net bygeloof”.  Ons sal ook as NG Kerk uiters versigtig moet wees om nie ons meerdere teologiese kennis te gebruik om vanuit ’n teologies liberale konteks die opregte, maar dikwels naïewe geloof van ons broers en susters te skok en selfs te ondergrawe nie.  Ons sal die kuns moet verstaan om te midde van ons baie kennis, ook die eenvoud van egte toewyding en entoesiasme saam met ons swart broers en susters te kan beleef. Hulle kan ons trouens daarmee help, indien ons ’n gesindheid van leerbaarheid vertoon.    En terwyl ons na die invloede van die geesteswêreld praat, pas dit ons ook om nederig te erken dat talle van ons NG lidmate reeds halfpad meegesleur is deur die bygeloof en ”universele spiritualiteit” van die New Age-beweging.  Let maar op die populariteit van die soort spiritualiteit wat deur voormalige NG predikant dr Abel Pienaar van die gnostiese Renaissance gemeente gepropageer word.     

5.      Eensydige Aandrang op Herstellende Geregtigheid (Eng. “Restorative Justice”)

 

Die tema van herstellende geregtigheid is waarskynlik een van mees sensitiewe en potensieel mees verdelende aspekte van die verhouding tussen die Kerke.  Dit is een van die temas van die bemiddelde gesprekke tussen die NG Familiekerke onder leiding van dr Pillay van die WBGK (Wêreldbond van Gereformeerde Kerke – Eng WARC- “World Alliance of Reformed Churches”).   Die konsep van herstellende geregtigtheid gaan van die veronderstelling uit dat daar geen versoening kan wees sonder geregtigheid en/of restitusie of vergoeding nie.  Die beginsel van herstellende geregtigheid of restitusie as vrug van berou en bekering, veral op die terrein van medemenslike verhoudinge, is ‘n erkende, maar miskien ook ‘n verwaarloosde  deel van die gereformeerde teologie.  In die evangelies is die reaksie van die tollenaar Saggeus, onmiddellik nadat die Here Jesus hom aanvaar het, dat hy diegene wat hy afgepers het, vierdubbeld sal vergoed. (Lukas 19:1-9)   In die konteks van Suid-Afrika word die kerklike proses van restitusie in hierdie verband na aanleiing van en op grond van die onregte van apartheid hanteer.   In die praktyk kom dit  daarop neer, miskien oorvereenvoudig,  dat die NG Kerk eers sal moet betaal vir dit wat hy onregmatig van die VGKSA geneem het, of weerhou het, voordat die VGKSA bereid sal wees om met die NG Kerk te versoen.  

Dit lyk asof die aandrang op herstellende geregtigheid veral vanuit die suide van die VGKSA kom, maar dit het ook deel van die agenda van die Algemene Sinode of ASM geword. Die saak het ‘n sekere aktualiteit in die lig van die onlangse debat tussen dr Nico Smith, emeritus-leraar en  leier van die VGSKA, asook belangrike dryfkrag agter die kerkvereniging tuusen die NGKA en die NG Sendingkerk in 1994, en dr Anton Pienaar, redakteur van Kerkbode, ivm die vasgeloopte situasie tov  kerkhereniging en die geslote gesprekke hieroor onder leiding van die WBGK.  In teenstelling met wat dr Smith in sy brief in Kerkbode beweer, lyk dit of die persepsie korrek is dat dit uiteindelik tog maar in al die gesprekke en besluite, inderdaad ook om stoflike aangeleenthede en geld gegaan het, en nie uitsluitlik om verhewe teologiese beginsels nie.  Dit is duidelik uit die blote insluiting van herstellende geregtigheid of restitusie in die agenda van die eenheidsgesprekke onder leiding van die WBGK.

Ek wil nie ontken dat daar gevalle kan wees waar die aandrang op restitusie geldig kan wees nie.  Ek het egter ‘n vermoede dat dit meestal verband hou met finansiële ondersteuning of subsidies wat verminder of selfs beëindig is.  Indien dit die geval is, getuig dit m.i. van ‘n eensydige siening en ‘n misverstand tussen dit wat regtens afdwingbaar is, en dit wat uit barmhartigheid en medemenslikheid uit vrye wil geskenk word.   In die geval van die VGKSA-NGKA konflik en regstryde rondom kerkeiendomme is dit duidelik dat die VGKSA die NG Kerk verantwoordelik daarvoor hou dat die VGKSA sy eiendomme verloor het.  Ter wille daarvan dat ek nie êrens my grense oorskry of ‘n mening waag oor dinge waarvan ek min of niks weet nie, swyg ek liewer hieroor.   

