Die Dienssentrum van die VGKSA Noordelike Sinode
15 Januarie 2008
- Die Dienssentrum is vir baie swartmense van Mamelodi ‘n bekende landmerk. Hierdie rooibaksteengebou in Stormvoëlweg, net langs die Masekhane-brug, is vir hulle ‘n sentimentele plek, want talle van hulle is hier gebore ! Die sentrum is maklik bereikbaar vanaf die N1 met Stormvoëlweg en vanaf die N4 met Watermeyer- en Waltlooweg.
- Die ouer deel van die dienssentrum is in 1934 deur die destydse TVSV (Transvaalse Vroue Sendingverening), as ‘n kraaminrigting vir swart vroue opgerig. Dit is later uitgebou en verder ontwikkel onder leiding van wyle mev Sibs Marais, in lewe eggenote van prof Ben Marais van die Teologiese Fakulteit te UP. Mettertyd is dit omskep in ‘n dienssentrum vir allerlei vorms van opleiding en toerusting om mense met vaardighede te bemagtig, bv opleiding van kleuterskool-onderwysers, lees- en skryfklasse, ens.\. Die goed toegeruste kombuis kan aan ‘n hele skare mense maaltye voorsien.
- Die addisonele kleiner toegeruste kombuis en aangrensende lesingsaal staan bekend as die Sibs Marais Kooksentrum. Dit is aangewend om aan voornemende huishulpe opleiding te gee. Oor die jare is talle vroue hier opgelei.
- Die administratiewe kantore van die destydse NG Kerk in Afrika is in 1980 vanaf die Willie Theron-gebou naby die spoorwegstasie na die Dienssentrum verskuif. Die kantoor van ds Eddie Bruwer, die direkteur van KAN (Kerklike Aksie Noodhulp), is met sy diensaanvaarding in 1985 hier gevestig. Toerusting soos dupliseermasjiene, voumasjiene ens., asook ‘n telefoonsentrale is geïnstalleer.
- Klaskamers vir rekenaaropleiding en ander onderrig is in 1990 opgerig. Die rekenaarsentrum is met die hulp van Amerikaanse vennote opgebou, maar dit het ongelukkig erg onder diefstal en roof deurgeloop. Dit is egter steeds bruikbaar, met agt funksionele rekenaars. Daar word nou opnuut gekyk na moontlikhede om dit weer in bedryf te stel en so ‘n diens aan jongmense van die Mamelodi-omgewing te lewer. .
- ‘n Argief is in 1983 as ‘n byvoeging tot die ou deel van die gebou toegevoeg.
- ‘n Sinodesaal met sitplek vir ongeveer 300 persone is in 1985 hier opgerig. Dit is tans te klein vir die hele sinode, maar dit word gereeld vir vergaderings en byeenkomste van die VGKSA sinode van Noord-Tvl aangewend. Dit word ook soms uitverhuur. Bemarking word egter nie aktief gedoen nie.
- Die slaaplokale met ‘n hele aantal kamers waarvan die helfte stapelbeddens het en die ander helfte gewone beddens, kan in totaal 100 mense slaap, en word gebruik om afgevaardigdes tydens sinodesittings, vrouekonferensies, ens. te huisves. Dit word ook as gastehuis-fasiliteit uitverhuur.
- Onderdak-parkering vir 10 motors is beskikbaar, asook verdere parkering vir ongeveer dertig motors onder koeltebome.
- ‘n Boorgat voorsien water om die gras en bome te benat. Die grondgebied is geweldig groot en geld ontbreek om meer doelgerig tuin te maak.
- ‘n Organisasie bekend as “Men On The Side Of The Road” (“MSR”), wat asessering en opleiding in basiese vaardighede mdo indiensneming aan werklose mans verskaf, huur tans twee kantore, stoorruimte vir gereedskap en ‘n lesinglokaal by die VGKSA Noordelike Sinode. Dit stel hulle in staat om ‘n diens aan die gemeenskap van Mamelodi te lewer.
- ‘n Organisasie wat verstandelik gestremde kinders, wat meestal ook liggaamlik gestremd is, versorg, huur twee kantore en die kapel, waar hulle dan daagliks die kinders versorg en hulle leer om basiese vaardighede te ontwikkel deur vetkerse te vervaardig.
- ‘n Organisasie bekend as “Kgolo Mmogo” (“Groei Saam”), wat ‘n gesamentlike projek tussen Yale Universiteit, Pretoria Universiteit, Kinderwelsyn van Tshwane en Comprecare Joint Venture is, beywer hulle daarvoor om dmv ondersteuningsgroepe verhoudingsbemagtiging en lewenskragtigheid in MIV-positiewe moeders en hul klein kindertjies te bevorder. In opvolging van ‘n projek wat reeds in Atteridgeville aan die gang is, gaan so ‘n projek ook nou vir die gemeenskap van Mamelodit aangebied word. Mdo hierop sal hulle drie lokale in die Dienssentrum op en of twee dae per maand huur.
- Die organisasie “Choose Life” wat dienste lewer aan mense wat MIV-positief is, het ook ‘n kantoor in die Dienssentrum.
- Die kantoor van dr SD Maluleke, saakgelastigde van die VGKSA Noordelike Sinode, en direkteur van KAN (Kerklike Aksie Noodhulp), is hier gevestig. Mev Maluleke hanteer die finansies en die pensioenbydraes van die leraars. Me Hermina Monama is die telefonis en algemene sekretaresse, terwyl mnr James Nkoena die geboue en terrein in stand hou.
Soortgelyke artikels:
Ek is opsoek na mense wat huisbediendes opleiding gee in hoe om huishoudelike take te verrig.
Karen, Jammer om jou mee te deel dat sodanige opleiding nie meer deur die VGKSA Noordeike SInode aangebied word nie. Ek kan jou ongelukkig ook nie hiermee help nie. Ek stel voor dat jy dit self onderneem en in die proses ook goeie verhoudinge bou en jou Christelike geloof deel. Andries