Memorandum van Ooreenkoms

MEMORANDUM VAN VERSTANDHOUDING VIR DIE VESTIGING VAN DIE SINODALE GETUIENISFORUM

Aangegaan tussen die SINODES van :

* DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK VAN NOORD -TRANSVAAL

* DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK VAN OOS -TRANSVAAL

* DIE VERENIGENDE GEREFORMEERDE KERK IN SUIDER -AFRIKA VAN NOORD -TRANSVAAL,

met die oog op die vestiging van DIE SINODALE GETUIENISFORUM van die NG KERK NOORD-TVL, NG KERK OOS-TVL EN VGKSA NOORD-TVL, hierna die Sinodale Getuienisforum genoem. Die doel van die Sinodale Getuienisforum is om vanuit ‘n gemeenskaplike koninkryksvisie, die vestiging van getuienisforums tussen gemeentes van die NG Kerk en VG Kerk in Suid-Afrika, op plaaslike en streeksvlak aan te moedig en te bevorder. Waar nodig sal getuienisforums begelei of van bestuurskundigheid voorsien word. Die doel is om die plaaslike- of streeksforums aan te moedig om ‘n gesonde onderlinge verhoudingsproses te ontwikkel om uitreikaksies in die plaaslike gemeenskap(pe) en omliggende gebiede te beplan en aan te pak as mede-eienaars wat gesamentlike verantwoordelikheid aanvaar.

Die Sinodale Getuienisform word saamgestel uit drie afgevaardigdes van die NG Kerk NTvl, drie afgevaardigdes van die NG Kerk OTvl en ses afgevaardigdes van die VGKSA NTvl. Deur die ondertekening van hierdie Memorandum van Verstandhouding, word die Sinodale Getuienisforum gevestig.

Die Sinodale Getuienisforum word deur ‘n bestuurskomitee geadministreer wat bestaan uit ‘n voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris en addisionele lid. Al drie sinodes moet in die bestuurskomitee verteenwoordig word.

Die deelnemende sinodes sal finansiƫle bydraes tot die Sinodale Getuienisforum maak soos van tyd tot tyd ooreengekom word. Vir die funksionering van die Sinodale Getuienisforum onderneem die twee deelnemende NG Sinodes om elkeen 45% van die begroting vir die funksionarispos by te dra, terwyl die VGK Sinode 10% sal bydra.

Die Sinodale Getuienisforum gee opdrag aan die Bestuurskomitee om die Sinodale Getuienisforum in terme van Wet 71 van 1997 by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling te laat registreer as ‘n organisasie sonder winsoogmerk (OSW/NPO). Indien persone in diens geneem word kan die Sinodale Getuienisforum ook by Binnelandse Inkomste as ‘n werkgewer registreer. Persone word in diens geneem ingevolge ‘n skriftelike dienskontrak. Indien ‘n predikant benoem word, sal die personeelregulasies, diensvoorskrifte en vergoedingskale van Algemene Sinode van die NG Kerk (2002) van toepassing wees. Die kerklike opsig en tug oor die persoon sal by die Kerk tuishoort waarvan hy/sy ‘n lidmaat is. Die finale diensooreenkoms sal deur die Bestuurskomitee met die benoemde persoon onderhandel en ooreengekom word, nadat daar met die actuarii van die deelnemende sinodes oorleg gepleeg is.

Indien enige dispuut uit so ‘n dienskontrak mag kom, sal die Sinodale Getuienisforum besluit hoe om dit te hanteer. Die Sinodale Getuienisforum kan ‘n ad hoc- kommissie aanwys wat albei partye verteenwoordig, om dit te hanteer.

Nuwe deelnemende sinodes kan toetree deur ‘n addendum tot hierdie Memorandum te onderteken.

Deelnemende sinodes bevestig dat kennis geneem is van die Waardes en Riglyne vir Gesamentlike Getuienisforums en dat hulle ook die konstitusie van die Sinodale Getuienisforum onderskryf en goedkeur.