Verbondsverbintenis Tot Hereniging Van Die Familie Van NG Kerke

Verbondsverbintenis Tot Hereniging Van Die Familie Van NG Kerke

Die Algemene Sinodale Kommissie van die VGKSA en die Moderamen van die NG Kerk (die uitgebreide uitvoerende komitees) het die afgelope drie dae saam vergader om te praat oor die herenigingsproses van die Familie van NG Kerke. Dit was ‘n historiese byeenkoms – die eerste keer dat so ‘n groot groep uit die leierskap van die twee kerke saam vergader het.

Ons het by die vergadering gou bewus geraak van ‘n nuwe gees van versoening, samehorigheid en ‘n bereidheid om uit te reik na mekaar. Ons het ervaar dat ons almal nederiger is, meer bereid is om na mekaar te luister en gretig is om mekaar te help op die pad van hereniging. Ons het ook ‘n nuwe dringendheid bespeur dat ons nie langer met die saak van hereniging kan sloer nie.

Tydens die eerste sessie van die byeenkoms het die leierskap van die NG Kerk weereens om verskoning gevra vir die pyn en hartseer wat hulle die VGKSA en sy lidmate in die verlede aangedoen het. Hierdie belydenis is met groot ontroering deur die VGK leierskap aanvaar – ‘n daad wat die toon vir die verdere verloop van die vergadering aangegee het. Op die laaste dag het die VGK leierskap op hulle beurt om verskoning gevra vir die pyn wat hulle die NG Kerk aangedoen het. Die NGK leierskap was hierdeur diepgeraak het en het die verskoning in nederigheid aanvaar. Hierdie gees van versoening en openheid teenoor mekaar is bevestig in ‘n viering van die Nagmaal aan die einde van die vergadering.

Ons is die Here diep dankbaar vir hierdie nuwe gees onder ons. Ons weet dit kom van Hom.

Ons het aan die einde van die vergadering onsself as leiersgroep eenparig verbind om – in lyn met die wens wat ons onderskeie kerke by verskillende geleenthede uitgespreek het – ons kerke daadwerklik te begelei in ‘n proses van eenwording. Ons beoog om die proses binne drie jaar te voltooi.

Ons gebruik die woord verbondsverbintenis met huiwering – wetende dat verbond ‘n groot woord in die Skrif is. Ons doen dit omdat ons onsself en die proses van eenwording, onder die gesag van die woord van God en die wil van Christus wil bring. Ons maak die verbintenis nie uit onsself nie en ook nie onder die druk van politieke en sosiale prosesse nie, maar doen dit omdat ons glo dat die Here wat Homself in genade aan ons verbind het dit van ons vra.

Ons stel in die vooruitsig ‘n nuwe, organies-verenigde, gereformeerde kerk, georganiseer volgens sinodaal-presbiterale beginsels, wat missionêr leef en verbind is aan die Bybelse opdragte van liefde, versoening, geregtigheid en vrede. Ons is tegelykertyd verbind aan nie-rassigheid en inklusiwiteit en aan die aanvaarding en viering van ons multikulturele samestelling. Die verskillende tale wat in ons kerke gepraat word, sal gekoester word.

Vanuit ons gesamentlike geloof in die Drie-enige God van die Bybel wil onsself opnuut verbind aan die kontinent waar die Here ons geplaas het – Afrika, en in besonder Suider-Afrika. Ons wil ons roeping hier saam opneem en ‘n verskil probeer maak aan die lewensbedreigende probleme wat ons lande in die gesig staar. Ons verbind onsself om as deel van ons verkondiging van die evangelie ook saam te werk aan

  • die bestryding van armoede
  • bystand en steun aan weerloses en siekes (soos MIV en Vigslyers),
  • die vestiging en uitbouing van die morele waardes van die Woord,
  • die bevordering van geregtigheid teenoor alle mense
  • versoening wat meer is as blote toleransie van mekaar
  • en aan die beeindiging van alle soorte geweld in ons samelewing.

In die gees van versoening en ondersteuning van mekaar op die weg na hereniging het die ASK van die VGKSA die oortuiging uitgespreek dat die hantering van die Belharbelydenis nie ‘n struikelblok in weg van hereniging moet wees nie. Hulle volledige besluit lui as volg: Ons aanvaar die uitdaging om binne drie jaar een verenigde kerk te wees. In die verband mag die Belhar Belydenis nie as voorwaarde vir eenheid geld nie. Die boodskap van Belhar sal steeds vir ons die inspirasie en gids wees vir beide die proses tot en die formasie van die nuwe kerk. In lyn met die besluite van beide die kerke sal die Belydenis van Belhar ‘n volwaardige belydenisskrif van die nuwe kerk wees en sal ons saamwerk om die kerk te help om te groei tot ‘n volledige aanvaarding van die belydenis. Ons sal die besluit vir volledige goedkeuring na ons volgende sinode neem.

In hulle reaksie op die verklaring van die VGKSA het die leierskap van die NG Kerk hulle diepe waardering en dankbaarheid vir die dapper besluit uitgespreek en die VGK verseker van hulle vaste verbintenis aan die Bybelse opdragte van eenheid, geregtigheid en versoening, die drie groot temas van die Belydenis van Belhar. Die NGK se leierskap is van mening dat hierdie verklaring van die ASK van die VGK die standpunte van die twee kerke oor die Belhar Belydenis feitlik in lyn met mekaar bring.

In die proses van eenwording verbind ons onsself om daadwerkelik aan die volgende sake aandag en uitvoering te gee:

- die daarstelling van eenheidsbedienings op grondvlak waar gemeentes die begeerte het en gereed is daarvoor

- dit moontlik maak vir gemeentes, ringe en sinodes wat gereed is daarvoor om te verenig

- die aanpak van gesamentlike projekte waardeur ons uitvoering gee aan ons roeping soos bo geformuleer

- die skep van geleenthede vir ons lidmate om mekaar beter te leer ken, mekaar se vrese en drome te hoor, mekaar se geloof en hoop te deel en ook oor ons verskille te praat en ons vooroordele te oorkom

- dringend aandag te gee aan die hofsake in die Vrystaat, Phororo en eldes en alles moontlik te doen om die groepe tot versoening te bring buite die hof deur middel van ‘n gestruktureerde versoeningsproses

- te werk aan aanvaarbare wyses waarop sake wat te doen het met die Belydenisbasis, kerkorde en administrasie van die nuwe kerk hanteer kan word.

- ‘n behoorlike proses uit te werk waardeur gemeentes en lidmate ingelig kan word oor die eenheidsproses en al sy implikasies en die geleentheid kry om daarop te reageer

Die leierskap verbind hulself om gereeld saam te vergader, sover moontlik saam besluite te neem en saam op te tree – as ‘n konkrete uitdrukking en simbool van ons verbintenis aan mekaar en aan die eenwordingsproses.

Hierdie verbondsverbintenis het gegroei uit bilaterale ontmoetings van die leierskap van die VGKSA en die NGK. Ons begeer en bid dat die twee ander kerke van die familie van NG Kerke so gou as moontlik deel sal word van die proses. Die familie sal nie heel wees sonder hulle nie. Ons sal sou gou moontlik met hulle in verbinding tree hieroor.

Ons wil ook die hoop uitspreek dat ons eenwording ‘n tree kan wees in die rigting van ‘n die vorming van ‘n groter verenigde gereformeerd- presbiteriaanse kerk in Suider-Afrika.

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!