Ellisras se Evangelisasie-Forum Breek die Pad Oop

NUUS VAN LIMPOPO-WES EVANGELISASIE FORUM

Ontstaan

Die Forum  het in 1998 tot stand gekom toe  ds. Koos Beukes, met  sy  aftrede, die  predikante  van Ellisras  genader  het om een van  sy  evangelisasiespanne oor te neem.  Na ‘n  paar  vergaderings, en  ‘n aanbod  van  Ds. Beukes om die tente plus ‘n  vragmotor plus  R45000 te skenk as  ‘n  wegspring,  kom Di Jordaan, Griesel en  Scheepers op ‘n  informele basis ooreen om aan te gaan  tot  die  stigting van die Limpopo-Wes Evangelisasie Forum. Dit loop uit op  ‘n  vergadering van  verteenwoordigers  van  verskeie VGK  en NG Gemeentes waar besluit is om  ‘n  Forum  op  die been  te  bring.

As Doel  van  die  Forum  is  die  volgende  gestel: Om die uitbreiding van God se Koninkryk in ons onmiddellike omgewing te bevorder deur inter-gemeentelike samewerking. Die presiese omvang van die gebied sal later vasgestel word in ooreenstemming met die deelnemende gemeentes.

Die  aanvanklike werkswyse is  soos volg geformuleer

Die Forum sluit wat betref ons evangelisasie-span naastenby aan by die metodiek wat gebruik is deur die evangelisasie  kantoor van VGK voorgestel.

Die Forum koördineer die wyse waarop die evangelisasiespan deur die betrokke gemeentelike sendingaksies benut gaan word ten einde hul gemeentelike inisiatiewe te ondersteun.

Aanvanklike medewerkers:

NGK Ellisras-Wes, VGK-Mosima, VGK-Limpopo, VGK-Seleka, NGK-Koedoesrand, NGK Vaalwater, NGK. Thabazimbi, NGK Koedoeskop, VGK Thabazimbi, NG Kerk Marken

Bondige Geskiedenis

Die aanvanklike  werkswyse was  dat van  die onderskeie gemeentes  die  span uitgenooi het  om in  hulle gebied met hulle samewerking ‘n  maandlange veldtog  te onderneem. En  daarna  na  die  volgende plek  te  verskuif. Die plaaslike gemeente moes die opvolgwerk doen.

Aanvanklik is  ‘n  geweldige groot  gebied bedien, wat uiteraard  groot logistieke uitdagings  gestel het. Dit het  daartoe  gelei  dat  uiteindelik  besluit is  om  die  Forum in  twee te  verdeel en  so het  die Kwena Evangelisasie Forum tot stand  gekom, wat gekonsentreer het op die Thabazimbi-Koedoeskop- Northam gebied, terwyl Limpopo gekonsentreer het op  die Marken-Steenbokpan-Ellisras-Vaalwater gebied  wat  deur Vyf  VGK gemeentes  bedien is. Van  die vyf VGK-gemeentes was ds.  Harold  Weepener leraar van twee en  konsulent van  die ander drie.

Vir  ‘n  ruk is nog  volgehou  met  die  werkswyse van  maandelikse veldtogte. ‘n  Natuurramp het daartoe  gelei dat    metode  en strategie  gewysig is. Die  skool by  Botshabelo se  dak  is  afgeruk deur  ‘n  stormwind. In samewerking  met  die destydse  Kumba-steenkoolmyn is  eers  tydelike  klaskamers  opgerig. Terselfdertyd is  daar met  die  departement  van Onderwys onderhandel. Dit  het  daartoe  gelei dat daar  ‘n splinternuwe skool opgerig is. Toe is  besluit  dat die  span  vir  ten minste  drie maande daar  gaan  werk.  Op  daardie stadium was daar nie  ‘n  afsonderlike   bedieningspunt nie, maar slegs enkele  lidmate. Deur  die werk  van  die span het daar uiteindelik  ‘n  “gemeentetjie” ontstaan (in werklikheid  ‘n  wyk  van  VGK Seleka) met geestelike leiers. Uiteindelik  het dit ook tot die oprigting  van  ‘n  kerkgeboutjie te Botsabelo gelei.

