Teologiese Opleiding
Die opleiding van leraars staan onder toesig van ‘n kuratorium, wat ‘n gesamentlike kommissie van die VGK- Sinodes van Noord- en Suid-Transvaal is. Die opleiding het tevore by die Turfloop Teologiese Skool by die Universiteit van die Noorde naby Polokwane (Pietersburg) plaasgevind. Vanaf die begin van 2003 vind dit by die “Northern Theological Seminary” in Pretoria plaas, in samewerking met UNISA en UP. Daar word van ‘n verskeidenheid tutors gebruik gemaak. Daar is tans 47 studente wat besig is met opleiding. Sewe het hul studies aan die begin van 2004 voltooi en is deur die VGK-eksamenkommissie tot die bediening toegelaat en gelegitimeer. Drie het reeds beroepe ontvang. Negentien eerstejaars het vanjaar aangemeld, waarvan agt voltyds studeer en elf deeltyds. Kragtens ‘n beginselbesluit van die Algemene Sinode van die VGKSA, word daar nie meer evangeliste opgelei nie. ‘n Hele aantal evangeliste het reeds dmv verdere teologiese opleiding as leraars gekwalifiseer en is as leraars bevestig. Tien diensdoende evangeliste is tans met indiensopleiding as leraars besig.


15 Januarie 2008 







Sedert ek 17 jaar oud was wou ek graag predikant word in enige van die Gereformeerde kerke. Met arm ouers was die geld nie daar nie en moes ek maar uitspring om te werk.
‘n Hele aantal jare later brand hierdie begeerte steeds binne my. Intussen het ek by die Hugenote Bybelinstituut ‘n diploma in Bybelkunde asook ‘n senior diploma in Etiek gedoen. Later het ek agt eerstejaars vakke vir die BTh aan UNISA geslaag.
Ek sou graag wou weet wat NTS se beleid rondom toelating is aangesien dit steeds my groot begeerte is om tot die bediening toegelaat te word.
In Christus
Dirk
Hallo Dirk,
Daar het nou nuwe verwikkelinge met die VGKSA (URCSA) se teologiese opleiding in die Noorde plaasgevind. Die VGKSA in die noorde van die land het nou ‘n aandeel in die teologiese opleiding by die Universiteit van Pretoria verkry, waar predikante van die NG Kerk en van die Presbiteriaanse Kerk opgelei word. Ek is nie seker of dit nou volledig geïntegreer sal wees soos by Stellenbosch Universiteit nie. Ek is wel bewus daarvan dat daar reeds ‘n paar jaar lank by UP se teologiese fakulteit verskillende klasse in onderskeidelik Afrikaans en in Engels aangebied word. Ek stel voor dat jy met Prof Klippies Kritzinger van die VGK se seminarium skakel of anders direk met die Fakultiet by UP. Ek stuur vir jou die kontakinligting per e-pos. Groete en baie sterkte met die uitlewing van jou roeping. As die Here ‘n mens roep, sal hy jou in staat stel om dit uit te voer. Ds Andries Louw (nou geëmeriteer).