Kerkhereniging: Een Kerkverband

1. Inleiding

Die NG Kerk is hartseer en verleë omdat ons na baie jare se gesprekke oor kerkhereniging nog nie veel gevorder het nie. Terwyl daar faktore is wat die proses werklik baie moeilik maak, weet ons dat dit nie ‘n verskoning is nie.

By die Sinode het ons voor die aangesig van die Here opnuut oortuig geraak van die belangrikheid van kerkeenheid en ons wil onsself met nuwe toewyding daaraan wy. Ons glo dat die Here van ons vra om so spoedig moontlik ou breuke te heel en as volle familie van kerke byeen te kom in een kerkverband. Ons glo ook dat ‘n verdeelde kerk baie moeilik die roeping wat die Here vir ons as kerk het, sal kan uitvoer. Ons huiwer om dit te sê, maar ons oordeel dat versuim in hierdie verband nie net sal beteken dat ons die Here gefaal het nie, maar ook ons Suider-Afrikaanse samelewing – en miskien veral die kinders en jongmense.

Ons pleit by die ander kerke van die NGK-familie vir ‘n ínklusiewe herenigingsproses waarin ons poog om sover moontlik almal wat deel is van ons kerke, saam te neem op die pad vorentoe.

Ons is verbind aan die VGK wat vir ons sê dat die Belharbelydenis vir hulle baie belangrik is en dat hulle dit sal wil inbring in die nuwe verband. Ons is egter ook verbind aan die NGKA en die RCA wat vir ons sê dat hulle nie kans sien om Belhar volledig as belydenisskrif te onderskryf nie.

Wat ons eie kerk betref, het ons ‘n verantwoorde­likheid teenoor baie predikante en lidmate wat gereed is vir’n hegte eenheid en graag Belhar sou wou onderskryf, maar ook baie predikante en lidmate wat om verskillende redes nie kans sien om Belhar as belydenisskrif te onderskryf nie.

Ons glo dat ons ‘n verantwoordelikheid teenoor al hierdie groepe het en sou onsself wou gee vir ‘n proses waarin ons so gou as moontlik een word in ‘n “ruim huis” wat plek maak vir almal van ons – met die baie waaroor ons saamstem, maar ook dit waaroor ons verskil.

Ons glo dat dit ironies sal wees as ons rondom ‘n belydenisskrif wat juis die eenheid van die kerk bely by ‘n punt kom waar ons die kerk maar laat skeur omdat ons nie meer glo dat die Here ons almal bymekaar kan hou en in een herenigde kerk kan saambring nie.

Ons pleit by ons broers en susters vir ‘n spoedige hereniging in ‘n ruim en breë eenheid waarin ons mekaar aanvaar en aanneem met al ons bagasie, en ook kans kry vir ‘n groeiproses waarin ons mekaar leer ken en leer liefkry.

Ons bied die volgende voorstel aan die ander lede van die familie aan as ons aanbeveling oor hoe ons mekaar iewers in die middel kan ontmoet en ‘n pad saam kan begin loop. Ons gaan ook so spoe­dig moontlik met ons eie gemeentes in gesprek tree oor hierdie voorgestelde proses vir kerkhere­niging.

Ons hoop dat ons spoedig “iewers in die middel” een nuwe herenigde kerk kan vorm waar ons almal saam voor Christus buig en voor mekaar en as ‘n saam-kerk die pad vorentoe aanpak.

2. Verbintenis tot kerkhereniging

Die NG Kerk herbevestig sy ernstige en duidelike verbintenis tot die herstel van een kerkverband met die ander drie kerke van die Familie, nl die VGK, die NGKA en die RCA. Hierdie verbintenis is ge­grond in die oortuiging dat die Here dit van ons vra – ter wille van sy eer (Joh 17:23) en ter wille van ons gesamentlike roeping(Ef 4:4) en getuienis in Afrika nóú. Ons glo dat ons as Familie bymekaar hoort, mekaar nodig het en saam ‘n wesenlike taak te vervul het in ons lande.

3. ‘n Keuse om gou weer op gang te kom met die proses en saam te groei na groter een­heid

3.1 Die NG Kerk is jammer dat die herenigings­proses sloer. Ons is oortuig dat daar genoeg gronde is waarom ons spoedig met die kerkherenigings­pro­ses kan begin:

(1) Ons het ‘n gedeelde geskiedenis en weet al­mal dat ons bymekaar hoort;

(2) Al die kerke aanvaar reeds die formuliere van eenheid as ‘n gemeenskaplike belydenisbasis;

(3) Die Algemene Sinode het reeds in 1998 gesê dat hy die wesenlike inhoud van die Belharbelydenis aan­vaar;

(4) Daar bestaan in baie gemeentes, ringe en sinode reeds baie goeie samewerkingsverbande en strukture en op sommige plekke is daar reeds eenheidstrukture opgerig.