Die gebou  was nog  nie  eers  voltooi toe  die aanliggende gemeenskappie Moöng die Forum  versoek om ook  daar te kom  werk. Die situasie daar was soortgelyk  aan  die  by  Botshabelo – d.w.s. geen bedieningspunt net enkele lidmate. En weer een lei  die werk  van die span tot  “gemeente-planting”  en  die  bou  van  ‘n  kerkie.

By  die voltooiing van  die  gebou word  die  span  genooi te  Steenbokpan te gaan  werk.  Die situasie hier was in ‘n sekere sin anders as by die vorige twee plekke in die sin dat er reeds ‘n gevestigde gemeente was, maar waar as gevolg van die afwesigheid van ‘n leraar oor ‘n lang tyd redelike verval plaasgevind het en daar uiteindelik nie meer veel ‘n gemeente oor was nie. Die keuse van ‘n staanplek was ietwat problematies, deurdat op Steenbokpan self daar geen groot konsentrasie van mense was nie, maar dat daar ‘n groot dorpstigting in die vooruitsig gestel is, en dit in die lig daarvan die aangewese plek sou wees vir ‘n toekomstige kerk. Daarom is uiteindelik wel besluit om die tent langs die sokkerveld op te rig. Die keuse  het aanvanklik sy kwota probleme opgelewer, juis om rede van die groot afstande wat die mense moes aflê om by die tent te kom. Intussen  het die  situasie  radikaal verander deurdat  ‘n  groot plakkerkamp reg by die tent aan die ontstaan is. Die sendingveld  het  na  die kerk  gekom en  vir  ‘n  slag was  die  kerk hier voor!

Die probleme by Steenbokpan het met die verloop van tyd bykans verdwyn en tans is daar nie alleen ‘n redelike leierskap vir die gemeente gevestig nie, wat al in ‘n groot mate verantwoordelikheid vir die gemeente aanvaar het, maar is ook die opkoms na die tent aan die groei.

Dit lyk vir ons in elke geval baie nodig om in oorleg met albei die gemeentes op Steenbokpan ‘n strategiese plan te gaan opstel vir toekomstige werksaamhede. Teen die einde van die boekjaar het ons ‘n versoek ontvang van Dr. Daniël Maluleke, die saakgelastigde van VGKSA Noordelike Sinode, dat die evangelisasie-span hom vir ‘n tydperk van twee maande sal kom help met ‘n deur-tot-deur evangelisasieveldtog in die informele woongebied te Ivorypark. Omdat ons dit as ‘n groot opleidingsgeleentheid vir die evangeliste beskou het om onder leiding van ‘n goed gekwalifiseerde leraar van die VGKSA. so ‘n evangelisasie-ervaring op te doen, oorweeg ons dit om die veldtog tydelik te onderbreek vir ‘n veldtog in Ivorypark, om daarna weer terug te keer na Steenbokpan.

Affiliasie

Gemeentes en individue affilieer op vrywillige basis by die Forum. Voorsiening kan Ook gemaak word vir waarnemerstatus. Waarnemerstatus kan te enige tyd beëindig word of omgeskakel word in geaffilieerde status.

Finansiële bydraes

Ten einde die werksaamhede te finansier, sal geaffilieerdes en individue gevra word om ‘n finansiële bydrae te maak. Elke gemeente of individu besluit self oor hulle bydrae. Gedurende die afgelope  agt jaar  het  die Here  op  ‘n wonderbaarlike wyse  voorsien. Die omset beloop elke  jaar in die omgewing  van  R100,000 en  dit  is  afkomstg  van  net  ‘n paar gemeentes (NGK Koedoesrand. NGK Sesmylspruit, NGK Monumentpark en NGK Ellisras-Wes en  VGK Seleka)  asook  indiwiduele donateurs.

