Missie en Waardes
“ONS GETUIG EN DIEN SAAM”
BESTAANSDOEL:
Die bestaansdoel van die Sinodale Getuienisforum is om die roeping van die kerk tot gesamentlike diensgetuienis binne bogenoemde drie sinodes te bevorder.
- Die Sinodale GetuienisForum het die roeping en taak as gesamentlike bedieningstruktuur van die Noordelike en Oostelike Sinodes van die NG Kerk en die Noordelike Sinode van die VGKSA, om vanuit ons gemeenskaplike geloof in die drie-enige God en ‘n gedeelde koninkryksvisie, aan God se sending in die wêreld deel te neem, om die goeie nuus oor Jesus Christus deur die krag van die Heilige Gees te versprei, wat die verlossing en genesing van die mensdom in die oog het, en uiteindelik die vernuwing van die ganse skepping ten doel het, maar wat eers by die wederkoms van die Here volkome ‘n werklikheid sal word;
- Die GetuienisForum het die mandaat van die deelnemende sinodes om die roeping van die kerk tot getuienis, liefdesdiens en versoening deur ‘n nuwe styl van gesamentlike diensgetuienis tussen gemeentes van die twee Kerke te bevorder en te fasiliteer;
- Hierdie fasilitering het die spesifieke doel om plaaslike getuienisforums tot stand te bring, waar verhoudinge gebou kan word, wedersydse ondersteuning en bedieningsverryking kan plaasvind, en gesamentlike uitreikaksies in die gemeenskap onderneem kan word op die basis van die beginsel van gesamentlike eienaarskap.
MISSIE/ROEPING
Die SGF aanvaar die roeping om vanuit ons gemeenskaplike geloof in die drie-enige God en vanuit ‘n gedeelde koninkryksvisie, aan God se sending in die wêreld deel te neem, en met sinodale diensgroepe, ringe en gemeentes van die NG Kerk en die VGKSA, saam te werk en fasiliterend op te tree om:
- te bou aan ‘n nuwe visie op die liefde van God vir die wêreld en aan ‘n nuwe roepingsbewustheid tov ons getuienis oor die heil en die nuwe lewe in Jesus Christus;
- diensgetuienis te bevorder as ‘n breë benadering tot getuienis wat beide evangelisering en liefdesdiens insluit;
- begrip en goeie verhoudinge tussen gemeentes van bogenoemde kerkverbande te bou en hulp te verleen om versoening te bewerk waar verwydering ingetree het;
- ‘n nuwe styl van samewerking en vennootskap te bevorder wat lei tot die aanvaarding van gesamentlike eienaarskap tov ons diensgetuienis;
- plaaslike getuienisforums tot stand te bring as konkrete uitdrukking van ons eenheid en as praktiese struktuur vir ons gesamentlike diensgetuienis;
- gemeentes te ondersteun om ons eenheid en versoening in Christus konkreet te maak deur geleenthede van gesamentlike aanbidding;
- praktiese strategieë te ontwikkel waarmee gemeentes saam ‘n verskil kan maak t.o.v armoede, MIV-Vigs en gesinsverbrokkeling;
- gemeenskapsgerigte projekte as tekens van hoop te vestig wat heilsaam, effektief, volhoubaar en bekostigbaar is;
- die geleentheid te skep, as deel van die kerk se profetiese roeping, vir geloofwaardige gesamentlike publieke getuienis oor geregtigheid, moraliteit en Christelike waardes in die samelewing;
- navorsing te doen en leiding te gee oor modelle van interkulturele bediening en nuwe gemeente-ontwikkeling, in verafgeleë gebiede en in nuwe stedelike ontwikkelings;
KERNWAARDES
- verbondenheid aan die Bybel as die Woord van God in die konteks van die Gereformeerde belydenisskrifte;
- gebedsafhanklikheid van die Here in die krag van die Heilige Gees;
- ‘n spiritualiteit wat persoonlike dissipelskap sowel as die korporatiewe roeping van die kerk en gemeentes in die wêreld ernstig opneem;
- broederlike onderlinge verhoudinge as die sleutel tot goeie samewerking en geslaagde vennootskap tussen gemeentes, wat verder gekenmerk word deur:
- menswaardigheid, wedersydse respek, aanvaarding, en versoening, met sensitiwiteit vir die onreg en seerkry van die verlede,
- volwasse, oop, eerlike kommunikasie t.o.v wedersydse verwagtinge, en aktiewe luister na mekaar,
- ‘n doelbewuste keuse om vooroordele en stereotipes van mekaar te vermy en te oorwin,
- ‘n doelbewuste keuse teen rassisme, dominasie, manipulasie, bv deur meerderwaardigheid, ekonomiese mag, skuldgevoelens, ens.,
- ‘n nuwe styl van vennootskap wat die kultuur-diversiteit en ander verskille op so ‘n wyse hanteer dat almal bemagtiging en geestelike groei ervaar,
- kreatiewe probleemoplossing en konflik-transformasie as vredeskepping, met die oog op wen-wen uitkomste,
- bemagtiging en toerusting van ampsdraers en lidmate;
- bemagtiging van armes as mense met ‘n Godgegewe menswaardigheid en potensiaal wat deur die evangelie ontsluit kan word;
- duidelike en gereelde kommunikasie na die deelnemende kerkrade en gemeentes en effektiewe bemarking van projekte;
- deelnemende leierskap en besluitneming;
- deursigtigheid van bestuursprosesse en goeie finansiële bestuur;
- ‘n ekumeniese benadering wat ook ander Christelike kerke wat daartoe bereid is, by ons plaaslike getuienisforums kan inskakel.
