Koedoeskop Werk Wyd met Evangelisasie

NUUS VAN KWENA GETUIENISFORUM

Kwena GetuienisForum (KGF) gaan onder die entoesiastiese en toegewyde leiding van ds Henry de la Guerre en ouderling Amos Schreuder van die NG Gemeente Koedoeskop van krag tot krag.

Die Kwena Evangelisasie-aksie (KEA) het in November 2000 sy beslag gekry toe die Evangelisasiekommissie van die NG-gemeente Koedoeskop besluit het om die Evangelie op ‘n praktiese manier te begin uitdra.

Behalwe die entoesiasme en toewyding van gemeente- en kommissielede het KEA in die beginfase oor weinig hulpmiddels of fondse beskik.  Tog was die eerste uitreik na Vingerkraal besonder geseënd en het tot 1,200 mense (500 skoolkinders en 700 volwassenes) die opelugfunksies bygewoon.  Na ‘n nederige begin in die Koedoeskop-gemeente het KEA spoedig groeiende belangstelling gewek.Die KEA het in Augustus 2001 as Kwena Getuienis Forum (KGF) begin funksioneer, met drie NG en drie VGK gemeentes wat begin saamwerk het

Op ‘n gesamentlike vergadering van 18 NGK- en VGK-predikante gedurende Augustus 2001, het  KGF ‘n groot tent as geskenk van Judea Harvest in ontvangs geneem.  Ds. Danie Jordaan, voorsitter van die Limpopo-Wes Evangelisasie forum  (voorheen Ds. Koos Beukes se tent aksie), het terselfdertyd aangebied om drie evangeliste aan KGF beskikbaar te stel en hulle tot die einde van die finansiële jaar te vergoed.

Hierdie geloofsdaad en die gebede wat dié dag opgeklink het in die tent wat langs Koedoeskop se kerkgebou opgeslaan was, sou spoedig tot wonderlike seën en ‘n nuwe momentum vir KGF lei.   KGF geniet wonderlike ondersteuning van die Ring van Northam, die Ring van Krokodilrivier en die Ring van Saulspoort (VGK).

Tans neem 7 NG- gemeentes en 16 VGK-gemeentes aan KGF se werksaamhede deel.

Die Forum se doelstellings kan soos volg saamgevat word:

  • Evangelisasiewerk insluitende prediking en huisbesoek d.m.v. ‘n tentspan.
  • Hulpverlening aan die NGK en VGK om infrastrukture te skep waar mense van Jesus Christus en sy koninkryk geleer kan word.
  • Barmhartigheidsdiens waar van toepassing, veral vir slagoffers van armoede, Vigs en ander omstandighede.
  • Opleiding aan spanlede, kerkraadslede en lidmate van die NGK en VGK deur aanbieding van o.a. die EE III-kursus in elke gemeenskap waarheen uitgereik word.
  • Uitbou van ‘n sterk getuienisforum en ekumeniese bande met NGK- en VGK-gemeentes wat vrywillig in die teikengebied (Thabazimbi, Brits, Rustenburg en Warmbad) betrokke wil raak.
  • Ondersteuningsdienste t.o.v. beplanning en verskaffing van inligting soos die behoeftes ontstaan.

By Doornfontein is 446 kinders vir ‘n maand lank elke dag geestelik bedien. Uit die aksie het ‘n VCSV-tak ontstaan wat weekliks funksioneer. Verskeie uitreike na plase is in dié tyd ook in samewerking met boere gereël.

Die Evangelie is per geleentheid aan tot 300 mense by Skilpadnes verkondig.  Die span het verder 680 persoonlike besoeke in die gebied afgelê, terwyl die Jesus-film en videos oor Vigs ook dikwels vertoon is.  Verskeie VGK-lidmate is in die proses opgespoor en Skilpadnes word tans as ‘n buitepos deur die VGK van Saulspoort bedien.  (Dit is insiggewend dat tydens die uitreik maand geen misdaad in die Skilpadnesgebied – wat deur die SAPD as ‘n “misdaadparadys” bestempel word – aangemeld is nie!)

In Augustus 2002 (KGF se eerste verjaarsdag!) is ‘n omvattende uitreikaksie vir ‘n maand lank saam met die NG-gemeente Proteapark by die Malanstraat taxi-terminus (“rank”) in Rustenburg van stapel gestuur.  Onder leiding van Dr. Maans van Zyl en ouderling James Ferreira (Proteapark, met die ondersteuning van ander NG-gemeentes soos Bergsig, Rustenburg-Suid en die plaaslike Moedergemeente) is ‘n reusestap vorentoe op ekumeniese en evangelisasie vlak gegee.  Die omvang van die aksie is hartverblydend: Vyftig predikante van verskillende denominasies het volgens ‘n rooster drie dienste per dag gehou; ‘n evangeliekoerant met artikels oor Vigs, die huwelik, die weg na saligheid en ander geestelike leesstof is aan meer as 150,000 mense uitgedeel; sowat 70,000 geestelike traktaatjies is versprei; 600 Bybels is verkoop; bykans 400 mense is elke Donderdag in Bybelse beginsels oor Vigs, die huwelik en seksualiteit onderrig; meer as 2 000 mense het tot bekering gekom (hul besonderhede is afgeneem en ‘n opvolgprogram is in plek gestel).

Sedert begin  September 2002 is KGF saam met die NG-gemeente Dwaalboom besig met ‘n uitreik van twee maande na plaaswerkers in die gebied.  Die samewerking en steun van die boeregemeenskap sou deurslaggewend vir die sukses van die projek wees.  Intussen het daar ‘n gemeente onstaan by Brabandt in die Dwaalboom bedienings gebied.

Uitreike na Ramakokstat, Bojating, Mmorogong en omgewing waar `n menigte  mense in statte woon, word gekenmerk deur groot opgewondenheid by veral die VGK.  Die plek waar die tent elke keer opgeslaan word, sowel as die program word deur hulle self gereël.  Tientalle huisbesoeke word maandeliks afgelê, afgesien van die boodskappe (preke) wat elke dag aan volwassenes en kinders gebring word.

Sommige Hoogtepunte van die Afgelope Jaar

  • Die kerkraad van die NG-gemeente Dwaalboom getuig dat KGF se tentaksie hulle gemeente gehelp het om ‘n gemeente te word wat uitreik na ander met die Evangelie.
  • Voltooing van die kerkgebou op Mmorogong met behulp van Samaria en Kwena.
  • Na voltooing van die kerk op Mmorogong kom besoek 35 lidmate die erediens van Koedoeskop om dankie te sê.  Lidmate van Koedoeskop word so geraak deur die getuienis van Oudl. William oor wat KGF vir hulle beteken het, dat ‘n verdere R6000.00 geskenk word deur ‘n lidmaat om banke te maak vir hul kerk.
  • Gedurende Augustus 2007 lei Rev. Remorse Manzini van EE III, 18 lidmate op, (waarvan die helfte jeug lidmate) vir uitreike in hulle gebied.
  • In Januarie 2008 gedurende ‘n uitreik na Bojating besoek die Evangeliste “die opkomende boer van die jaar”.  Hy kom tot bekering en word ‘n lidmaat van die plaaslike gemeente van die VGK.

Bewus van sy groot verantwoordelikheid en roeping (Hand. 1:8 en Kol. 1:28), besef  KGF ook dat sy werksaamhede net tot die eer en glorie van God moet wees.  Want “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe.” (Efes. 3:20-21)

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!