GETUIENISFORUM NUUSBRIEF MEI 2010
SOSIAAL-POLITIEKE OMSTANDIGEDE
Die sosiaal-politieke omstandighede wat ons tans in ons land beleef, is nie juis bevorderlik vir die saak van samewerking tussen NG en VG-gemeentes nie, wat nog te sê vir versoening, eenheidsgesprekke en nasiebou. . Die tranformasieproses wat niks in die land onaangeraak laat nie en die funksieverlies en marginalisering van Afrikaans in ide openbare lewe en in die onderwys is ‘n diep ontstellende verskynsel vir Afrikaners. Baie witmense is onsteld en besorgd oor die verval van openbare dienste, kaderontplooing en tenderpreneurskap, wydverspreide korrupsie in regeringskringe, regstellende aksie, gondhervorming en voorstelle ivm die verdeling of nasionalisering van plaasgrond, die gesprekke oor moontlike nasionalisering van myne, en growwe haatspraak. Dit word algemeen erken dat daar tans ‘n gees van mismoedigheid en pessimisme onder blankes in die algemeen en spesifiek onder Afrkaners in Suid-Afrika heers. Talle swartmense is natuurlik ook ontsteld oor die hoë vlakke van misdaad en korrupsie in die land, en die knellende las van werkloosheid en armoede wat nog (veral, maar nie uitluitlik nie) ons swart gemeenskappe teister. Dit veroorsaak op sy beurt dat baie in die swart gemeenskap ook teleurgesteld is met die regering, weliswaar in sommige opsigte oor ander redes as die wit gemeenskap. Die gevoel in die swart gemeenskap is dikwels dat witmense nà 1994 steeds goed daaraan toe is, terwyl swartmense steeds arm en ontmagtig is.
Verskeie waarnemers (wit en swart) het al daarop gewys dat die genoemde verskynsels, ingeslote verskeie aksies van die ANC wat die onafhanklikeid van die regbank aantas en alles op die spel plaas in diens van die ANC se magsposisie, onheilspellende ondertone het wat niks goeds inhou vir ons jong demokrasie, vir ons ekonomiese welsyn en vir nasiebou nie. Dit dui onder andere ook op toenemende rassepolarisasie en op groter druk op blankes as minderheidsgroep. Intussen lyk dit of daar weer ‘n oplewing van ekstremistiese verregse sentimente en ondermynende geweld by ‘n klein groepie Afrikaners te bespeur is, bv in die optredes en uitsprake van die sogenaamde Suidlanders. Ook dit sal ons opnuut moet afwys en verwerp. Uiteindelik is al hierdie verskynsels uiters nadelig vir die hele land en sy totale bevolking.
KERKLIKE VERHOUDINGE
Die kerklike verhoudinge in die algemeen is ook nie baie goed nie. Daar is steeds ‘n verwagting by die VGKSA dat daar een of ander tyd gevorder kan word met kerkeenheid, ten spyte van die moratorium op gesprekke oor kerkhereniging wat by die VGKSA se Algemene Sinode in 2007 aanvaar is. Die NG Kerk se posisie is beïnvloed deur die negatiewe uitslag van die konsultasieproses ivm gemeentes se siening die Belhar-belydenis en van kerkhereniging. Dit is nie moontlik om die bestaan van diep verskille en selfs van onderlinge wantroue tussen ons Kerke in hierdie verband te ontken nie. Dit lei ook daartoe dat daar ‘n neiging is om terug te trek in die veilige omgewing van die bekende eie kring, amper soos die frase in die ou hallelujalied lui: “ jy in jou klein hoekie en ek in myn’ “.
POSITIEWE GESINDHEDE IN GETUIENISFORUM
Die standpunte binne die Sinodale Getuienisforum oor die toekoms van ons Kerke stem ook nie noodwendig in elke opsig ooreen nie. Die wonder is egter dat ons ten spyte van hierdie verskille oor die afgelope paar jaar daarin geslaag het om binne die SGF tot ‘n verstandhouding te kom wat dit vir ons moontlik maak om met onderlinge respek en liefde saam te werk, en die toekoms in God se hande te laat. Dit is telkens bemoedigend om ook ons swart en bruin kollegas se afkeur oor die onophoudelike vlaag van misdaad en hul openlike negatiewe en afkeurende reaksies op die uitsprake van mnr Julius Malema te verneem. Dit is asof hulle uit hulle pad wil gaan om hulle so ver as moontlik van hom te distansieer. (Soos ons ons in die verlede van die optredes en gesindhede van mense soos wyle mnr Eugene Terreblanche gedistansieer het.) Hulle erken ruiterlik dat hulle ook bekommerd en ontsteld is ook baie dinge wat tans in die land aan die gang is. Die onlangse verklaring van die ASK van die VGKSA het albei hierdie waarnemings bevestig. Lees die verklaring hier. Lees ook die riglyne vir die bestryding en voorkoming van misdaad hier, en in Engels (meer volledig) hier. Beide stukke is deur die SGF goedgekeur vir kennisname en gebruik deur gemeentes.
RINGE EN GEMEENTES REIK UIT
Verlede jaar het twee NG Ringe naamlik die Ring van Northam en die Ring van Pietpotgietersrus, geleentede geskep om saam met hul VGKSA-kollegas te vergader, saam te bid en saam te kuier. Sommige mag dit as onbeduidend of niksseggend afmaak, maar dit is ‘n praktiese manier om te werk aan die bou van medemenslike en kerklike verhoudinge.