3.2 Ons is van oordeel dat hierdie sake genoeg geloofskonsensus bied sodat ons saam weer die proses op pad na een kerkverband kan begin. Ons doen ‘n beroep op die ander kerke van die familie dat ons so gou doenlik die voorbereidende proses op gang sal kry.

3.3 Ons glo dat ons so ‘n pad nie alleen aan­pak nie. Die getuienis van ander wat die pad reeds geloop het, help ons om ons vertroue te stel op die versoenende krag van die evangelie van Christus wat ons steeds nader aan mekaar kan bring en ons kan laat groei in ons liefde en begrip vir me­kaar.

4. ‘n Pad wat baie geduld, begrip en tege­moet­komendheid van almal vra

Die geskiedenis leer ons dat verenigingsprosesse tussen kerke nooit eenvoudig is nie. Dit vra van alle betrokkenes geestelike toewyding, geduld, lief­de en veral tegemoetkomendheid. Dit beteken dat ons almal bereid sal moet wees om mekaar iewers in die middel te ontmoet. In die proses sal ons deur­entyd moet rekening hou met vrae en on­seker­heid wat mense het en dit met groot geduld, sensitiwiteit en baie gesprek hanteer.

5. Die Belharbelydenis

Omdat die Belharbelydenis ‘n belydenisskrif van een van die familiekerke is, stel ons voor dat dit as een van die belydenisskrifte in die herstelde kerk­verband opgeneem word (vgl besluit AS 1998). Ons is steeds oortuig dat die wesen­like inhoud van Belhar (ons verbintenis aan die Bybelse getuienis oor God Drie-enig, oor die eenheid van die kerk, oor geregtigheid en ver­soening) baie wyd aanvaar word (vgl AS besluit 1998). Dit impliseer nie dat alle gemeentes, pre­dikante, kerkraadslede, en lid­mate van die nuwe verband dit vanselfsprekend as belydenisskrif hoef te onderskryf nie.

Ons is oortuig dat die verskille oor Belhar meer te doen het met historiese, emosionele en simboliese faktore as met die wesenlike inhoud self. Dit is baie belangrik dat ons oor al hierdie faktore sal praat sodat ons nie “by die verlede stilstaan nie” (Jes 43:18), maar saam kan fokus op ons roeping vandag en in die toekoms. Ons verbind onsself hiertoe.

6. Model: ‘n verenigde kerkverband van self­standige plaaslike gemeentes

Ons stel voor dat die presbiteriaal-sinodale kerk­regeringstelsel as model vir die organisering van die nuwe een kerkverband gebruik word. Dit bete­ken dat al die gemeentes as selfstandige gemeen­tes ingevoeg word in ringe, sinodes en een alge­mene sinode. In die proses moet ruimte gelaat word vir onderhandeling, nuwe moontlikhede en ‘n groei na mekaar.

7. Gemeentes se reg om hul oor hul eie werk te besluit word erken

Al die bestaande gemeentes van die verenigde verband sal so behoue bly en almal saam die ge­meentes van die nuwe verband wees. Gemeentes is onderling oop vir bywoning en lidmaatskap. Waar meer as een gemeente in dieselfde gebied val, staan dit gemeentes vry om hulle onderlinge sake en samestelling spontaan en sonder voorskrif of dwang te reël volgens plaaslike behoeftes. Kerkrade behou dus die besluit­nemings­bevoegdheid oor die inrigting van die gemeente.

8. Ander kwessies word gedurende die pro­ses onderhandel

Daar is ‘n aantal sake waaroor saam onderhandel moet word as die voorbereidende proses aan die gang kom. Dit sluit in die skryf van ‘n nuwe kerk­orde, die naam van die kerk, teologiese opleiding, organisasie van kerklike werksaamhede, finansies en eiendomme, taal, ens. Ons is bewus daarvan dat van hierdie sake baie sensitief en emosioneel van aard is en dat die onderhandelings hieroor met baie wysheid, oorleg en sensitiwiteit hanteer sal moet word. Tog is ons van oordeel dat menings­verskille oor hierdie meer praktiese sake nie in die pad van kerkhereniging behoort te staan nie.