Dagbestuur

‘n Dagbestuur van  vyf lede vergader  elke Donderdag om  die  werksaamhede te  koördineer.

Die Forum kan ontbind word as die meerderheid van die samestellende kerkrade daartoe besluit.

Nuwe uitdagings  en verwikkelinge.

Ds.  Harold Weepener het . aan die einde van Oktober  2007 afgetree  na ‘n  baie geseënde bediening. In die laaste jare van sy bediening was hy terselfdertyd leraar van twee VGK. gemeentes, nl Seleka en Limpopo. As gevolg van vakatures in die Ring van Potgietersrus was hy ook amptelik konsulent van drie ander VGK gemeentes, nl Mosima, Machaneng en Waterberg. Die finansiële posisie van al vyf hierdie gemeentes is van so ‘n aard dat nie een van hulle ‘n leraarspos finansieel kan dra nie. Die pos van ds. Weepener is  ten volle deur die NG Kerk Noordelike Sinode gedra.  Die Forum het  met  die  Sinodale Getuienis-  kommissie  begin  gesels en  deur hulle bemiddeling  het ons daarin geslaag  dat  die SDR van die NG Kerk Noordelike Sinode uiteindelik ‘n  subsidie goedkeur wat  ons in staat  stel om  twee derdes van Ds. Hannes Peens, tentmaker-dominee van  Marken se tyd uit  te koop en hom as organiserende  sekretaris van  die  Forum aan te stel.   Sy primêre taak  sal wees die opleiding, toerusting  en bemagtig  van  die  vyf VGK-gemeentes.  Hy is die taal redelik goed magtig en het reeds ‘n groot deel van die gebied saam met ds Wepener besoek en kontak met die verskillende VGK-gemeentes se kerkrade gemaak.  Hy het in ‘n onderhoud laat blyk dat dit  nou reeds duidelik is dat heelwat tyd en aandag gegee sal moet word aan die toerusting van ouderlinge en kerkleiers, in die lig van die groot verantwoordelikhede wat hulle dra en die tekort aan leraars en aan fondse om poste te skep en te vul.   Hy is tans ook besig met ‘n M-skripsie oor missionale tranformalsie onder leiding van dr Jurgens Hendriks, emeritus professor van die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Stellenbosch.

Personeel

Aanvanklik  het  die  tentspan uit vyf lede  bestaan. Na die  verdeling met die afstigting van Kwena het  drie spanlede  na Kwena  verhuis  het  ons  met slegs  twee agtergebly. Ons  was toe  verplig  om nog een  te werf, ‘n gemeente-seun  van die VGK-gemeente Seleka, Nadat twee ander  evangeliste na  ‘n ander werksterrein verskuif het, is daar weer ‘n nuwe  spanlid gewerf. Omdat dit  nuwe  werkkragte was, is die as noodsaaklik beskou om in-diens-opleiding te  verskaf en het ons hulle ingeskryf as  studente by die Nehemia Bybelinstituut. Die bedanking van een lid en die onverwagse  afsterwe van nog een het  ons  in ‘n  redelike krisis  laat beland, deurdat  net een lid van die span  oorgebly  het.  Maar weereens  het  die  Here op ‘n  wonderbaarlike  wyse  voorsien  toe  nie  minder  nie as drie lidmate van die VGKerk  hulle kom  aanmeld het.  Dit  plaas ons voor ‘n  nuwe finansiële uitdaging om ‘n  addisionele R60,000 te vind.

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

One Response to “Ellisras se Evangelisasie-Forum Breek die Pad Oop”

  1. Desiree,

    Jammer dat ek nou eers reageer. Indien jy spesifiek met die Limpopo-Wes Forum wil kontak maak, wat in die Elleisras-omgewing werk, kan jy met ds Hannes Peens skakel. Sy kontakbesonderhede is soos volg: e-pos: hpeens@lantic.net en sy tel nrs is 014 765 0205 en 082 8866 077

    Ds Andries Louw
    anelouw@getuienisforum.org.za ; sel: 083 276 4476