Die ander voorbeeld van gevalle waar restitusie van toepassing kan wees is wanneer gemeentes van die destydse NG Sendingkerk en ander kerke met gekleurde lidmate   hul eiendomme as gevolg van die instelling van die groepsgebiedewet, dus agv die politieke beleid van die destydse apartheidsregering, weliswaar meestal met die ondersteuning, of ten minste die stilswyende goedkeuring van die NG Kerk se lidmate en kerklike liggame verloor het.  In so ‘n geval het ek persoonlik ‘n sterk gevoel en is ek geneig om sodanige gemeentes simpatiek gesind te wees.  Die vraag is of die NG Kerk in die algemeen of ‘n bepaalde NG gemeeente regtens hiervoor verantwoordelik gehou kan word.  Ek is  bewus van NG Gemeentes in die Wes-Kaap wat spontaan saam met VGK-gemeentes by vrywillige vorms van restitusie en herstellende geregtigheid tov sulke gevalle betrokke geraak het, iets waaroor ‘n mens jou net kan verbly.   

Die kwessie van gedeelde pensioenfondse wat deur dr Anton Pienaar as een van die vrese in die NG Kerk genoem word, sou egter tog onwettig, regtens onhaalbaar en eties onaanvaarbaar wees.  Pensioene word in die NG Kerk reeds so bestuur dat elke lid aan sy/haar eie persioen bou, en dieselfde proses is ook in die VGKSA en die NGKA op koers.  In my hoedanigheid as brugfiguur en as “verteenwoordiger van die NG Kerk” is ek wel by geleentheid in die VGK Noord genader om te verneem van die moontlikheid dat sekere fondse wat in die verlede aan die NG Kerk uitbetaal is met die staat se oorname van die ou sendinghospitale, (dit sou waarskynlik verwys na die destydse  Hospitaal Eiendomme Trustfonds en die Verkoop van Klipspruit Trusfonds) moontlik aangewend kan word om sommige van hulle as senior leraars van die VGKSA te help wat naby aan emeritaat is, en wat voel dat hul kerkrade hulle jare lank te min betaal het.  Die saak is egter na my mening nie in die konteks van restitusie aangeroer nie.  UIt die aard van die saak beskik ek ook oor geen bevoegdheid om op sulke versoeke te reageer of kommentaar te lewer nie.

Ek wil egter op ‘n neiging wys wat na my mening uiters skadelik vir verhoudinge kan wees.  Die klem op restitusie voor versoening sou daartoe kon lei dat die instansie wat aandring op restitusie, of dan die VGKSA, die gevaar loop om in ‘n “alles of niks” benadering te verval waarin die NG Kerk as “sondaar” in terme van diskriminasie en apartheid, permanent in die beskuldigdebank geplaas word, en slegs die moontlikeid van vergiffenis voor te hou wanneer ‘n vorm van restitusie sou plaasvind.  Ongelukkig is hierdie soort diskoers deels gebaseer op ‘n bepaalde, eensydige  hantering van die Belhar-belydenis, in stryd met die nederige gesindheid van die begeleidende brief wat destyds daarmee saam uitgereik is.

Daar is waarskynlik min NG lidmate en selfs -predikante wat daarvan bewus is dat so ‘n agenda hoegenaamd bestaan.  Die aandrang op ‘n algemene, landswye vorm van restitusie of vergoeding, op grond van die nadelige gevolge van apartheid op kerke met gekleurde lidmate, sal waarskynlik min, indien enige, regskrag hê.  In die gemoed van NG lidmate en -kerkrade sal dit waarskynlik  geen morele krag of oorredingskrag hê nie.  Dit sal na my oordeel op die lange duur nie tot beter verhoudinge lei nie.  Selfs indien sodanige eise en verwagtinge regtens afgedwing sou kon word, sal dit allermins die gesindhede en optredes positief beïnvloed. Indien dit so ver kom, kan dit uiteindelik juis daartoe lei dat die NG Kerk finaal van kerkhereniging as ‘n praktiese moontlikheid kan afstand doen.  Dan sal geen  eminente persoon uit watter ekumeniese liggaam ook al die klowe kan oorbrug en versoening kan bewerk nie.  En soos in die verlede sal dit dikwels die gewone VGK-leraar in ‘n plattelandse gemeente wees wat die prys moet betaal in terme van nog verdere afsydigheid van die kant van die NG Kerk en n’ nog meer toe hand as in die verlede. 

