Nylstroom Forum Leef Eenheid in Christus
NUUS VAN NYLSTROOM GETUIENISFORUM
Naam: Nylstroom Getuienisforum
Ontstaan: Die Getuienisforum van Modimolle/Nylstroom is op 10 Februarie 2000 gestig. Die reglement is deur die drie kerkrade aanvaar. Aanvanklik het ons elke kwartaal vergader maar tans gebeur dit drie keer per jaar.
Betrokke gemeentes: VGK, Nylstroom, NG Gemeente, Nylstroom-Oos, NG Gemeente, Waterberg.
Gebied wat bedien word: Die gebied wat deur die VGK bedien word, sluit die twee NG-Gemeentes se areas in. Ooswaarts – 25 km vanaf Nylstroom. Suid – grens aan die Bela-Bela gebied. Noord – grens aan die Naboomspruit gebied. Wes – grens aan die Thabazimbi gebied.
Bedieningsfilosofie: Die samewerking van Christen-gelowiges (drie gemeentes) om die Blye Boodskap van verlossing so wyd as moontlik uit te dra binne ons gemeentes se grense; om hoop en hulp so ver moontlik vir die noodlydendes te bring.
NG Gemeente, Waterberg: Aard van bediening
Huisbesoeke en ander take deur die voltydse geestelike werkster: Sy gebruik die geestelike stof wat aan haar voorsien is (bv., hoe om iemand na Jesus te lei), tydens haar huisbesoeke in die plakkersgebied. Van die mense wat sy oor die jare leer ken het, kom na haar vir geestelike gesprekke. Sy doen ook huisbesoeke by siek mense. Sy kry met baie ZCC-mense te doen. Hulle luister gewoonlik na haar, maar is geheg aan hulle kerk. Wanneer die mense vaag is oor hulle kerkverbintenis, moedig sy hulle aan om by die VGK of die Lutherse Kerk in te skakel. Sy word gereeld by verskeie ander take betrek, bv. die meel- en tuintjieprojekte. Omdat daar vir ‘n geruime tyd so min belangstelling in die naaldwerkklasse was, is dit gestaak.
Kerkdienste buite Phagameng: Die vier VGK predikers gaan baie getrou elke Sondag uit in die distrik met die twee bakkies. Op elkeen van die twee roetes, het dienste op twee plase sodanig gekwyn dat enkele mense by daardie punte opgelaai word. Sokkerspelery op Sondae, eis ook sy tol. Die dienste word dan op Alma en op Heuningfontein gehou.
Gemiddelde bywoning op Heuningfontein is 33 volwassenes en 10 kinders, op Alma 19 volwassenes en 33 kinders. Met verloop van tyd is daar nou 24 VGK-lidmate op Alma en 41 op Heuningfontein.
Elkeen van die twee bakkies lê gemiddeld 148 km per Sondag af.
Daar word op drie plase naby Nylstroom, etensuur-dienste gehou deur ‘n VGK-lidmaat.
Leiding aan VGK geestelike werkers: ‘n Emeritus-leraar ontmoet die vyf van hulle een keer per week om preekonderwerpe te bespreek en vrae te beantwoord.
Sondagskole: Die veranderende situasie op plase die afgelope paar jare, het daartoe gelei dat, met die uit-sondering van Alma, daar slegs op twee plase nog Sondagskole bestaan. Die dinamiese Sondagskool-leidster en drie jong helpers vanaf Phagameng, gee onderrig aan 120 tot 180 kinders uit die koshuis en die plakkergebied op Alma. Die Sondagskool in ons lokaal in Phagameng gaan bestendig voort.
Die verspreiding van Bybels en sangbundels: Die betrokke taakgroep se verkopings aan die einde van elke maand by ‘n taxi-staanplek, wissel tussen 80 en 110 per keer van beide Bybels en sangbundels. Dit is so omdat ons die afgelope tyd die pryse aansienlik verminder het. Indien daar nie vrywillige donasies ontvang word nie, sal die pryse ietwat verhoog moet word.
Die Sending Hulpfonds – armoede verligting: Die Sending Hulpfonds word in stand gehou deur vrywillige donasies deur ‘n aantal van ons lidmate. Tans word 132 gesinne van wie daar nie een lid kwalifiseer vir ‘n staatstoelae nie, en waar die ouers werkloos is of slegs werk vir ‘n dag of twee per week het, van mieliemeel voorsien.
Die hoeveelheid meel per gesin word per formule bereken en is gemiddeld 20 kg. per maand. Daar is ‘n waglys, aangesien ons nie voldoende fondse het nie.