Gesamentlike leraarsbyeenkoms Ring van Northam
By die plaaslike getuienisforums van Kwena (Koedoeskop), Judea (Potgietersrust) en Limpopo-Wes Ellisras-Lephalale), asook op talle ander plekke waar formele samewerkingstrukture (nog) nie bestaan nie soos by Nylstroom-Modimolle, Ohrigstad en Belfast, word daar hartlik saamgewerk aan evangelisasie, uitreiking na skole, opleiding en toerusting van geestelike leiers en armoedeverligting.
Talle VGKSA-gemeentes gaan gebuk onder die las van groot armoede en werkloosheid onder lidmate, veelvuldige wyke en dienspunte, langdurige leraarsvakatures, gebrekkige gemeente-administrasie, geboue wat instand gehou moet word, ens. Dit bied talle geleenthede vir NG Gemeentes om met ondersteunende dienswerk betrokke te raak. In hierdie proses is daar natuurlik ook struikelblokke wat oorkom moet word. Lees ‘n artikel oor die aard en uitdagings van hierdie struikelblokke en hoe dit moontlik oorkom kan word hier .
Gesamentlike Ringsbyeenkoms PietPotgietersrus
VYF PERSPEKTIEWE
Vyf perspektiewe is in hierdie omstandighede van toepasssing:
- Die Bybelse opdrag tot getuienis deur evangelisering en Christelike liefdesdiens, in gemeenskap met ander gelowiges, het nie verander nie, ongeag ons omstandighede. Die vaste punte van hemelvaart en pinkster in die heilsgeskiedenis en in ons kerkjaar beklemtoon immers hierdie waarheid. “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels…” (Matt 28:19), “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem….en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1:8)
- Dit bly dus steeds ons roeping en ons voorreg om as “medewerkers in diens van God” (1 Kor 3:9) met diens en getuienis buite ons gemeentegrense en buite die grense van ons kultuur-en taalgroep besig te wees. Die veelvuldige nood van die samelewing roep om die goeie nuus van Jesus Christus wat deur sy kerk in die krag van die Gees en met praktiese liefde uitgedra word. “Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel as moontlik mense vir Christus te wen.” (1 Kor 9:19-23). “Die liefde van Christus dwing ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterf het, en dit beteken dat almal gesterf het…sodat die wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom…” (2 Kor 5:14-15)
- Dit bly steeds die mees Bybelse, praktiese, vrugbare en effektiewe manier om in ‘n swart gemeenskap betrokke te raak, nl om dit in vennootskap met ‘n VGK-gemeente of enige van die ander NG Familiekerke te doen waarin goeie verhoudinge, wedersydse respek en gesamentlike eienaarskap die basis van samewerking en uitreiking na die gemeenskap vorm. “Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons (die Heilie Gees) gegee..”, “Christus is immers ons vrede, wat die twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het deurdat Hy sy liggaam gegee het om die middelmuur van skeiding af te breek”. (Efe 2:11-22).
- Die feit dat die sosiaal-politieke omstandighede die uitvoering van hierdie roeping bemoeilik, hef nie ons roeping op nie. Dit skep juis die geleentheid vir die kerk om die Bybelse etiese norme vir samelewing uit te dra en die gesindheid van Christus konsekwent uit te leef. Dit sluit ook aan by die gedagte van gereformeerde weerstand te midde van onreg. Lees meer daaroor hier. As dit ook op moeilikhede en lyding uitloop, is dit tog niks anders as werklike marturia (getuienis) nie (2 Petr 2:19-21). So word ons lig vr die wêreld en sout vir die aarde (Matt 5:13,14; Efe 5:8`14), “‘n koninklike priesterdom wat die verlossingsdade van Christus verkondig” (2 Petr 2:9,10), ’n “alternatiewe gemeenskap” (Bosch) of “God se proeftuin” (Heyns) in die wêreld, en rig ons tekens van die Koninkryk van God op.
- Jesus Christus, die lewende, opgestane Here, is die een wat ons in staat stel om enige omstandighede tegemoet te gaan, hoe moeilik dit ookal mag lyk. “Ons is tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee” (Fil 4:12,13). “’My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is’. Daarom sal ek baie liewer in my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk” (2 Kor 12:9-10).
GESAMENTLIKE KONFERENSIE OOR INTERKULTURELE BEDIENING
In Augustus verlede jaar is ‘n uiters geslaagde gesamentlike konferensie by die Emmerentia Geldenhuys-kampterrein gehou oor die uitdagings en geleenthede wat interkulturele bedieninge aan ons stel. Dr Ryk van Velden van die Toerustingsburo vir Interkulturele Werk te Wellington het oa as spreker by die geleentheid opgetree. Lees die volledige lesings in Engels hier , ‘n opvolgartikel nav die debat tussen dr Nico Smith en mnr Flip Buys in die openbare media hier, en ‘n opsomming daarvan in Afrikaans hier.
BESKIKBAARHEID VAN FUNKSIONARIS
Die funksionaris van die Sinodale Getuienisforum, ds Andries Louw, is beskikbaar om enige ring of gemeente of selfs die getuienis-diensgroep van ‘n gemeente te ontmoet en ervaring te deel en wenke te gee oor die wyse waarop ‘n vennootskap met ‘n VGK-gemeente beplan en aangepak kan word. Indien gemeentes intussen dokumente of inligting benodig om meer uit te vind hoe die proses van die vestiging van ‘n plaaslike getuienisforum aangevoor kan word, kan hulle gerus op die webtuiste by basisdokumente gaan kyk.
Op ‘n meer persoonlike noot: Ek vertrou dat u ‘n baie geseënde pinkstertyd ervaar het ! En geniet die sokker !
Ds Andries Louw
Funksionaris van die Sinodale Getuienisforum


14 Mei 2010 









No comments yet... Be the first to leave a reply!