Dibukeng – Plek Van Boeke
As ‘n mens op straatvlak voor Sediba House, die kantoorgebou langs die Groote Kerk in Bosmanstraat staan, kyk jy reg in Dibukeng vas. Dibukeng is die boekwinkel van die VGKSA Noord-Transvaal. “DIBUKENG” is ‘n Noord-Sotho (Pedi) woord wat “plek van boeke” beteken. En so is dit inderdaad. Stap ‘n mens na binne, besef jy sommer dadelik dat die keuse van die naam in die kol was. Hier is letterlik boeke vir Afrika. Geestelike boeke in al die tale van Suid-Afrika, asook nog boeke in Europese tale soos Duits, Nederlands, Frans en Sweeds is hier te kry. ‘n Groot verskeidenheid geestelike boeke, beide kontemporêr sowel as klassiek, is hier te vinde. ’n Klein teologiese afdeling, ‘n afdeling vir skoolboeke, en dan nog Bybels, gesangeboeke van talle Kerke, sowel as doopregisters, nagmaalserviese, ens. word hier verkoop.Boonop is die mense wat hier werk, ernstig oor boeke. Mev Suzanne Janse van Rensburg het mnr Raymond Grundlingh, wat na ‘n loopbaan van 31 jaar aan die einde van 2003 afgetree het, as hoofbestuurder van Dibukeng opgevolg. Sy praat entoesiasties oor die missie van Dibukeng: “die regte boek vir die regte persoon op die regte tyd”. Ten spyte van personeelveranderings die afgelope jaar of twee, bly die missie van die boekhandel onveranderd. Dit gaan vir hulle nie bloot oor die verkoop van boeke nie. Dit gaan veral oor ‘n bediening aan die mens wat geestelik honger en soekend is. En oor die geestelike boek as instrument tot die geestelike opbou van gelowiges in die tale van ons land.
Die tak by die Groote Kerk staan bekend as die “GrootKerk-tak”. Dan is daar nog die hooftak in die Willie Theron-gebou, bo in Bosmanstraat naby die stasie, die Silverton-tak by Uitkyk Vleismark, en die Brits-tak.
Om vandag in die uiters kompeterende mark van die boekebedryf ‘n Christelike boekhandel op ekonomiese wyse te bedryf, is geen geringe prestasie nie. As dit boonop ‘n Kerk is wat hierdie prestasie behaal, is dit nog soveel te meer iets om op trots te wees ! Dit is egter tegelyk ‘n pluimpie vir die personeel wat hulle taak oor die jare as ‘n roeping en diens aan die Koning verrrig het.
Adresse van Takke:
- Willie Therongebou, Bosmanstraat 512 (naby stasie)
- Bosmanstraat 173, by Groote Kerk. Tel. nr 012 326 8737
- Uitkyk Vleismark, Silverton. Tel nr 012 804 1335
- Brits: Safari Winkelsentrum. Tel nr. 012 252 5531
Kontak: Die Bestuurder, Dibukeng, Posbus 3889, Pretoria 0001
E-pos: dibukeng@absamail.co.za


15 Januarie 2008 







No comments yet... Be the first to leave a reply!