Die donasie wat ons jaarliks ontvang van ‘n groepie dames in België, word hoofsaaklik gebruik om die voorsiening van komberse en skoolklere te befonds, asook om groentetuintjies te bedryf. Weens die besondere warm weer en droogte die afgelope seisoen, was die tuintjies nie suksesvol nie. Omdat mense wat HOP-huise gekry het, nou vir hulle water moet betaal, speel dit beslis ‘n remmende rol.
Wanneer ons ‘n voldoende hoeveelheid gebruikte klere ontvang het, word dit gratis aan plakkermense uitgedeel.
‘n Aantal bejaarde vrouens in Phagameng kom weekliks bymekaar, waar hulle handvaardighede geleer word.
Opleiding van onopgeleide leiers van huiskerke te Phagameng
Dit was ‘n langgevoelde behoefte om ‘n kort, uitsluitlik praktiese kursus in Pedi vir hierdie doel saam te stel en aan te bied. Op 23 Junie 2007 is begin met klasse wat deur 15 mense bygewoon is. Op 22 September 2007 sal 13 van hulle sertifikate ontvang. Vier van hulle is lidmate van die VGK.
Gebedsgeleenthede vir Sending: Daar is maandeliks vir die Lydende Kerk en weekliks vir sending in die algemeen, byeenkomste. By die weeklikse gemeentelike gebedskring, word een byeenkoms per maand vir sendingaangeleenthede gebruik.
Maandelikse berigte oor sending word vir die Gemeenteskakel voorberei . Inligting uit nuusbriewe van sendingorganisasies word ook aan die gemeente deurgegee.
NG Gemeente, Nylstroom Oos: Aard van bediening
Daar word Woensdae-voormiddae voedsel aan ongeveer 300 kinders wat nie skool bywoon nie, uitgedeel. Ongeveer 100 moeders/werkloses het met die tyd bygekom. Nadat speletjies vir die kinders gereël is, word ‘n toepaslike boodskap gelewer.
‘n VGK-lidmaat word en ‘n Sondagskoolhelper word Sondae na een plaas vervoer waar ‘n kerkdiens en Sondagskool gehou word.
By die Forumvergadering word daar besin om ‘n groot tent in die gebied in Phagameng waar misdaad dikwels voorkom, te gebruik vir dienste.
Spesifieke samewerkingsgeleenthede
Die VGK se jaarlikse basaar: As gevolg van die twee NG-gemeentes se insette die afgelope jare, het die basaar in die onderskeie fasette bestendige groei getoon – ook wat selfstandigheid betref.
Gesamentlike Nagmaalsgeleenthede word om die beurt by die drie gemeentes, twee keer per jaar gereël. Die VGK se koor tree dan gewoonlik op.
Forumvergaderings vind minstens twee keer per jaar plaas.
Die Wêreld Biddag: Die VGK is behulpsaam met die organisering hiervan en neem deel daaraan.
Resente Nuus oor spesifieke bedieninge:
KERKDIENSTE OP PLASE
Die NG Gemeente Waterberg, beskik oor twee bakkies wat elke Sondag elk gemiddeld 148 km in twee rigtings aflê. Na sowel die Alma- en Heuningfontein-dienspunte word mense uit die onmiddellike omgewings opgelaai. Op Alma het daar in die jongste tyd ‘n “plakkergebied” ontstaan. Dit is ‘n groot uitdaging om meer mense by die dienste te betrek. Die gemiddelde bywoning op Alma is 20 volwassenes en op Heuningfontein is die bywoning 36 volwassenes.
Veral by die Heuningfontein-dienspunt, meld Jim en Simon dat daar oor die algemeen merkbare geestelike groei plaasvind. Ook John en Joyce noem dat daar geestelike ontwikkeling by die Alma-kerkgangers is in die sin dat daar van die kerkgangers ‘n kans kry om “medepredikers” te wees.
Feitlik al die gereelde kerkgangers op Heuningfontein is lidmate van die VGK en mag nagmaal gebruik. Dit is ‘n leemte by Alma dat, met die uitsondering van slegs ‘n paar persone, mense nog nie as lidmate “aangeneem” is nie. By hulle is daar ook ‘n behoefte om nagmaal te gebruik. ‘n Hele aantal mense is reeds daar gedoop. By beide groepe sal dit waardeer word indien ds Legodi een of twee keer per jaar die nagmaal en die doop daar kan gaan bedien. Ons sou graag wou sien dat meer mense die dienste bywoon. Drankmisbruik oor naweke en die sokkerspelery Sondae, speel ‘n beduidende rol.
