Nehemia Bybelinstituut [NBI] voorsien broodnodige opleiding
Daar is letterlik duisende kerke in ons land wat bedien word deur leiers wat hoegenaamd geen opleiding ontvang het vir hulle taak nie. Dit geld vir meeste van die sgn “Afrika Onafhanklike Kerke” wat die grootste gros van die kerklike bevolking in ons land uitmaak (volgens statistieke was hulle getalle 14,5 miljoen in 2001, wat beteken hulle is byna 41% van alle christene in SA!) Dit geld egter toenemend ook vir baie van die gevestigde kerke, waar ‘n kroniese tekort aan opgeleide leraars ondervind word, onder andere vanweë die hoë koste van voltydse teologiese opleiding. Gevolglik moet onopgeleide ouderlinge dikwels die bediening in gemeentes hanteer.
NBI, ‘n afdeling van Bybel-Media, voorsien opleiding aan kerkleiers in albei hierdie kategorieë. Sedert die begin van 2007 het ons reeds 228 nuwe inskrywings vir die NBI kursus ontvang. Oor die afgelope 15 jaar het meer as 650 kerkleiers reeds die volledige kursus van 6 modules voltooi. Oor die 2700 studente uit meer as 800 verskillende kerke is al in dié tyd geregistreer vir die kursus. In April vanjaar het 61 leiers uit die VGK in die omgewing van Ladysmith (KZN) en Msinga vir die kursus ingeskryf. Hulle doen die kursus onder leiding van 3 predikante wat weekliks vir hulle klasgee om hulle so toe te rus vir die bediening waarmee hulle reeds besig is. Ons het pas ‘n versoek ontvang van die “St John’s Apostoloc Faith Mission” [met miljoene lede], wat die NBI kursus oorweeg vir die opleiding van 6000 van hul leiers.
Die kursus is Bybel-gefundeerd en fokus hoofsaaklik op praktiese vaardighede vir die bediening en leierskap in ‘n gemeente. Daar is bv kursusse oor die prediking, leierskap, kerkadministrasie, jeugwerk, evangelisasie, huwelik- en gesinsberading, rentmeesterskap, sang, eredienste, gemeenskapsontwikkeling, konflikhantering, die kerk se rol mbt Vigs, ens. Die kursus word geakkrediteer deur die Sentrum vir Kontekstuele Bediening van die Universiteit van Pretoria en is definitief van die goedkoopste op die mark. Tans R315 per module (4 vakke per module); vanaf Januarie 2008: R340 per module.
Gemeentes of instansies kan ons uitnooi vir ‘n aanbieding, preekbeurt of uitstalling. Skakelpersoon: Ds Gawie Coetzee (direkteur vir Gauteng); tel & faks 012 567 2078; 0829238536 gawiegc@absamail.co.za


15 Januarie 2008 







No comments yet... Be the first to leave a reply!