Die probleem wat hom in hierdie opsig voordoen het onder andere te doen met valse persepsies en oordrewe verwagtinge van die kant van VGK-leiersfigure en van sommige VGK-leraars.  Die persepsies gaan daaroor dat die NG Kerk oor bykans onuitputlike kapitaalbronne (moet) beskik, terwyl die verwagtinge natuurlik daarin bestaan dat die NG Kerk bereid moet wees om dit met die VGK te deel. Gedeeltelik spruit hierdie eensydige en soms utopiese drome voort uit ‘n onvermoë om die verband tussen kapitaal en inkomste te begryp, of anders gestel die dissipline van die bestuur van inkomstes teenoor uitgawes, om ‘n positiewe balans te verseker, benewens die dissipline wat met die insameling en opbou van die gemeente verband hou.    Daarby is daar min begrip vir die feit dat talle NG Gemeentes, veral op die platteland, self in ‘n oorlewingstryd betrokke is, en dat talle nie meer in staat is om ‘n eie leraar te bekostig nie.  Daar is algemene ooreenstemming dat hierdie tendens gaan voortduur en in werklikheid gaan verskerp, hoofsaaklik weens verstedeliking en ontvolking van die platteland, asook agv grondhervorming.  Selfs hierdie gemeentes wat nie meer op hul eie kan voortbestaan nie, kan nie vanselfsprekend op sinodale hulp staatmaak nie.  Die algemene siening is dat gemeentes eerder gehelp moet word om nuwe maniere te ontgin om hul voortbetaan te verseker soos kombinasies van gemeentes en die gebruikmaking van emeritusleraars.   Daar sal ook duidelike tekens moet wees dat die VGK in sy eie geledere erns maak met intergemeentelike ondersteuning en hulpverlening voordat eise in hierdie verband aan die NG Kerk gestel kan word.  Een van die struikelblokke wat die VGK in hierdie verband sal moet te bowe kom is onder andere die afgunstige en naïewe verklaring van sommige meer tradisioneel-denkende leraars en lidmate, dat gemeentes en hul leiers wat uitsonderlik presteer in terme van leierskap, mobilisering van die gemeente en rentmeesterskap en insameling, dit alleen kan regkry deur van toordery gebruik te maak.  

In ons streek van Noord en Oos is die tema van restitusie na die beste van my wete nog nie in enige amptelike vergadering of gesprek op die tafel geplaas nie.  Die moontlikeid dat dit wel in die toekoms ter sprake kan kom, is wel in ‘n SGF-bestuurskomitee geopper, maar ons het daar vir mekaar gesê dat dit jammer sal wees omdat ons bekommerd is dat dit moontlik ons pogings om gemeentelike samewerking te bevorder in die wiele kan ry.

5.1 Alternatiewe benadering tov herstellende geregtigheid: samewerking, bemagtiging en ontwikkeling

‘n Alternatiewe konteks en gesindheid ivm die verhouding tussen ons twee Kerke is eerder nodig:  een van samewerking en versoening in belang van die koninkryk van God, gepaardgaande met ‘n praktiese benadering van bemagtiging en/of ontwikkeling.  In so ‘n benadering kan daar steeds ruimte vir hulpverlening wees, maar die klem kan algaande meer op gemeente-ontwikkeling, opleiding en toerusting van leiers, groter offervaardigheid van lidmate en beter administratiewe ondersteuning van VGK-gemeentes val.  In ‘n verhouding van samewerking en onderlinge respek tussen NG- en VG-gemeentes word daar wegbeweeg van blamering en verwyte aan die een kant en van onwilligheid om by ons arm broers en susters betrokke te raak aan die ander kant.   Dit laat die klem val op gesindhede, op geestelike groei, en op onderlinge hulpverlening en ondersteuning, sonder om weer in die ou paternalisme en/of afhanklikheidsindroom te verval.  In so ‘n benadering kan ware geregtigheid en barmhartigheid na my oordeel beter tot hul reg kom as in ‘n eensydeige benadering van herstellende geregtigheid.

