Jy kyk na » Tuisblad » Basisdokumente » Verkorte Missie en Bedieningsfilosofie

Verkorte Missie en Bedieningsfilosofie

VERKORTE MISSIE 

  • Die Sinodale GetuienisForum het die roeping en taak as gesamentlike bedieningstruktuur van die Noordelike en Oostelike Sinodes van die NG Kerk en die Noordelike Sinode van die VGKSA, om vanuit ons gemeenskaplike geloof in die drie-enige God en ‘n gedeelde koninkryksvisie, aan God se sending in die wêreld deel te neem, deur die roeping van die kerk tot getuienis, liefdesdiens en versoening in ‘n nuwe styl van gesamentlike diens en getuienis tussen gemeentes van die twee Kerke te bevorder ;

  • Hierdie doel word prakties en konkreet nagestreef deur die inisiëring en vorming van  gesamentlike getuienisforums op plaaslike vlak, waar  verhoudinge gebou word,  ondersteuning tov bedieningsontwikkeling gedoen word en gesamentlike uitreikaksies in die gemeenskap onderneem kan word, gebaseer op die beginsel van gesamentlike eienaarskap.

 

BEDIENINGSFILOSOFIE

  • Die volgende basiese uitgangspunte geld vir die GetuienisForum se werksaamhede 
    • Die uitvoering van die getuienistaak van die kerk is in die eerste plek die roeping van gewone lidmate en plaaslike gemeentes.    Wanneer ringe van die twee kerke egter besluit om ‘n gesamentlike getuienisforum te stig beteken dit dat ‘n groter vennootskaps-struktuur gevestig word wat ’n veilige ruimte bied waarbinne gemeentes met groter vrymoedigheid kan deelneem en uitreik.   Daarom is die werksaamhede van die GetuienisForum daarop ingestel om  gemeentes sowel as ringe  met die prosesse te fasiliteer en begelei.

    • Die getuienistaak word die beste (effektief en geloofwaardig) verrig word wanneer NG (wit) gemeentes en VGK (swart) gemeentes hande vat en saam uitreik.   Dit impliseer dat ons wegkom van die tradisionele onderskeid tussen “ons werk” en “hulle werk”, en dat ons gesamentlike eienaarskap aanvaar vir die uitreik na onbereiktes en noodlydendes in ons gemeenskappe.

    • Die waardes van wedersydse respek en aanvaarding, goeie verhoudinge en  versoening is die sleutel tot  ’n geloofwaardige en geseënde bediening. 

    • Die vestiging van goeie verhoudinge en die aanvaarding van gesamentlike eienaarskap moet noodwendig lei tot ‘n soort vennootskapsvorming wat ook struktureel tot uitdrukking kom in wat ons verkieslik plaaslike getuienisforums noem. 

    • Getuienisaksie of -bediening kan nie geloofwaardig deur Woordverkondiging en ‘n mondelinge getuienis alleen gedoen kan word nie.  Dit moet gepaard gaan met dade van ontferming en liefdesdiens in die Naam van Christus.
    •  Daarom wil ons gemeentes en ringe begelei en bystaan met strategieë om die knellende nood van die samelewing aan te spreek, met spesifieke aandag aan die uitdaging van armoede en werkloosheid, die MIV-Vigs pandemie, die bekamping en voorkoming van misdaad, en die herstel en versterking van die gesin en morele waardes, gebaseer op Bybelse eise en die Christelike etiek
    • Wanneer die hele evangelie so aan die hele mens gebring word, word tekens van hoop as wegwysers na die koninkryk van God opgerig.
    • Fasilitering van prosesse van vennootskapsvorming het die beste kans op sukses wanneer twee persone, een uit elke kerkverband en bevolkingsgroep, dit gesamentlik hanteer.

Designed by HostingInSA.co.za | Sitemap