9. Wesenlike rol van gesamentlike gesprek en besinning op alle vlakke

Ons glo dat die proses van kerkhereniging in­dring­ende gesprekke en begeleiding op alle vlakke gaan vra – veral ook op grondvlak met gemeentes en lidmate. Ons verbind onsself tot hierdie ge­sprek­ke en oordeel dat dit ‘n groot wins gaan wees as van hierdie gesprekke ook saam gevoer kan word. Ons is oortuig dat dit die proses sal aanhelp as die gesprekke oor eenheid gevoer word in die lig van ons gesamentlike roeping in ons lande en ons gesamentlike geloof in die evangelie.

10. Kerkskeuring moet ten alle koste probeer vermy word

Ons spreek die oortuiging uit dat ons in die herstel van een kerkverband kerkskeuring na enige kant ten alle koste moet probeer vermy. Dit het te dik­wels gebeur – ook in ons gereformeerde tradisie – dat kerkverenigingsprosesse aanleiding gegee het tot kerkskeuring, die vorming van nuwe kerke en nuwe twiste. Ons sal die proses so wil hanteer dat alle predikante, gemeentes en lidmate van die kerke saam hierdie pad aanpak.

11. Die byeenbring van alle gereformeerde kerke

Ons spreek die hoop uit dat die hereniging van die familie ‘n tree sal wees op pad na die byeenbring van alle kerke van gereformeerde belydenis in SA.

12. Raadpleging van gemeentes

Hoewel die Algemene Sinode en sy kommissies ‘n taak het om leiding te neem, onderhandelings te voer en voorstelle te maak ten opsigte van hierdie proses, bevestig ons weereens dat ons verbind is om ons gemeentes te raadpleeg en te toets sodat ons saam hierdie pad kan loop. Ons is oortuig dat ons kerkskeuring ten alle koste moet probeer ver­my. Dit gaan waarskynlik vra vir ‘n proses waarin ons vorentoe beweeg maar heeltyd sensitief is en ruimte maak vir mense met huiweringe en vrae.

13. Proses verder

Vir die proses van raadpleging met die sinodes en kerkrade in die NGK ten opsigte van die eenheids­proses in die NGK-familie stel die Algemene Sinode die volgende riglyne:

1. Die besluite van die Algemene Sinode van 2004 oor die herstel van een kerkverband in die NGK-familie (ASK verslag 13:4 pt 4.3) het die status van aanbevelings vir gebruik in die verdere verloop van die gesprek met hierdie familie.

2. Hierdie aanbevelings word in ‘n konsultasie­proses deurgegee na die sinodes, kerkrade en gemeentes vir kommentaar en verdere aanbeve­lings. Die konsultasieproses met kerkrade en gemeentes is die verantwoordelikheid van elke sinode/sinodale kommissie/sinodale diensraad/ mode­ra­men en word in oorleg met die ASK (plus ander kundiges) as die lede van die taakspan vir kerkhereniging uitgevoer sodat die resultaat nie later nie as einde Januarie 2006 by die ASK is. Die konsultasieproses gaan oor die volgende:

2.1 Die besluite oor kerkhereniging van die Alge­mene Sinode 2004;

2.2 Die praktiese implikasies van elemente van die proses soos gevisualiseer in hierdie besluite plus die bepalings van Die Kerkorde (onder andere artikel 36, 37 en 44) en die Algemene Sinode se besluit oor ‘n moontlike konsensus of ‘n tweederde meerderheid van kerkrade (in 1998 en 2002). In die verband is die volgende by 1.1.9 van die besluite van 2004 belangrik: “Ons sal die proses so wil hanteer dat alle predikante, gemeentes en lidmate van die kerke saam hierdie pad aanpak”.

3. Na die afhandeling van hierdie konsultasie­proses word die resultaat deur die taakspan ver­werk en by die voortgaande gesprek in die NGK-familie betrek. Intussen is die aanbevelings van die Algemene Sinode 2004 beskikbaar vir kom­men­taar vanuit die hele NGK-familie en vorm dit deel van die gesprek en onderhandelings in die familie.

4. Die toetsing van kerkrade en sinodes oor “finale” of eindvoorstelle vir die herstel van hierdie verband word gelaat totdat ‘n behoorlike proses van konsultasie en saampraat met sinodes en gemeentes na die oordeel van die Algemene Sinode of die ASK plaasgevind het.

5. Werklike kerkeenheid staan of val by die wyse waarop dit op gemeentevlak sigbaar word. Daar­om moet gemeentes gemotiveer en konkreet ge­help word om na gelang van hulle plaaslike om­standighede met die ander gemeentes van die NG Kerkfamilie in hulle omgewing, asook binne ander samewerkingstrukture, daadwerklik saam te werk. Aangesien hierdie ‘n saak is wat binne die hele kerkverband belangrik is, is dit ‘n dringende priori­teit wat die ASK in samewerking met en deur sinodes en ringe moet hanteer.

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!