So ‘n alternatiewe benadering van volhardende saamwerk, saambid en saam getuig kan daartoe lei dat daar uiteindelik werklik ‘n gedeelde stel waardes, gebaseer op respek en op die beginsel van vrywilligheid ooreengekom kan word tot ‘n ”sagte” vorm van kerkeenheid waarin die eie identiteit en belange van die onderskeie kerke beskerm is en waarin ‘n bedreiging van oorheersing van die een oor die ander, of dit nou werklik of bloot persepsueel is, by voorbaat uitgeskakel word.  Dit kan ook die ruimte skep dat teologiese verskille op ‘n meer nie-bedreigende wyse uitgepluis en deurgepraat kan word, sodat ons mekaar kan help om die splinters en balke in mekaar se oë met liefde uit te wys en dit wat in ons eie oë sit dan uit te haal.  

‘n Konsekwensie van hierdie alternatiewe benadering is die oortuiging dat dit nie die konfronterende en/of manipulerende benadering wat so tipies van dr Nico Smith se optrede en diskoers is, en soms ook van die nasionale VGKSA leierskap, wat mense se gesindhede sal verander nie, maar eerder ‘n nie-bedreigende, gemaklike omgang met mekaar in ‘n respekvolle samewerkingsvennootskap.  Hierdie ervaring kan uiteindelik die besef by ons as NG gemeentes tuisbring dat daar ook tevore ‘n onnodige rasse-sensitiwiteit en vrees vir die kontaksituasie by ons teenwoordig was wat daartoe bygedra het dat ons nie by mekaar uitgekom het nie.  Uiteindelik kan dit dalk ook die weg voorberei vir ‘n beter deurdagte en gelukkiger vorm van kerkeenheid, waarin ons mekaar nie bedreig nie en waar die samewerking werklik vrywillig en hartlik sal wees.    

Voorwaarde vir so ‘n nuwe manier van samewerking en versoening is egter duidelike en verstandige leierskap van die NG Sinodes en ringe sowel as van VGKSA Sinodes en rInge, anders sal samewerking  beperk bly tot geïsoleerde pogings en inisiatiewe, soos dit tans die geval is.  ‘n Verdere voorwaarde is dat dat samewerking nie net gefokus moet wees op “projekte” nie, soos die neiging nou by baie NG gemeentes is nie, maar ook op menslike omgee en persoonlike betrokkenheid asook op bemagtigende hulpverlening om ons werklike arm broers in die bediening konkreet by te staan en te ondersteun.  In gesamentlike beplanning moet die VGK ook gehelp word om na nuwe maniere te kyk om skaars hulpbronne te gebruik,  werkkragte optimaal te benut, en na nuwe, kreatiewe maniere te kyk hoe om die uitdagings van bediening aan te pak.  Een voorbeeld hiervan is die benutting van toerusting van ouderlinge en gemeentellede met behulp van die Nehemia-kursusse, veral in die lig van die kolossale tekort aan leraars in die VGK met meer as veertig vakante poste in die VGKSA Noordelike SInode.    

5.1.1 NG Kerk: Ideale optrede – vrywillige menslikheid, barmhartigeid, geregtigheid

Ek wil in hierdie verband ‘n ernstige pleidooi lewer dat ons as NG Kerk sal afstand doen van die negatiewe en skadelike besluite van die verlede dat subsidies aan die VGKSA uitgefaseer word omdat dit “outyds of uitgedien” is,  soos ‘n NG leraar dit onlangs aan my gestel het.  Die meerderheid voltydse swart leraars in die VGKSA Noordelike Sinode verdien nie meer as ongeveer R3 500 tot R5 000 per maand  nie. Daar is selfs enkeles wat met salarisse van so min as R2 400, R1 500, en R1 000  per maand oor die weg moet kom.  Die vraag is hoe jy ‘n huishouding en ‘n motor of bakkie, wat jy benodig vir jou werk, hiermee in stand kan hou, en dalk nog iets kan oorhou om ook jou kinders ‘n goeie opvoeding te gee. 

