Lewende Water

God is die God wat getrou is, wat altyd sy beloftes hou. Hierdie gebeure wat ek hier beskryf het vir my soveel van God se beloftes bewys. God het my onder andere belowe dat Hy my nooit alleen sou laat nie, dat Hy niks oor my pad sal bring wat ek nie kan hanteer en waarvoor Hy my nie toerus nie. Ek moes net op God vertrou en aan Hom getrou wees en Hy het die res laat gebeur. Die geestelike inspuiting wat hierdie gebeure in my lewe gebring het is iets wat vir my ongelooflik baie waardevol is.

Agtergrond

Gedurende die bouwerk aan die kerkie gedurende 2005 by Sandsloot het ons agtergekom dat ’n groot gedeelte van die gemeenskap nie water het nie. Dit het die gebied rondom die kerkie ingesluit. Ons moes tydens die bouwerk water by die Moslem moskee koop. Vroeg in 2008 het ’n borg na vore gekom om ’n boorgat, pomp en krane vir die gemeenskap te voorsien. Die inwoners moes water by ’n aangrensende gemeenskap koop. Ek het later verstaan dat die mense tot R200.00 per maand vir hulle water betaal en dit aangery moet word. As in ag geneem word dat die meeste mense pensioenarisse is het dit beteken dat hulle R200.00 van hulle pensioen van ongeveer R800.00 per maand moet betaal vir water.

Wantroue

Tydens die voorbereiding vir die projek, het ek die vyandigheid van die plaaslike mense agter gekom. Daar is baie op my geskree terwyl ek daar gery het en mense wat sou help gaan wys het. Ek het daar vir Cassim, een van die inwoners, ontmoet wat homself as ’n leier voorgestel het. Ek het hom ingelig oor wat ons beplan en hy het ingestem om met die gemeenskap te praat en hulle toestemming te vra of ons kan voortgaan met die boorwerk.

Na ’n geruime tyd kontak Cassim my en vra dat ek moet kom praat sodat ons kan begin. Op die ontmoeting vertel hy dat ek maar kan voortgaan met die boordery, maar dat daar “honde vir my gaan blaf” maar ek my nie aan hulle moet steur nie.

Ek het die mense wat moes help met die hele projek aan Cassim gaan voorstel, sodat hy weet as hulle daar beweeg.

Hennie du Preez het gehelp om die plek waar geboor moes word aan te wys en het ook met sy toerusting bepaal hoe die helling van die grond is sodat ons seker kan wees dat waar die krane moet kom laer as die tenk sal wees.

Neels Myburgh wat in die pompe en besproeings besigheid is het gehelp met die boorwerk, die pomp en tenk opsit en die pype en krane te installeer. Ons moes ’n windpomp opsit aangesien daar geen krag in die gemeenskap is nie en sonpanele verseker gesteel sou word.

Die dag wat die boormasjien by die plek opdaag, het daar baie drama begin. Cassim het geweet dat ons kom en het met van sy ondersteuners vir ons gewag by die plek waar ons sou boor. Dit was in die veld buite die woongebied en sowat 100m van die mynhope af.

Aggressie en uiterste wantroue

Die boormasjien is opgestel en het skaars begin boor of ’n groep mense kom deur die bose na ons toe aan. Vooraan was 2 blanke mans. Cassim merk toe op “Hier kom die honde om vir jou te blaf”. Duidelik is hierdie mense op ’n missie. Die blankes stel hulle voor as Sweedse joernaliste wat ’n ondersoek doen na die negatiewe invloed wat die myn se bedrywighede op die gemeenskappe het. Die mense saam met hulle was die tradisionele leier se mense onder leiding van haar broer, Michael. Opvallend was vroue die meeste van die groep. Die joernaliste is aanvallend en vra baie vrae oor wie ek is, waar ek vandaan kom, wie is Judea en waar kom die geld vir die projek vandaan, wie het toestemming gegee, ens. Terwyl ek met hulle praat word alles op televisie kameras opgeneem. Terwyl die joernaliste met my praat is die swart mense duidelik aggressief teenoor my. Ek besef ook in hulle reaksie dat Cassim glad nie deur die groep aanvaar word nie. Hulle het inteendeel baie dreigend teenoor hom en selfs geweier om met hom te praat. Hulle praat net deur my met hom. Ek het daar besef dat Michael se mense nie sal skroom om Cassim dood te maak nie. Ek besef ook dat ek nou alleen is en niemand wat by die boordery betrokke is, is meer in sig nie.

