Werksaamhede van die VGKSA Noordelike Sinode
SINODALE KOMMISSIE, MODERATUUR EN UITVOERENDE KOMMISSIE
Wanneer die sinode nie in sitting is nie, word die sake van die sinode hanteer deur die Sinodale Kommissie, wat ringsgewys saamgestel is. Die Uitvoerende Kommissie is ‘n kleiner liggaam, wat uit die moderatuur en ‘n klompie addisionele lede saamgestel is, en wat verantwoordelik is om spoedeiesende sake te hanteer. Die moderatuur bestaan tans uit prof Thias Kgatla (moderator), dr Daniël Maluleke (assessor), dr Abel Kupa (aktuarius), ds Alet Pretorius (skriba), en dr Moime (assistent-skriba).
KOMMISSIES
Die VGK funksioneer op sinodale vlak op soortgelyke wyse as die NG Kerk met verskeie komissies wat sleutelfunksies hanteer. Voortspruitend uit die besluite van die Algemene Sinode is daar drie sogenaamde kernbedieninge geïdentifiseer, nl aanbidding, onderlinge sorg, en diens en getuienis. Die ondersteunende bedieninge is die administrasiekommissie wat na die fondse en geboue omsien, en die kommunikasiekommissie.
KAN
Die aksie bekend as “KAN” (Kerklike Aksie Noodhulp) het in 1983 tot stand gekom primêr as ‘n aksie van die VGKSA Noord-Transvaal waarby die NG Kerk ook as vennoot betrek is, om die armoede, veral onder swartmense in die plattelandse gebiede, aan te spreek en armes te help om hulleself te help. Die langdurige droogte gedurende die tagtigerjare het bygedra tot die ontsettende nood van arm mense, veral in die voormalige tuislandgebiede. Die akroniem is deur dr JJ (Dons) Kritzinger voorgestel, en het die betekenis oorgedra dat arm mense iets vir hulleself “kan” doen, en dat dit die kerk se taak is om hulle te bemagtig en ondersteun.
Die beheerraad van KAN is saamgestel soos ‘n gesamentlike kerklike kommissie wat uit verteenwoordigers van die deelnemende Sinodes bestaan (VGKSA Noord-Tvl, NG Kerk Noord-Transvaal, NG Kerk Oos-Transvaal), maar is ook geregistreer as ‘n Organisasie sonder Winsoogmerk (OSW, Eng “NPO”). Daar was in die verlede ‘n aantal amptenare wat voltyds vir KAN gewerk het, bv ds Eddie Bruwer, dr Daniël Maluleke; mev Louise Rossouw en andere. Dit is onder andere moontlik gemaak deur salarissubsidies van die twee NG Kerk Sinodes en bydraes deur gemeentes en lidmate wat as donateurs gereageer het op die gereelde nuusbriewe van KAN. Die staat het ook dmv die destydse Departement van Welsyn subsidies aan KAN betaal, wat hom verder bemagtig het om personeel aan te stel en ‘n wye verskeidenheid dienste te lewer. Die werk is die afgelope jare aansienlik afgeskaal, hoofsaaklik agv van die verlies aan staatsubsidies.
Dienste gelewer
Die dienste wat gelewer is, het in die platteland gegaan om bv hulpverlening met boorgate, gemeenskapsgroentetuine en die algemene ondersteuning van gemeenskappe. Die Dienssentrum is aangewend as ‘n sentrum vir opleiding en toerusting van mense van oraloor, ook vanuit die diep platteland, wat die vaardighede benodig het om werk te kry of om hulleself en hul gemeenskappe te help. Die Dienssentrum is aangewend om in hoofsaak op vyf vaardighede te fokus, nl opleiding van kleuterskoolonderwysers, opleiding van (voornemende) huiswerkers in kook en bak, naaldwerk-opleiding, volwasse geletterdheidsonderrig, en ondersteunende addisionele opleiding vir skoliere in Wiskunde, Wetenskap en later ook in rekenaargeletterdheid.
Veranderings
Intussen het groot veranderinge plaasgevind. Daar was geweldige inkorting van befondsing van die kant van die staat sowel as van die kant van die kerk. Die staat het sy subsidies rondom 1993 agv verskeie faktore afgeskaf. Wat die kerk betref het ‘n aantal poste van blanke personeel vakant geraak, en die volledige befondsing van hierdie poste van die kant van die NG Kerk het daarmee verval. Die gevolglike rasionalisering binne die struktuur van die VGKSA Noord-Transvaal het in die praktyk daarop neergekom dat dr SD Maluleke vir beide van die portefeuljes van saakgelastigde en van direkteur van KAN moes instaan.
Fondse en Personeel
Die saakgelastigde-pos/KAN-direkteurspos en die onderhoud van die Dienssentrum word in stand gehou deur die heffings van gemeentes, die huurinkomste van die Willie Theron-gebou in die middestad van Pretoria, die verhuring van kantore, en bydraes van die NG Kerk.
Huidige Projekte
Daar word tans opnuut gekyk na maniere om mense in plattelandse gebiede, veral in die voormalige tuislande, ekonomies te bemagtig, veral deur middel van die ontwikkeling van vaardighede en kleinsake-ontwikkeling. Aangesien baie van hierdie gebiede van nature baie droog is, en vars drinkwater dikwels ‘n probleem is, word daat tans spesifiek gekyk na ‘n projek om mense op te lei om watertenks te bou vir die opvangs en stoor van reënwater. Twee watertenks is as loodsprojek in die Kgautswane-area naby Ohrigstad gebou, een by die pastorie van ds Sipho Mokoena, en die ander by die gemeenskapsentrum van mev Clara Masinga. Vroeg in 2008 word daar beplan om met opleiding aan voornemende entrepreneurs voort te gaan. Hierdie projek sal in vennootskap met Operation Hunger aangepak word. Fondse sal egter hiervoor benodig word.
Bydraes
Indien gemeentes of besighede sou belangstel om hierdie projek te ondersteun, kan hulle bydraes direk inbetaal by die volgende rekening: VG Kerk in SA Noord Sinode KAN nr 2, ABSA Silverton-tak, rekening nr 070 169 568. Merk u bydrae “watertenks”, en stuur ‘n e-pos aan ons om u bydrae te bevestig.


15 Januarie 2008 







No comments yet... Be the first to leave a reply!