Nylstroomse Sendingforum

Betrokke gemeentes:  VGK, Nylstroom,  NG Gemeente, Nylstroom-Oos,  NG Gemeente, Waterberg.

Gebied wat bedien word:  Die gebied wat deur die VGK bedien word, sluit die twee NG-Gemeentes se areas in.  Ooswaarts – 25 km vanaf Nylstroom.  Suid – grens aan die Bela-Bela gebied.  Noord – grens aan die Naboomspruit gebied.  Wes – grens aan die Thabazimbi gebied.

BedieningsfilosofieDie samewerking van Christen-gelowiges (drie gemeentes) om die Blye Boodskap van verlossing so wyd as moontlik uit te dra binne ons gemeentes se grense;  om hoop en hulp so ver moontlik vir die noodlydendes te bring.

NG Gemeente, Waterberg:  Aard van bediening

Huisbesoeke en ander take deur die voltydse geestelike werkster:  Sy gebruik die geestelike stof  wat aan haar voorsien is (bv., hoe om iemand na Jesus te lei), tydens haar huisbesoeke in die plakkersgebied.  Van die mense wat sy oor die jare leer ken het, kom na haar vir geestelike gesprekke.  Sy doen ook huisbesoeke by siek mense.  Sy kry met baie ZCC-mense te doen.  Hulle luister gewoonlik na haar, maar is geheg aan hulle kerk.  Wanneer die mense vaag is oor hulle kerkverbintenis, moedig sy hulle aan om by die VGK of die Lutherse Kerk in te skakel. Sy word gereeld by verskeie ander take betrek, bv. die meel- en tuintjieprojekte.  Omdat daar vir ‘n geruime tyd so min belangstelling in die naaldwerkklasse was, is dit gestaak.

Kerkdienste buite Phagameng:  Die vier VGK predikers gaan baie getrou elke Sondag  uit in die distrik met die twee bakkies.  Op elkeen van die twee roetes, het dienste op twee plase sodanig gekwyn dat enkele mense by daardie punte opgelaai word. Sokkerspelery op Sondae, eis ook sy tol.  Die dienste word dan op Alma en op Heuningfontein gehou.

Gemiddelde bywoning op Heuningfontein 33 volwassenes en  10 kinders   

Alma 19 volwassenes en 33 kinders  

Met verloop van tyd is daar nou 24 VGK-lidmate op Alma en 41 op Heuningfontein. 

Elkeen van die twee bakkies lê gemiddeld 148 km per Sondag af.

Daar word op drie plase naby Nylstroom, etensuur dienste gehou deur ‘n VGK-lidmaat.

Leiding aan VGK geestelike werkers:  ‘n Emeritus-leraar ontmoet die vyf van hulle een keer per week om preekonderwerpe te bespreek en vrae te beantwoord.

Sondagskole:  Die veranderende situasie op plase die afgelope paar jare, het daartoe gelei dat, met die uit-sondering van Alma, daar slegs op twee plase nog Sondagskole bestaan.  Die dinamiese Sondagskool-leidster en drie jong helpers vanaf Phagameng, gee onderrig aan 120 tot 180 kinders uit die koshuis en die plakkergebied op Alma. Die Sondagskool in ons lokaal in Phagameng gaan bestendig voort.

Die verspreiding van Bybels en sangbundelsDie betrokke taakgroep se verkopings aan die einde van elke maand by ‘n taksie-staanplek, wissel tussen 80 en 110 per keer van beide Bybels en sangbundels.  Dit is so omdat ons die afgelope tyd die pryse aansienlik verminder het.  Indien daar nie vrywillige donasies ontvang word nie, sal die pryse ietwat verhoog moet word.

Die Sending Hulpfonds – armoede verligtingDie Sending Hulpfonds word in stand gehou deur vrywillige donasies deur ‘n aantal van ons lidmate.  Tans word 132 gesinne van wie daar nie een lid kwalifiseer vir ‘n staatstoelae nie, en waar die ouers werkloos is of slegs werk vir ‘n dag of twee per week het, van mieliemeel voorsien.

Die hoeveelheid meel per gesin word per formule bereken en is gemiddeld 20 kg. per maand.  Daar is ‘n waglys, aangesien ons nie voldoende fondse het nie.

Die donasie wat ons jaarliks ontvang van ‘n groepie dames in België, word hoofsaaklik gebruik om die voorsiening van komberse en skoolklere te befonds, asook om groentetuintjies te bedryf.  Weens die besondere warm weer en droogte die afgelope seisoen, was die tuintjies nie suksesvol nie.  Omdat mense wat HOP-huise gekry het, nou vir hulle water moet betaal, speel dit beslis ‘n remmende rol.

Wanneer ons ‘n voldoende hoeveelheid gebruikte klere ontvang het, word dit gratis aan plakkermense uitgedeel.

‘n Aantal bejaarde vrouens in Phagameng kom weekliks bymekaar, waar hulle handvaardighede geleer word.

Opleiding van onopgeleide leiers van huiskerke te Phagameng

Dit was ‘n langgevoelde behoefte om ‘n kort, uitsluitlik praktiese kursus in Pedi vir hierdie doel saam te stel en aan te bied.  Op 23 Junie 2007 is begin met klasse wat deur 15 mense bygewoon is.  Op 22 September 2007 sal 13 van hulle sertifikate ontvang.  Vier van hulle is lidmate van die VGK.

Gebedsgeleenthede vir SendingDaar is maandeliks vir die Lydende Kerk en weekliks vir sending in die algemeen, byeenkomste.  By die weeklikse gemeentelike gebedskring, word een byeenkoms per maand vir sendingaangeleenthede gebruik.

Maandelikse berigte oor sending word vir die Gemeenteskakel voorberei .   Inligting uit nuusbriewe van sendingorganisasies word ook aan die gemeente deurgegee.

NG Gemeente, Nylstroom Oos:  Aard van bediening

Daar word Woensdae-voormiddae voedsel aan ongeveer 300 kinders wat nie skool bywoon nie, uitgedeel.  Ongeveer 100 moeders/werkloses het met die tyd bygekom.  Nadat speletjies vir die kinders gereël is, word ‘n toepaslike boodskap gelewer. 

‘n VGK-lidmaat word  en ‘n Sondagskoolhelper word Sondae na een plaas vervoer waar ‘n kerkdiens en Sondagskool gehou word.

By die Forumvergadering word daar besin om ‘n groot tent in die gebied in Phagameng waar misdaad dikwels voorkom, te gebruik vir dienste.

Spesifieke samewerkingsgeleenthede

Die VGK se jaarlikse basaarAs gevolg van die twee NG-gemeentes se insette die afgelope jare, het die basaar in die onderskeie fasette bestendige groei getoon – ook wat selfstandigheid betref.

Gesamentlike Nagmaalsgeleenthede word om die beurt by die drie gemeentes, twee keer per jaar gereël.  Die VGK se koor tree dan gewoonlik op.

Forumvergaderings vind minstens twee keer per jaar plaas.

Die Wêreld BiddagDie VGK is behulpsaam met die organisering hiervan en neem deel daaraan.


Soortgelyke artikels:

Twitter Digg Delicious Stumbleupon Technorati Facebook Email

No comments yet... Be the first to leave a reply!