Kan ons nie ‘n gekoördineerde poging aanwend en ons gemeentes mobiliseer om te verseker dat geen VGKSA of NGKA leraar minder as R5 000 per maand ontvang nie?  Ter wille van menslikheid, barmhartigheid en geregtigheid ?  Wat sou dit nie vir die herstel van onderlinge verhoudinge kon beteken nie ? En vir ‘n hernieude getuienis-beweging wat ook tot gesamentlike uitreik na ‘n onbereikte gemeenskap kan lei ?  In die lig van dr Anton Pienaar se vraag of ons nie net eers vriende kan wees nie, (waarmee ek volmondig saamstem), moet ons as NG Kerk dalk eers die vraag beantwoord of ons altyd (goeie) vriende vir die VGKSA was, en indien nie, of ons nie nou maar radikaal en daadwerklik daarmee kan begin nie ?  (Daar is natuurlik talle NG Gemeentes wat hierdie vriendskap inderdaad oor ‘n lang tyd uitleef.)   Ek weet dat ek in hierdie opsig dalk teen die stroom van huidige NG-denke swem, maar ek glo met my hele hart dat dit presies is wat die Here Jesus van ons verwag en dat dit deur die krag van die Gees wondere kan werk.

Die uitweg uit die dilemma van kerklike verhoudinge in ons “Familie” wat in hierdie punt en ander punte aangedui word, is in ooreenstemming met die beginsels wat die Arbinger-Instituut in hul kursusse en publikasies voorstaan.  Dit is egter ook die essensie van dit wat die evangelie ons leer oor die suksesvolle hantering van medemenslike verhoudinge. In essensie kom dit daarop neer dat ons alleen uit die vernietigende sirkelgang na benede van slegte interaksies soos oor-en-weer verwyte kan kom wanneer elkeen uit sy eie begin om die ander te “wow”, soos die Amerikaners graag sê, oftewel, soos die Bybelse spraakgebruik aandui te “bless” of te seën, of in goeie Afrikaans, vir mekaar tot seën te wees.    Dit begin in die imtieme verhoudinge van die huwelik en gesin, maar dit strek ook wyer tot in die breë samelewing.

5.1.2 NG Kerk en VGK: Nuwe Planne

 

Indien NG En VG-gemeentes gesamentlik kan sit om nuwe planne te maak oor die voortsetting van bediening en selfs oor betrokkenheid by die gemeenskap in terme van liefdesdiens en Christelike gemeenskapsontwikkeling, kan twee meganismes wat deur NOVA voorgestel is en tans reeds beproef word, oorweeg word as ‘n plan om te midde van krimpende finansiële bronne ‘n nuwe pad te vind.

5.1.2.1 Verkope van Koolstofkrediete aan Europese instansies

 

Dit kan veral in gevalle toegepas word waar waar steenkoolvure in plattelandse huise gebruik word vir verwarming en voedselvoorbereiding, en besparings in skadelike rook en gifgasse bewerkstellig kan word dmv alternatiewe tegnieke van vuurmaak, en waar sodanige besparings in terme van wêreldwye partyk ter bestryding van sogenaamde aardverwarming of klimaatsverandering in Europa of indie VSA “verkoop” word.  Fondse word so ingesamel om diensgetuienis-projekte plaaslik mee te ondersteun, bv die versorging en opvoeding van kwesbare kinders en weeskinders.   Terselfdertyd is die besparing van steenkool plaaslik en die vermyding van onnodige mediese kostes met lugweginfekses ens, ook ‘n finanisiële voordeel en gesondheidsvoordeel vir die betrokkenes by die projek.   

 

5.1.2.2 SEB-Projekte

Die wette ivm swart ekonomiese bemagtiging en die verpligte maatreels in terme van

die wet soos dit maatskappye raak, veral tov die maatskaplike ontwikkeling, bied die geleentheid aan besighede waar kerklidmate betrokke is om dmv bydraes aan kerkverwante aksies en projekte die kerk se diensgetuienis in die wêreld te ondersteun en terselfdertyd punte op die sogenaamde “BBEE scorecard” of SEB telkaart te verdien.  Net soos in die geval van  koolstofkrediete kan die fondse wat so gegenereer word aangewend word vir diensgetuienis-projekte, waarby leraars van die VGK in die platteland betrek kan word en waaruit hulle ook ‘n inkomste kan verdien.  In albei gevalle kan die projekte in samewerking met NOVA aangepak word, wat die konsepte ontwikkel het en wat bereid is om gemeentes op plaaslike vlak met implementering te ondersteun en te begelei.   Waarskynlik sal plaaslike NG-VG vennootskappe dit nodig vind om ‘n NWO (nie winsgewende organisasie) te stig en by die Dept van Maatskaplike Ontwikkeling te registreer met die oog daarop om hierdie fondse te kan ontvang en bestuur.      