Die kerk se betrokkenheid by die mense

Die joernaliste se houding teenoor my verander toe ek al hulle vrae kon beantwoord en hulle seker is ek is nie ’n front vir iemand soos die munisipaliteit of die myn of enige politieke party nie. Die joernaliste stel nou belang in die “Dutch Reform Church” waarvan ek praat. “You mean the Dutch Reform Church of the Afrikaner is doing this for the black people” terwyl daar ‘n lig vir die man aangegaan het. Hy verduidelik dat hy ’n katoliek is en baie bly dat die kerk doen wat ander groepe soos die munisipaliteit of die regering of die myn veronderstel is om te doen. Hy voel die kerk se tyd word gemors omdat die kerk ander se werk moet doen. Ek verduidelik dat dit juis die kerk se werk is. Toe die joernaliste se houding verander het die mense se houding teenoor my baie duidelik verander en moet ek die vrede bewaar tussen Cassim se mense en Michael se groep wat saam met die joernaliste was. Gelukkig kalmeer die mense en vra die joernaliste of ek saam met die ander groep sou staan by die boormasjien sodat fotos geneem en nog materiaal vir hulle televisie. Hierna verdwyn die hele groep weer saam met die joernaliste nadat die joernaliste my bedank het vir wat die kerk doen. Volgens hulle moes die munisipaliteit of provinsiale regering die water voorsien het.

Terwyl ek diep asemhaal sien ek die verligting op Cassim se gesig. Hy was duidelik baie benoud oor die gebeure.

Water

Ons kry reeds water op ongeveer 20 meter en opgewonde volg ons die boordery vir nog meer water.

Cassim bly die hele tyd by my, ek dink hy voel hy moet my beskerm. Later die dag kom Michael en die vroue weer daar aan. Cassim verdwyn want volgens hom is die “honde weer hier”. Ek is net reg vir nog ’n rondte, maar hulle het net kom kyk of ons water gekry het.

Mense word uitgebuit

Die volgende dag gaan ek en Neels terug om die sterkte van die boorgat te toets. Ons was nog besig om die goed reg te kry, toe mans met ’n Isuzu bakkie in ’n stofwolk daar stilhou. Hulle groet maar is nie vriendelik nie. Hulle wil weet waar het ek toestemming gekry om daar ’n gat te boor. Hulle weier om te sê wie hulle is en waar hulle vandaan kom. Ons is nog besig met die argument toe Cassim en van sy mense daar opdaag. Die argument is hewig en toe moes die manne spring vir die bakkie want Cassim is op die oorlogspad. Die manne jaag weg terwyl die stof staan. Cassim vertel dat hulle van die gemeenskap is waar Sandsloot se mense hulle water gekoop het terwyl hulle nie water gehad het nie. Die sterkte van die water in ongeveer 10000 liter per uur wat meer as genoeg is vir die windpomp. Terwyl die water uitspuit terwyl Neels die sterkte van die gat toets, het die beeste en bokke aangehardloop toe hulle die water ruik en het sommiges sommer hulle koppe in die boog water gedruk om die water te drink. Duidelik was daar nie genoeg vars water aan die diere beskikbaar nie.

Water vir almal

Dit het ’n paar weke geneem vir Neels om die windpomp in die hande te kry en het hy met sy mense die pomp en tenk begin opsit. Ek kon die gemeenskap oortuig om die ou sementdam en krip skoon te maak sodat die water wat sou oorloop wanneer die tenk vol is, vir die diere gebruik kon word.

Daar was 28 huise in die spesifieke deel oor, maar versprei oor ’n groot gebied waar voorheen blykbaar by die 500 huise was voordat die myn die ander mense verskuif het. Om die beste posisie van die krane te bepaal, moes ons by elke huis aanry met ’n GPS om hulle presiese posisie te bepaal. Hier het ek gesien dat die gesindheid van die mense teenoor my baie verander het. Die kinders stop my en klim agterop die bakkie en ry orals saam terwyl ek daar in die gemeenskap rond ry. Al die mense groet vriendelik en vra hoe dit gaan. Geen aggressie nie.

Met die bepaling van waar die krane moet kom, kom die volgende rondte. Almal is bang die water is te vêr van sy huis of te naby die ander se huis. Ek verduidelik dat indien ons die krane op die plekke plaas soos ons beplan het, niemand verder as 200m hoef te loop vir water nie. Dit het ’n redelike argument veroorsaak maar ek kon almal oortuig dat dit die regverdigste vir almal is as die krane plaas soos beplan.

Die pype van die tenk na die krane was ongeveer 1.5 km lank. Die pype moes begrawe word. Die gemeenskap het daarmee twee probleme. Die eerste is wie gaan betaal en dan weier Cassim se mense om met Michael se mense saam werk. Ek oortuig hulle dat die water vir die hele gemeenskap is en hulle niks kos nie, en dat die minste wat hulle kan doen is om die pyp te begrawe sonder betaling. Die tweede probleem was opgelos toe ek aanbeveel dat Cassim se groep by die tenk begin om die pyp te begrawe en Michael se groep begin die pyp by die krane begrawe, dan hoef hulle nie saam te werk nie en moet hulle maar net tot bymekaar grawe.

