Kwan’debele – Hlanganani
Gesamentlike Sendingkommissie vir Kwan’debele
Die Gesamentlike Sendingkommissie vir Kwan’debele het in die vroeë tagtigerjare tot stand gekom toe ‘n aantal gemeentes in die ooste van Pretoria, meestal uit die Ring van Pretoria-Faerie Glen, saam met die gemeentes Marble Hall en Middelburg, begin saampraat en saambid het oor die ontsaglike geestelike en maatskaplike nood van die mense in die Kwan’debele tuisland, ‘n gebied noordoos van Pretoria, suidwes van Marble Hall, suidoos van Warmbad en noordwes van Bronkhorstspruit. Mense is hier vanaf verskillende dele van die ou Transvaal hervestig, maar veral uit die Oos-Transvaalse Hoëveld, Middelburg, Bethal, Roossenekal enLaersdrit. Voorkeur is gegee aan Ndebele-sprekers, in die lig van die behoefte wat in daardie tyd geïdentifiseer is vir ‘n Ndebele tuisland, ingevolge die destydse tuisland-beleid. ‘n Hele aantal dorpe is in hierdie gebied opgerig, en infrastruktuur is ontwikkel, bv paaie, retikulasie vir water, opgaardamme, pompostasies ens. Dorpe soos Kwaggafontein, Tweefontein, ens., is ontwikkel. (sommige van die ou name van boereplase in die omgewing is behou). Talle reisigers op die Moloto-pad, wat Pretoria en Marble Hall op ‘n reguit lyn verbind, het hulle al verstom oor die talle en talle dorpe wat langs hierdie pad geleë is, en die honderde busse met pendelaars wat daagliks hierdie pad gebruik. Hoewel ’n aantal ligte nywerhede in die gebied ontwikkel is, is die meeste inwoners wat wel werk het, afhanklik van busvervoer, waarmee hulle daagliks na Pretoria en terug pendel. HIervan is ‘n aansienlike getal vroue wat as huishulpe in verskeie voorstede van Pretoria werk. Die meeste van hierdie dorpe wat in die voormalige Kwan’debele-tuisland ontwikkel is, is dus in die praktyk niks anders as slaapdorpe nie.
Ongeveer dieselfde tyd (1981) het die VGK-gemeente (tevore NGKA) Hlanganani tot stand gekom, en is die behoefte geïdentifiseer om ‘n voltydse leraar te beroep. Die naam Hlanganani beteken “kom ons maak bymekaar”. Dwarsdeur die turbulente tagtigerjare is die bediening voortgesit, soms ook met die hulp van voltydse sendingleraars soos ds Kobus Minaar, wat later in die noorde van Mosabiek gaan werk het. Daar is tans 21 punte waar Sondag-eredienste gehou word, sommiges in skoolklaskamers en ander in eie geboue. Eredienste word deur ouderlinge en ander lidmate gehou. Leraars spits hulle toe op nagmaals- en doopdienste, katkisasie, toerusting van kerkraadslede, huwelike en begrafnisse, en pastorale besoeke. Met die hulp en ondersteuning van die GSKK is daar in ‘n stadium drie leraars in diens gestel, en is kerkgeboue opgerig by Siyabuswa, Kwaggafontein, Sybrandskraal, Tweefontein A, Kameelrivier, Vaalbank, en Tweefontein F. Tans is daar net een leraar, ds JJ Nkosi, wat die eerste Sondag van Mei 2008 emeritaat aanvaar. Op dieselfde Sondag sal daar hopelik, indien die kerkraad se planne realiseer, ook weer ‘n nuwe leraar bevestig word.
Foto’s van die bedrywighede in Kwan’debele – Hlanganani
![]() |
Hierdie gebou van die plaaslike regering vertoon die tradisionele patrone wat op huise en ander geboue aangebring is, en wat so kenmerkend van die Ndebele-kultuur is. |
![]() |
Die halfvoltooide kerkgeboutjie by Kameelrivier. Die gemeente het self inisiatief geneem om die kerkgebou op te rig en uit eie fondse gevorder tot versterhoogte. Die GSKK het hulle ondersteun om die gebou te voltooi. |
![]() |
Die “tuisgemaakte” tydelike geboutjie waarin die gemeente te Tweefontein F hul eredienste gehou het voordat die kerkgebou voltooi is. |
![]() |
Die halfvoltooide kerkie by Kameelfontein van binne. |
![]() |
Straatverkopers langs ‘n teerpad in die voormailge Kwan’debele.
Tevore was daar eintlik maar net een teerpad in die gebied, nl die Moloto-pad tussen Pretoria en Marble Hall. Heelwat ontwikkeling het na 1994 hier plaasgevind. Werkloosheid is egter geweldig hoog en vervoerkoste na Pretoria (ongeveer 100km ver) is so hoog, dat talle werksoekers maar hoop opgegee het en liewer tuisbly. |
![]() |
Ds Johann Fourie, lid van die GSKK, besoek die halfvoltooide kerkie by Tweefontein F saam met die leraar, ds JJ Nkosi en ouderling Mahamba, en ander lede van die GSKK. |
![]() |
Dr Jan du Preez, leraar van die VGK-gemeente Witbank-Schoongezicht, praat met lede van die GSKK-bestuur oor die noodsaaklikheid van toerusting van bekwame lidmate dmv die Nehemia-kursus. Vlnr is ds Johann Fourie, oudl Mahamba, ds JJ Nkosi, ds Henry van der Schyff (kassier), me Desire Barnard, en mnr Gideon Rossouw. |


15 Januarie 2008 














No comments yet... Be the first to leave a reply!