 

6.      Gebrekkige Sendingvisie  – Vasgevang in Gemaksone

 

By al die verstaanbare redes waarom NG Gemeentes en –dominees nie juis by VGK-gemeentes betrokke wil wees nie, is daar  natuurlik ook die menslike en sondige faktor van ’n gemaklike na-binnegerigtheid, gebrekkige sendingvisie en ’n sondige selftevredenbheid, gepaardgaande met verknogtheid aan die eie gemaksone. Talle NG gemeentes en –leraars vind dit net eenvoudig te inspanned of gewoon te riskant om die ras-, kultuur- en taalgrens oor te steek en met ’n VGK-gemeente saam te werk.  Dit is nie verniet dat ’n populêre boekie oor wêreldsending van George Verwer, die uitvoerende hoof van Operasie Mobilisasie, die titel dra van ”Out of the Comfort Zone !”. 

In ’n onlangse lesing het Prof Klippies Kritzinger daarop gewys dat NG dominees waarskynlik die enigste beroepsgroepering is wat hul beroep nog binne ’n eendimensionele homogene kultuur- en rassegroep kan beoefen.  Die lidmate van die kerke word in hul beroepswêreld geen keuse gelaat nie.  Dit is byna sonder uitsondering interkultureel.  Dit mag ’n oordrywing of veralgemening wees, maar die vraag bly of dit nie oor die algemeen van toepassing is nie.

Dit kan wees dat ’n leraar wel die begeerte het om by interkulturele uitreik-aksie betrokke te wees, maar dat ’n ”konserwatiewe” kerkraad en gemeente dit nie toelaat nie.  Die leraar is immers in hulle diens en is gebonde aan die voorkeure en afkeure van die werkgewer. In ander gevalle kan die kerkraad en gemeente nie ongenee wees om by sodanige aksies betrokke te raak nie, maar die leraar(s) is eenvoudig vasgevang in hulle gemaksones en beleef self nie die dringende werking van die Gees om uit te reik nie.

6.1 NG Kerk en VG Kerk: Radikale bekering, gebedsafhanklikeid om die wil die Here te onderskei en gebed om vervulling met die Heilige Gees.                     

 

7.      Positiewe Voorbeelde van Samewerking en Gesamentlike Ondernemings wat Werk

 

Sonder om hier op besonderhede in te gaan is dit tog gepas om daarop te wys dat plaaslike getuienisforums wat goed funksioneer, veral in die platteland in Noordelike Sinode, werklik aangetoon het dat dit moontlik is om goeie verhoudinge en wonderlike samewerking te bou. Ook in die twee forums in Oostelike Sinode, by die Getuienisforum van Mamelodi-Lusaka met die VGK-gemeente Mamelodi-Phahameng en die Gesamentlike Sendingkommissie vir Kwandebele (GSKK) met die VGK-gemeente Hlanganani, het ons oor die jare tog sukses ervaar.  In die VGK-gemeente Mamelodi-Phahameng het ons daarin geslaag, om onder die leiding van ‘n knap en entoesiastiese jong leraar en met die aanmoediging en begeleiding van die Forum,  die inkomste van die gemeente van ongeveer R60 000 per jaar te verhoog tot ongeveer R350 000 pj.  By die GSKK is ons ook nou besig met ‘n proses om die selfonderhoudendheid van die Hlanganani-gemeente met sy twintig preekpunte, ook onder leiding van ‘n nuwe leraar, met rasse skrede te verhoog.     Hier sal NG ondersteuning egter nog vir ‘n tyd lank nodig wees, ook met kerkbouprojekte.   

Ook by die Sinodale Getuienisforum het ons in ‘n baie groot mate daarin geslaag het om presies hierdie soort wedersydse gesindhede waarna hierbo verwys is, nl respek, vriendskap en waardering, onder mekaar te vestig en uit te leef, ten spyte van verskille hier en daar. In hierdie verband wil ek graag na die rol van ds Thinus Grobler en van dr Daniël Maluleke te verwys.  Albei hierdie leiers is verbind tot die evangelie en die saak van broederlike verhoudinge en samewerking tussen ons Kerke.  Dit geld ook van die ander lede van die SGF, in besonder die broers van die VGKSA van wie ek oor die afgelope ses jaar net liefde, respek en waardering ervaar het.

  1. 8.      Ten slotte:  Dit is moontlik om goeie verhoudinge en vrugbare samewerking te vestig.  Begrip, respek, liefde en volharding is die menslike bestanddele van sukses. Genade is die oorkoepelende en bemagtigende goddelike bestanddeel.   

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!