Judea-Potgietersrus Ervaar Besondere Seën

NUUS VAN JUDEA GETUIENISFORUM

Die Judea GetuienisForum in Potgietersrus het in 2000 tot stand gekom. Die NG Gemeentes betrokke is die drie gemeentes van Potgietersrus, nl Moedergemeente, -Suid en -Oos, asook Naboomspruit.  Die VGK-gemeentes betrokke is Potgietersrus, Mokopane, Naboomspruit, Zebediela en Bakenberg.  Een van die VGK-gemeentes dra ook tot die begroting van die Forum by.   

Mnr Pieter Prozesky, ‘n finansiële en bestuurskonsultant van beroep, is as die eerste (deeltydse) betaalde funksionaris van die forum aangestel.  Hy hou toerustingsgeleenthede vir kerkraadslede, jeugkampe en ander konferensies vir die VGK-gemeentes in die Forum.  Die tema van die werkswinkels in gemeentes gedurende 2007 was “Wie sê jy is Jesus?”.  In 2008 handel dit oor offervaardigheid.  Die werkswinkels word op Sondagoggende in die gemeentes aangebied, in die vorm van die erediens en ‘n konferensie daarna. 

Met behulp van sinodale fondse via die diensgroep vir gemeenskapsbetrokkenheid, is drie gemeenskapsprojekte onlangs vir gestremdes in die omgewing aangepak.  By een projek is ‘n heining gespan en ‘n groetetuin aangelê.  By ‘n tweede is water aangelê en ook ‘n warmwaterstelsel geïnstalleer.  By ‘n derde is fondse beskikbaar gestel vir die aankoop van toerusting vir handwerk.  

Die wyse waarop Pieter daarin slaag om vertroue en goeie verhoudinge te bou maak vir hom deure oop om goeie interkulturele verhoudinge in die gemeenskap te vestig.  Hy het onlangs ‘n kloein boekie geskryf getiteld “Met Liefde my Broer”, waarin hy op inspirerende wyse van sy ervaringe met swartmense in die konteks van die Forum vertel.

‘n Merkwaardige gebeurtenis wat deur Pieter as die hoogtepunt in sy bediening beskryf word, het onlangs by die armoedige wyk Sandsloot plaasgevind, waar ‘n kerkie ongeveer twee jaar gelede gebou is, en waar daar onlangs met die hulp van ‘n donateur ‘n boorgat, ‘n windpomp en  drie gemeenskapskrane op verskeie plekke geïnstalleer is.  Te midde van hierdie proses het diepgaande konflikte in die gemeenskap na vore getree, en het dit geblyk dat daar selfs saamgesweer is om ‘n sekere gemeenskapsleier te vermoor.  Gedurende die loop van die gemeenskapsprojek is die evangelie en die Christelike waardes  telkens aan die betrokkenes voorgehou.  Op versoek van die gemeenskap is ‘n dankseggingsdiens gehou nadat die eerste water begin loop het.  Pieter het die Woord bedien en ‘n oproep om toewyding en oorgawe gedoen, waarop twaalf gemeenskapsleiers hul lewe vir die eerste keer aan die Here oorgegee het. Wedersydse vergifnis en versoening het plaasgevind toe jarelange vyande mekaar voor die gemeente omhels het.  Die geoloog en boorman en hul gesinne het saam met die res van die gemeentetjie ook opnuut hul lewens aan die Here toegewy.   Die plaaslike leraar, ds Joppie Makgae, vertel dat hy nog nooit in sy hele bediening van ongeveer dertig jaar die werk van die Heilige Gees so sterk in enige erediens beleef het nie.  Pieter vertel dat dit die mees ingrypende geestelike ervaring van sy lewe tot dusver was.

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!