Wie En Wat Is Die VGKSA?
Die VGKSA is die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Hierdie kerk het in 1994 tot stand gekom met die samesmelting van die NG Sendingkerk (Kleurlinge) en die NG Kerk in Afrika (swartmense).
GEOGRAFIE EN DEMOGRAFIE
Die VGKSA Noordelike Sinode beslaan ongeveer dieselfde gebied as die NG Noordelike en Oostelike Sinode, asook ‘n stukkie van die NG Sinode van Wes-Transvaal. Dit strek vanaf ‘n lyn deur die suid-grens van Pretoria van wes na oos, deur Zeerust in die weste oor Lephalale (Ellisras) tot Musina in die noorde, en in die ooste oor Tzaneen, Nelspruit, Komatipoort, Barberton, Piet Retief tot by Pongola in die suid-ooste. Die Sinode sluit dus dele van die provinsies Mpumalanga, Gauteng en Noord-Wes in, asook die hele provinsie Limpopo. Dit sluit die stede en dorpe, die plase en die tradisionele plattelandse gebiede of voormalige tuislande in.
GEMEENTES EN RINGE
Die VGKSA Sinode Noord-Transvaal het in sy huidige gestalte tot stand gekom met die vereniging van die destydse NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika in 1994. Dit bestaan uit al die gemeentes van die voormalige NG Kerk in Afrika in hierdie gebied, en agt gemeentes van die voormalige NG Sendingkerk, nl Pretoria (Eersterust), Nasaret (Middelburg), Mara (Buysdorp), Pietersburg-Westernburg, Witbank-Schoongezicht, Onverwacht (Cullinan), Brits en Rustenburg-Karlienpark. Daar is in totaal 130 gemeentes en 18 ringe in die Sinode. Van die gemeentes dra die name van bekende voormalige sendingstasies in tradisionele gebiede soos Saulspoort, Tshilindzini, Nkhensani, Letaba en Meetse-a-Bophelo, Kranspoort, Bethesda, Nthume en Rivoni.
TAALGROEPE
Al elf amptelike tale van Suid-Afrika word deur die lidmate van die VGKSA Noord-Transvaal gepraat. Die enigste inheemse taal waarvan daar slegs ‘n baie klein minderheid is, is Xhosa. Die grootste persentasie moedertaalsprekers van die volgende Afrika-tale is in die Sinode woonagtig: Pedi (Noord-Sotho), Tswana, Swazi, Venda, en Tsonga. Daar is egter ook ‘n groep Suid-Sotho sprekers en ‘n aansienlike getal Zoeloesprekers, laasgenoemde meestal in Mpumalanga. In die townships en informele woongebiede word daar ook lidmate van die NG Kerkfamilie in Suidelike Afrika bedien, nl mense uit Zimbabwe, Zambië, Malawi en Mosambiek. Tale soos Chichewa (Nyanja) word dus ook gepraat. In sinodevergaderings en kommissievergaderings het Engels die algemene gebruikstaal in die plek van Afrikaans geword.
LERAARS EN EVANGELISTE
Daar dien tans vier-en-negentig leraars en een-en-twintig evangeliste in die VGKSA Noord-Transvaal. Daar bestaan 45 leraarsvakatures in die sinodale gebied. Nege-en-dertig gemeentes is tans sonder leraars. Vanweë die beperkte finansiële vermoë van baie gemeentes, en die vermindering of uitfassering van finansiële ondersteuning in die vorm van salarissubsidies vanaf sommige NG gemeentes, is een-en-veertig van die vier-en-negentig leraars in die VGKSA Noord-Transvaal tentmakers. Dit beteken dat hulle ‘n ander, voltydse beroep beoefen om hulself en hul gesinne te onderhou, en slegs deeltyds in die gemeente werk. Die praktyk van tentmakerbediening het sekere nadele vir die leraar en die gemeente, veral waar die leraar weens sy werksomstandighede slegs naweke vir die gemeente beskikbaar is. Dit bied egter tog aan VGK-gemeentes die moontlikheid om wel oor ‘n leraar te beskik, en aan leraars die geleentheid om ten minste deeltyds in die evangeliebediening te staan.
Uit die vier-en-negentig is elf leraars gelegitimeerdes van die NG Kerk, tevore bekend as sendingleraars. Van hulle is vyf voltyds.


15 Januarie 2008 







No comments yet... Be the first to leave a reply!