Uitreik By Die VGKSA-Gemeente Ivory Park
Verslag Oor Die Uitreik Van Die Evangelisasie-Werkspan By Die VGKSA-Gemeente Ivory Park
ALGEMEEN

Thembi Mkhwanazi, dr SD Maluleke en Samuel Rambau
Drie besondere diensknegte van die Here, wat almal in diens van die Kwena-Getuienisforum in die omgewing van Koedoeskop werk, het op versoek van die kerkraad van Ivory Park-gemeente vanaf 6 Junie 2007 tot 29 Junie 2007, in hierdie groot stedelike woongebied in Midrand kom werk. Die drie, Samuel Rambau, Thembi Mkhwanazi en Manasseh Nkosi moes hul werksmetodiek ietwat aanpas by die stedelike omstandighede, aangesien dit heelwat van die platteland verskil. In ‘n stedelike gebied soos Ivory Park is die meeste mense bedags nie tuis nie, aangesien hulle of by die werk is, of besig is om werk te soek. Saans weer, is mense nie geneig om buite hul huise te verkeer of op straat rond te loop nie, uit vrees vir misdaad. Dit beteken dat die kontak met mense in ‘n stedelike gebied veel moeiliker is as in die tipies plattelandse gebiede, waar daar veel meer beweging van mense bedags en saans plaasvind, en die mense dus meer “toeganklik” is. Dit het die span egter nie ontmoedig nie, en hulle het behoorlik ingespring en hard gewerk deur die loop van die drie weke wat hulle hier was.
WERKSAAMHEDE
HUISBESOEK
Die span het hulle hoofsaaklik toegespits op huisbesoek. Hulle het by ongeveer dertig huisgesinne besoek afgelê, benewens die talle ander kontakte wat ook gemaak is, maar waar hulle nie toegelaat is om ‘n besoek af te lê nie. Vir die meerderheid kerkraadslede van die gemeente was dit nie moontlik om die span op hierdie besoeke te vergesel nie, maar teologiese student Aaron Mhango en ouderling Elsie Ranque het wel saam uitgereik. Wanneer hulle deur huisgesinne ingenooi is, het hulle met vrymoedigheid die evangelie met die huisgenote gedeel en getuig oor die genade van God in Jesus Christus. Die jongmense was veral beïndruk deur die getuienis van Manasseh, wat in sy eie lewe die genadige ingryping van God in sy lewe op ‘n dramatiese wyse ervaar het, en dit met vrymoedigheid met mense gedeel het.
Die pastoraat het ook nie agterweë gebly nie. In baie huise is daar simpatiek na mense se probleme geluister, raad gegee en voorbidding gedoen. In twee gevalle het die gesinne vrymoedigheid geneem om ernstige gesinsprobleme met Samuel te deel. In hierdie gevallle het hy dan ‘n opvolgbesoek gereël, waar hy dan ook die leraar, dr SD Maluleke, wat ‘n tentmaker is, by die pastorale gesprek betrek het.
EREDIENSTE
Op Sondae het die span die eredienste gelei, met die prediking veral gerig op evangelisasie, heiligmaking en toewyding aan God. Die gemeente het hulle optrede as uiters treffend en geseënd ervaar, en talle lidmate het hulle vir die eerste keer of by hernuwing aan die Here oorgegee. Die gemeente het dan ook met spesiale kollektes bygedra tot die koste van die uitreik. Daar was selfs versoeke dat die werkspan by ‘n later geleentheid weer aan die gemeente moet besoek bring en dan verkieslik ses maande lank bly. Die kerkraad het ingewillig om dit by ‘n later geleentheid weer te oorweeg.
Die algemene gevoel in die gemeente was een van diepe dankbaarheid vir die werk wat die span gedoen het, en hulle het aan die Here al die eer gegee. Ons loof die Here vir dit wat Hy deur hulle in ons gemeente gedoen het.
Dr Daniël Maluleke
Leraar van Ivory Park


15 Januarie 2008 







No comments yet... Be the first to leave a reply!