Die Diensgetuienisforum van Mamelodi

Die Diensgetuienisforum van Mamelodi bestaan uit 5 NG Gemeentes in Pretoria-Oos en die Uniting Reformed Church Mamelodi Phahameng. Dit is die doel van al die kerke om saam ‘n verskil in Mamelodi te maak deur op praktiese maniere armoede te beveg en beter lewens in totaliteit te skep vir die gemeenskap. Om nie net in mense se fisiese behooeftes te voorsien nie maar in hul geestelike behoeftes ook.

Die Mamelodi Phahameng Gemeente het ook ‘n kleiner sateliet kerkie met die naam Stanza Bopape, deur die week word die fasiliteite van altwee hierdie kerke gebruik as kleuterskole met ongeveer 120 kinders tussen hulle.

Die Forum het onlangs die vooreg gehad om Me. Bontleng Setoto, ‘n maatskaplike werker, op ‘n voltydse basis aan te stel. Sy is verantwoordelik vir al die kinders in die twee kleuterskole en om kontak met hulle ouers te maak en sodoende te sien waar die kerk mense in huishoudings kan ondersteun. Rev. Felix Tshigovha het self ‘n netjiese kantoor ingerig vir haar van waaruit sy haar werk kan doen.

Me. Setoto se man, Isaac Setoto, ‘n Teologiese student aan die Universiteit van Pretoria, is ook betrokke by een van die projekte daar naamlik die “Thusano Mahaeng”-projek waar hulle mense uit die gemeenskap leer hoe om skottelgoedseep te maak en dan dit te verkoop en so ‘n klein inkomste vir hulself te genereer. Die Phahameng Gemeente se fasiliteite word gebruik vir die weeklikse vergaderings waar die deelnemers aan die projek opleiding ontvang en waar idees uitgeruil word oor die verskillende aspekte rondom die bemarking en verkoop van die vervaardigde produk. Deur saam te werk en die voordeel van groot voorrade wat aangekoop word te deel word hierdie mense ‘n goeie ekonomiese hupstoot gegee.

Na my mening slaag die getuienisforum in hulle doel om ‘n verskil te maak in die gemeenskap en in die groter doel om ‘n model te ontwerp waarvolgens armoede volledig beveg kan word. Die betrokke mense snap almal die belangrike waarheid dat armoede nie net oor ‘n tekort aan geld is nie en dat mense eerder die geleentheid moet gegun word om hulself te bewys en self ‘n lewe te bou as om net eenvoudig geld uit te deel. Om waarlik iemand op te lig tot jou gelyke is om hom ‘n gelyke kans op die lewe te gee.
Deur ook op ‘n praktiese manier te mense te dien, word die evangelie gepreek in ‘n taal wat maklik verstaan word in ‘n arm gemeenskap, ek is seker die Here sal nog groot dinge hier doen in die toekoms.

Lourens Snyders

Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!