Wat die afsterwe van kerkgangers betref, is dit die familie se wens dat hulle geestelike leiers die nodige sal doen. Daarom is dit wenslik dat die betrokke predikers die Woensdagaand voor die begrafnis, onder-steuning gaan verleen. Dit is vir die predikers bemoedigend wanneer die plaaseienaars hulle groet en belangstelling toon.
‘n Paar ritte word per jaar afgelê om mense vanaf die dienspunte na die VGK se konferensie of die ring-saamtrek van die jeug te vervoer. Michael gaan getrou per fiets na twee plase hier naby om etensuur-dienste te hou. Die NG gemeente Waterberg staan in vir ‘n matige vergoeding aan die vyf predikers. Ons is dankbaar dat die predikers Sondae so getrou ongeveer vyf ure opoffer vir hierdie werk. In ons motiveringsgesprekke word daarop gewys dat kinders van die Here graag iets vir Hom wil doen in plaas van om net vir jouself te leef. Ook dat hulle maar aanhou moet saai, al sien hulle nie dadelik die vrugte nie.
VOLTYDSE GEESTELIKE WERKSTER, PHAGAMENG
Tien jaar gelede het ons me Christina Morudu in diens geneem, primêr om Die Weg van Saligheid in die snelgroeiende plakkergebied, individueel aan mense te verduidelik. ‘n Baie volledige handleiding is in Pedi opgestel met bygaande prente om die hooffeite te illustreer.
Weens die kommer oor die gebrekkige bearbeiding van werkers op plase binne ons gemeente-grense, het ons gepoog om werkers in groepies gedurende werktyd vir ‘n uur of wat te onttrek. Hierdie stelsel het nie geslaag nie. Oor die jare het haar werkpatroon in Phagameng verander. Sy gebruik deesdae grepe uit Die Weg van Saligheid en vul haar gesprek dan aan uit stof uit die Bybel volgens haar eie keuse.
Omdat die plakkergebied so groot is, werk Christina nou in ‘n bepaalde gebied. Dit verminder ook die tydsverkwisting om ver te stap. Ons het beklemtoon dat sy die geleenthede om met enkelinge wat haar pad kruis, kortliks oor hulle redding te gesels. Christina is aangemoedig om op die uitkyk te wees vir mense wat ernstig siek is en hulle te begelei om Jesus as hulle Verlosser aan te neem.
Van die baie ZCC-mense wat daar is, luister tog na haar maar hulle bly getrou aan hulle kerk. Na gesprekke met mense, beloof sommige van hulle om weer kerk toe te gaan. Christina word aangemoedig om, na die bearbeiding van mense, hulle taktvol te konfronteer om ‘n keuse vir Jesus te maak.
Maandeliks kom 54 moeders hulle gesinne se mieliemeel by Christina se huis afhaal. Sy bring dan ‘n boodskap vir hulle. Sy help die Oos-NG gemeente wanneer hulle Woensdae aan ‘n groot aantal straat-kinders voedsel voorsien. Sy help dan ook met die geestelike bearbeiding. Sy is ‘n bekwame Sondag-skoolonderwyseres. Enkelinge kom met haar praat oor hulle probleme maar sy kon nog nie daarin slaag om ‘n formele Bybelstudie-groepie aan die gang te kry nie. Sy is ook behulpsaam met verskeie ander take, byvoorbeeld om ‘n beperkte aantal noodlydende gesinne van komberse te voorsien.
Daar word gereeld motiveringsgesprekke met Christina gevoer: Ons kommer oor mense wat verlore gaan; om met haar hele hart in die werk wat sy doen te wees; om die tyd uit te koop, ens. Ons gemeente word gereeld daaraan herinner om vir haar en die ander geestelike werkers te bid. Christina doen haar werk op ‘n nederige en stemmige manier.
IDEALE!
Sondagmiddag, 21 Oktober 2007. Dit was ons gemeente (Waterberg) se beurt om gasheer vir die gesamentlike Nagmaal van die plaaslike NG Gemeentes en die VGK te wees.
Die bedoeling is om uitdrukking te gee aan die goeie verhouding en samewerking tussen die drie gemeentes asook om mekaar op kerklike vlak beter te leer ken.
Goeie samewerking en verhoudinge bestaan reeds vir jare al tussen ons Diensraad: Getuienis en die VGK, veral ten opsigte van die weeklikse kerkdienste op plase en die VGK se jaarlikse basaar. Hulp word aan die vier predikers in verband met hulle voorbereiding gegee. Ds Legodi (VGK-leraar) spreek dikwels sy waardering in verband met hierdie aangeleenthede uit.
Die gesamentlike Nagmale vind ‘n paar keer per jaar plaas. Ons is dankbaar vir die kerngroep uit ons gemeente wat getrou hulle opwagting maak en baie dankie vir ons diakens wat alles so pragtig gereël het!
