Sinodale Getuienisforum Nuusbrief nr 1

Dit is ‘n ideaal wat ons al lank by die Sinodale Getuienisforum koester om met ‘n eie elektroniese nuusbrief te begin.   Nou is dit die tyd om ons drome werklikheid te maak. 

 

Die Sinodale Getuienisforum stel hom ten doel om gemeentes van die NG Kerk en die VGKSA te inspireer om na mekaar uit te reik, verhoudinge te bou en strukture van  samewerking te vestig, en dan hierdie prosesse te fasiliteer waar dit nodig is. 

 

Samewerking kan egter nie los van versoening funksioneer nie.  In die verlede het ons dikwels in hierdie opsig tekort geskiet en ernstige foute begaan, sodanig dat die verhoudinge soms skade gelei het of selfs heeltemal afgebreek is.  Ons kwesbaarheid en ons seerkry veroorsaak dat ons van mekaar af wegstaan, in plaas daarvan om die “vredevolle saamwoon van broers” doelgerig as ‘n roeping te aanvaar.  Ons weet dat die politiek van die dag, misdaad, wettelooseid, korrupsie en al die dinge wat ons ongelukkig maak ook daartoe bydra dat ons soms maar liewer in ons dop kruip. 

 

Juis daarom is die verhale wat hoop skep vir ons belangrik.  Dit bevestig dat vernuwing, bekering en versoening moontlik is, selfs deur stryd heen.  Wanneer sulke verhale verder bevestig dat liefdesdiens dikwels die poort is na mense se harte, maak dit ‘n mens nog meer opgewonde.  Die verhaal van lewende water, wat deur Pieter Prozesky vertel word, is aangrypend.

 

Terselfdertyd erken ons ook dat ons nie net op die ingryping van die Here kan staatmaak nie, maar ook hard moet werk daaraan om mekaar se kulture en leefwêrelde beter te verstaan.    Daarom is ons opgewonde oor die konferensie oor “Kultuur en Bediening” wat ons saam met dr Ryk van Velden van die Instituut vir die Toerusting van Interkulturele Werkers (TIW) van Wellington op 21 en 22 Augustus by die Emmerentia Geldenhuys kampterrein naby Warmbad (Bela-Bela) gaan hou. Lees meer hier.   Maak asb ‘n afskrif en gee dit ook vir u kollega in die VGK-gemeente.  Ons sal VGK-gemeentes finansieel help om die konferensie by te woon. 

 

Laastens, vir die wat belangstel om met die liefde van die Here na die gevangenes uit te reik, lees die nuusbrief van gevangenesbediening hier.  

 

Om ons opgewondenheid oor die Getuienisforum te deel, kan u meer hier lees.

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!