Die volgende dag het ek gaan kyk en toe was die twee groepe aan die grawe.

Ek het begin bekommerd raak dat daar na ’n paar dae nog nie water in die krane was nie. Ek het gaan kyk of al die krane wat moet oop wees oop is en besef toe dat 1.5km pyp baie water moet vat om vol te word. Ek was gelukkig daar toe ek die kraan oopdraai en die eerste water loop uit. Die mense was baie bly en het begin sing en dans. ’n Vrou kom vra toe of hulle ’n “prayer meeting” kan hou vir die water. Ek reël dat die volgende Sondag ’n erediens in die VG Kerk sal wees.

Ds Jopi Makgae was baie bly om te hoor dat ek sal preek, dus hoef hy nie verder voor te berei nie.

Die Heilige Gees aan die werk

Wat in daardie volgende week alles met my gebeur het was moeilik om te verstaan. Ek was die hele week bewus van die verantwoordelikheid om dalk vir die enigste keer in my lewe vir mense te preek wat nog nooit in ’n kerk was nie. Ek kon die hele week nie tot ’n punt kom oor wat daardie Sondag moet gebeur nie.

Ek het Saterdagoggend opgestaan en nog nie geweet wat ek gaan doen nie. Ek het voor my rekenaar gaan sit en gevra dat die Here my moet help, want vir my het die tyd min geword.

Terwyl ek daar sit kom daar gedagtes by my op oor wat aan die gebeur was. Dat dit wat ons besig was om te doen, eintlik die kerk se werk was. Ek lees die aanhaling van iemand wat sê dat die kerk die enigste organisasie behoort te wees wat nie ter wille van sy lede bestaan nie, maar ter wille van ander.

Teen middagete was my preek klaar voorberei en was ek baie rustig oor die Sondag erediens.

Die Heilige Gees in die kerk

Die Sondagoggend daag die leiers een vir een op, ook Cassim en van sy opponente. Cassim vat my aan die arm en vra dat ek saam met hom moet loop sodat hy ook kan sien hoe lyk ’n kerk binne. Van die ander mense was ook nog nooit in die kerk nie.

Almal wat saam met my betrokke was by die projek met hulle gesinne was saam met my gesin in die kerk. Daar was drie blanke gesinne. Daar was ook 12 van die leiers uit die gemeenskap waarvan meeste nog nooit in die kerk was nie en seker ongeveer 20 lidmate van die gemeente. Dit is gebruik in die gemeente dat belangrike gaste voor in die kerk moet kom sit, daarom het die leiers reg voor in die kerk gaan sit. Cassim en sy groot vyand van die afgelope water oorlog eindig langs mekaar.

Die preek was oor Joh 4, oor die water van die lewe. Nog nooit in my lewe was ek so rustig terwyl ek gepreek het nie. Dit was asof alles maar vanself gebeur. Aan die einde van die preek vra ek dat as daar mense is wat hulle harte vir die Here wil gee, hulle net hulle hande moet opsteek. Onmiddellik het twee hande opgeskiet. Dit was Cassim en sy groot vyand van die afgelope tyd. Binne sekondes gaan al 12 die leiers se hande op en ’n paar van die gemeentelede. Ek vra dat almal opstaan. Ek verduidelik presies waaroor dit gaan. Ek vra dat die wat nie seker is nie liewer moet gaan sit. Niemand het gaan sit nie. Ek lees vir hulle ’n oorgawe wat ek vooraf opgestel en laat vertaal het. Die tolk lees dit sinnetjie vir sinnetjie voor sodat almal dit agter hom kan aansê. Dit gee my die geleentheid om hulle dop te hou. Ek kon nie die erns van die mense glo nie.

Vrede vir almal

Voordat ons in die kerk afsluit, wil Cassim en een van die vrouens iets sê. Cassim bedank ons en verduidelik dat hy nou weet dat die water ’n geskenk van God is en nie van sy voorvaders nie. Die vrou vertel toe in trane dat sy deel was van die groep wat op pad was na Cassim om hom te gaan doodmaak, en dat ek hulle gekeer het. Sy kon nie genoeg dankie sê vir wat ons vir haar gedoen het nie. In die kerk omhels die mense mekaar, dieselfde wat mekaar vroeër wou doodmaak.

In die konsistorie sê Jopi Makgae vir my terwyl daar trane in sy oë is dat hy nog nooit die Heilige Gees in sy lewe so beleef het soos daardie oggend in die kerk nie.

Ek het verwonderd gestaan. Om deel te wees van gebeure waar die Heilige Gees so duidelik en so beslissend besig was met mense wat nog nooit iets met God te doen wou hê nie, was een van die wonderlikste dinge wat nog met my gebeur het. Die hele belewenis kan ek nie beskryf nie, ek dink mens moet dit kan beleef om werklik te besef wat daardie dag gebeur het.

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!