In die toekoms sal daar gekyk moet word na die redes waarom die bywoningsyfers so laag is. Indien lidmate van die VGK nie oor eie vervoer beskik nie, is die taxi-geld R7 per persoon. Moet daar nie vervoer gereël word nie?
Die samekomste moet meer kere bekendgemaak word. Beide predikers het klem gelê op die belangrikheid daarvan om die bekeringsboodskap uit te dra – ook ter bekamping van misdaad in die Phomolong-gebied van Phagameng. Bid dat die samesprekings wat reeds plaasgevind het, sal realiseer.
GEMEENSKAPSONTWIKKELING
Deur middel van vrywillige donasies help ons met die bedryf van ‘n vyftigtal groentetuintjies en voorsien meel aan meer as 139 gesinne. ‘n Aantal verarmde leerders word met skoolklere en skoolgeld gehelp (met ondersteuning van Sizani uit België). Heelwat komberse en warm klere word in die winter aan plakkersgesinne voorsien. Hierdie werk neem baie tyd in beslag. Dit is met spyt dat ons moet sê dat net ‘n klein groepie aktief betrokke is by hierdie werk.
‘N LIGPUNT
‘n Stukkie hartseer! Elf jaar gelede het ons nege plaas-sondagskole en drie in Phagameng aan die gang gehad. Ons moes net bontstaan om die lesse, prente, dramatjies, inkleurprentjie, ens te voorsien. Die sluiting van plaasskole en “verstedeliking” na 1994 het sy tol geëis. Tans is daar net twee Sondagskole op plase en een in Phagameng.
Heelwat later is ons gevra om op Alma in die laerskoolkoshuis vir 43 swart kinders Sondagskool te hou. Die afgelope paar jaar het daar ‘n plakkerskamp ontstaan en het die Sondagskool verbasend gegroei. Daar het spoedig 120 kinders hulle opwagting gemaak. Tans is dit in die omgewing van 200 plus kinders. Alma het in die opsig ‘n ligpunt geword.
Die onderwyseres is ‘n ywerige, bekwame en ervare jeugwerker. Dit is haar passie en erns dat: “Kinders die Here moet leer ken en gehoorsaam moet wees”. Sy bring voldoende tyd in ernstige voorbidding vir die jeug deur. “Ons probeer om geweld, misdaad en Vigs te bekamp”, sê sy. Sy gebruik dikwels haar eie geld om benodigdhede aan te koop, bv ‘n mikrofoon en om enkele erg behoeftige kinders te help. Sy gebruik en spandeer genoeg tyd aan sang, dramatjies en voordragte. Sy reël gewoonlik jaarliks ‘n jeugnaweek wanneer sy ‘n maatskaplike werker uitnooi om insette te lewer.
Ongelukkig is dit ‘n algemene probleem om geskikte Sondagskoolhelpers te vind. Die voormelde persoon moet so goed as moontlik met die jong helpers oor die weg kom.
Daar word tans aandag gegee aan akkommodasie vir die klasse.
PHAGAMENG – BYBELSTUDIE
Dit is nou ‘n jaar dat die Bybelstudie op Maandae begin het. Dit word gereeld deur ses persone bygewoon. Die boek Handelinge wat tans behandel word, bied baie geleentheid vir aktuele besprekings. Soos Bybelstudie nou eenmaal is, bly die besprekings nie beperk tot verstandskennis nie. Dit raak persone en hulle omstandighede. Dit het tot ‘n beter ken van mekaar gelei sodat daar persoonlike gehegtheid aan mekaar ontstaan het.
Probleme wat dikwels bespreek word, is die bestaan van talle godsdienstige groeperinge wat mekaar opponeer en die uitbreiding van die Christelike geloof aan bande lê.
Die misbruik van alkohol is ‘n groot belemmering in die gereelde bywoning van eredienste. Ons werkers vind dit ook moeilik om jongmense in die kerk te laat belangstel. Hulle vind jongmense afsydig van die kerklike lewe.
Die gemeenskap word baie deur misdaad geteister. Diefstal vind plaas en deure en vensters moet gegrendel bly om dit te beperk.
Die gebrokenheid van die gemeenskap blyk uit vyf selfmoord-gevalle wat in ‘n kort tyd gedurende Des/Jan plaasgevind het. Ons werkers en gemeente in Phagameng en omgewing het ernstige voorbidding nodig, maar gebede is duur want ‘n persoonlike betrokkenheid vloei voort uit ware gebed.


12 Junie 2008 







No comments yet... Be the first to leave a reply!